Die aanklag van “insubordinasie” – vele kere die noodkreet van ’n swak leier om van kranige ondergeskiktes ontslae te raak – het in die jaar 1702 daartoe gelei dat ’n voorvader van die Van Zyls van die groot landbougroep ZZ2 sy werk as ’n tuinier van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) in die Kaap verloor het.

As ’n tuinier wat gewerk het vanaf die kwekery Rustenburg in die Kaapse woonbuurt wat nou bekend staan as Rondebosch, was Willem van Zyl daarvoor verantwoordelik om duisende boomlanings oral in en om die Kaap aan te plant. Ook baie van die akkerbome op Stellenbosch moes hy met die hand geplant het, voer Louis Changuion aan in sy boek A Farm Called ZZ2.

Nadat Van Zyl sy werk by die VOC verloor het, het hy ’n plaas by Simondium in die vrugbare Franschhoekvallei gaan koop, waar hy met vrugte, groente, wyn en lewende hawe gewoeker het.

Sy vrou, Christina van Loveren, wat in 1699 saam met hom van Nederland na die Kaap gekom het om “nuut te begin”, is die onbewustelike “naamgewer” van die bekende Van Loveren-wynplaas buite Robertson in die Boland. Die Retief-familie, wat deur baie beskou word as die grootste familie-wynprodusent in Suid-Afrika met die Four Cousins-handelsmerk, is afstammelinge van Willem en Christina. Christina se bruidskis word vandag nog uitgestal in die plaas se wynproelokaal.

Van Zyl se afstammelinge het teen 1836 ten tye van die Groot Trek as trekboere noordwaarts getrek. Van die Van Zyls het hulle eindelik teen 1880 in die streek oos van Pietersburg (vandag Polokwane) gevestig. Onafhanklikheid en ’n passie vir die landbou was deurgaans ’n kenmerk van hul geskiedenis.

Tog het die Van Zyls se groot trek nie by Mooketsi tussen Louis Trichardt en Tzaneen geëindig nie. Al is ZZ2 se plase meestal in Limpopo, waar hulle veral tamaties en avokado’s verbou, het die groep ook belange in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Namibië. In groot dele van Suider-Afrika boer hulle met mango’s, uie, dadels, kersies, appels, pere, steenvrugte, amandels en bloubessies, asook met beeste en wild.

ZZ2 se handelsmerk is ’n Suid-Afrikaanse ikoon met ’n trotse geskiedenis wat gekenmerk word deur ’n sterk waarde-aanbieding aan die verbruiker en ekonomiese voordele aan alle belangegroepe. Dit spruit uit nuwe regulasies wat ná die Anglo-Boereoorlog uitgevaardig is om ’n geregistreerde nommer (’n brandmerk vir lewende hawe) aan boere toe te ken.

In 1903 is die kode ZZ2 aan Burt van Zyl, oupa van Bertie van Zyl, die eintlike stigter van die ZZ2-boerdery, gegee. Vier Van Zyls van destyds het die kodes ZZ1 tot ZZ4 gekry. In ’n stadium is die ZZ2-brandysters ook gebruik om die letters op die aartappelsakke met rooi verf te merk voordat dit na die mark geneem is.

Deur die jare het die ZZ2-brandmerk vir vee gemigreer na ’n handelsmerk vir alle produkte van die groep wat vandag internasionale erkenning geniet.

Diep spore op alle vlakke van samelewing

Bertie van Zyl is op 16 November 1932 op die plaas Boekenhoutsbult in die Mooketsivallei gebore. Op die ouderdom van 16 jaar het hy die skool verlaat om die boerderysake by sy verswakte vader te help oorneem. In daardie tyd was dit reeds ’n gemengde boerdery, maar grootliks aartappels is aangeplant. Dit was moeilike tye en die familie kon skaars kop bo water hou.

Bertie het gou besef dat sy buurman veel meer geld maak met tamaties as met aartappels. Die klimaat in die vrugbare Mooketsi-vallei maak dit moontlik om heeljaar tamaties te verbou.

Dit was ’n stryd om sy vader te oortuig, maar sy eerste suksesvolle tamatie-aanplantings is in 1953 geoes. Dit was op ’n hektaar grond, want dit was al wat sy vader hom toegelaat het. Die markprys was goed, toe verdubbel hy die aanplantings. Die prys het geval en hy het nie die infrastruktuur of arbeidskrag gehad om die verdubbeling te hanteer nie. Hy het destyds vertel dat hy toe amper ál sy geld verloor het.

Sedertdien word ZZ2 egter al jare lank as die grootste tamatieboerdery in die Suidelike Halfrond beskou.

Deursettingsvermoë, ’n oog vir sakegeleenthede, sy aanvoeling om met sy werkers in hul moedertaal te praat en ’n onwrikbare geloof in sy eie vermoëns het Bertie deur die jare goed gedien. In 1966 is die ZZ2-groep as ’n private maatskappy geregistreer en teen Bertie se afsterwe in 2005 was ZZ2 ’n multimiljoenrandonderneming.

Hy het ook diep spore gelaat op die openbare terrein – nie net in die landbougemeen- skap nie, maar ook op provinsiale en nasionale vlak. Duisende van sy werkers, asook verskeie kabinetsministers, onder wie die destydse minister van landbou me. Thoko Didiza, het op die begrafnis hulde aan hom gebring – onder meer oor wat die Van Zyls vir opkomende boere in Suid-Afrika gedoen het.

Maak gedurig aanpassings

Deur die jare het die Van Zyls stelselmatig hul produklyne gediversifiseer na avokado’s, uie, steenvrugte en lewende hawe. Dit is waar- skynlik net die reusagtige Westfalia-groep, wat deur die filantroop, geoloog en weten- skaplike Hans Merensky (1871-1952) op sy plaas Westfalia naby Duiwelskloof begin is, wat ZZ2 sal troef met avokadoproduksie. Westfalia, wat deur Hans Merensky Holdings beheer word, is egter eerder ’n korporatiewe groep, terwyl die ZZ2-groep steeds ’n familieboerdery is.

ZZ2 het ook plase by Musina in Limpopo, en verbou appels en pere by Ceres, Riebeek-Wes en in die Langkloof. Van hul sake word met die samewerking van die Dutoitgroep gedoen. Die groep het ook na Eswatini begin uitbrei. Dadels is ’n nuwe gewas wat aangeplant word in die Karas-distrik van Namibië.

Tommie van Zyl, besturende direkteur van ZZ2 wat saam met sy broer, Phile, die sakebelange by hul vader oorgeneem het, sê ZZ2 is voortdurend besig om ondersoek in te stel na hoe hul sake aangepas kan word.

“Ons weeg onsself op en maak vergelykings met die beste ter wêreld. Ons sal ons stelsel aanpas om optimaal in te pas by die omgewing waarin ons leef. Ons is gevestig in Suid-Afrika, maar ook waar dit ekonomies sinvol is in ons buurlande.”

ZZ2 was eers net ’n kommersiële boerdery, maar die groep se filosofie is nou om eerder plase in biome en ekostelsels te omskep en die kennis van omgewings- en natuurtoestande dan bymekaar te bring. Sistemiese denke is daarvoor nodig. Omdat plae kort-kort uitgebreek het, het ZZ2 op groot skaal organies begin boer.

“Ons het gevind dat dit bykans onmoontlik is om met chemikalieë van byvoorbeeld muggies ontslae te raak. Daarom het ons in 1997 ’n insektarium begin waarmee ons insekte gebruik het om parasiete te bestry. Ons het ook bioreservoirs op ál ons plase geskep,” vertel Tommie.

Vir hom was dit ’n lang en veeleisende pad om aan die hoof van ’n besigheid van miljarde rande te staan. Hy sê reguit hy het nie die pos gekry omdat hy die seun van Bertie van Zyl is nie. Hy het homself as kind al probeer leer wat dit verg om suksesvol te boer en sake te doen.

“My pa was ’n streng mens en wou nie gehad het ons moes skoolgaan nie.” Van hul bure en van sy ooms se hulp is ingeroep om sy vader te oortuig dat Tommie nie ná graad 8 die skool moet verlaat “om te kom werk” nie.

Fulbright-beurs

Ná skool het Tommie ’n BCom-graad in ekonomie en landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Nadat hy ’n honneursgraad verwerf het, het hy ’n Fulbright-beurs gekry om ’n meestersgraad in voedsel- en hulpbronekonomie aan die Universiteit van Florida in Amerika te verwerf. Terwyl hy in Amerika was, het hy lidmaat- skap ontvang van die Gamma Sigma Delta- groep, wat hom toespits op die erkenning van prestasies van leiers in die landbou- en verwante wetenskappe.

In 1986 het Tommie teruggekeer na die familieplaas, waar hy as ’n aankoopklerk begin werk het, getrou aan sy pa se filosofie dat almal onder moet begin. In 1992, op die ouderdom van 27 jaar, het hy sekere bestuurstake begin uitvoer.

“Maar ons het ’n baie interessante bestuurstelsel gehad. Ek het ’n titel en die verantwoordelikheid gehad, maar nie noodwendig op daardie tydstip die gesag nie.”

Eers in 2001, toe hulle behoorlike bestuurstrukture ingestel het, het Tommie volle gesag begin kry en aan die direksie verslag gedoen. Dié pa van vier het in 2005 ten volle die leisels oorgeneem. Sy seun, Burtie, het ook in die familietradisie gevolg deur eers as ’n junior projekbestuurder te begin werk voordat hy tot hoofbestuurder van die avokadoboorde gevorder het.

Die ZZ2-bedrywighede by Mooketsi is só omvangryk dat Tommie en van sy bestuurders met ’n helikopter of ligte vliegtuie na die boorde vlieg. Die groep se totale tamatieproduksie, waarvan daar vyf hoofkultivars is, is op koers na 200 000 ton per jaar, terwyl daar op meer as 1 000 hektaar avokado’s gepluk word. Die ZZ2 Afrikado-kwekery (die handelsmerk is ’n samevoeging van “avokado” en “Afrika”) kweek jaarliks 300 000 avokadoboompies.

ZZ2 het 27 verskillende produklyne van appels, pere en steenvrugte. Ook word kersies, amandels, dadels, bloubessies en tamatiesap op groot skaal bemark. Die Van Zyls boer voorts met wild en beeste met die Pinzgauer en die PinZ2yl-stoetery. Die PinZ2yl-bees is ’n ras wat deur ZZ2 geteel is deur die inheemse Nguni-ras te kruisteel met die Pinzgauer, ’n ras oorspronklik van Oostenryk, om laasgenoemde se beste produksiekenmerke (melk en vleis) in te bring.

ZZ2 het verskeie dorpies naby sy plase vir sy werkers gebou. Elke plaas het sy eie kliniek. Daar is ook busdienste vir kinders wat skoolgaan en tientalle crèches.

Aan die begin van 2019 het ZZ2 25 000 mense in diens gehad en ’n jaarlikse omset van R24 miljard.

“Geld beïndruk ons nie juis nie. Sodra jy dink jy is ’n koning, is jy eintlik ’n papaja. Ons word eerder beïndruk deur die waarde van wat ons verbou en die rede vir bestaan wat ons vir baie mense help skep,” sê Tommie.

Hy meen die landbou het ’n blink toekoms in Suid-Afrika, maar omdat die ekonomie onder druk bly, het die groep na supervrugte gediversifiseer. Jacques Dommisse is ’n sakejoernalis en entrepreneur.

Bouers van SA se fortuin

In Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate, ’n nuwe boek deur die oudkoerantredakteur en skrywer Ebbe Dommisse, ontleed hy die bydrae van Afrikaner-magnate tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. In twee van die hoofstukke, geskryf deur sy seun, die joernalis en entrepreneur Jacques Dommisse (foto bo), kom tien van die land se grootste boere aan die beurt.

Hul aanvoeling, entrepreneuriese denkwyse, vooruitskouing, gesonde oordeel en strewe na verbetering lewer alles ’n bydrae, benewens dat hulle ook onderhandelaars, beraders, opvoeders en filantrope is. Hulle wil ’n verskil maak en vooruitgang verseker, en staan reeds jare lank aan die voorpunt van nog ’n nuwe tydvak, die vierde nywerheidsrevolusie, waar hulle reeds leiers in teelmateriaal, die landbouwetenskap en -tegnologie is.

Van die boere sluit in Louis de Kock van Wildeklawer, die Du Toits van die Dutoitgroep, Piet Karsten, Kallie Schoeman, Charl Senekal, Estelle van Reenen, Milaan Thalwitzer, Nick Serfontein en BP Greyling. 

Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate word uitgegee deur Jonathan Ball-uitgewers en kos R310. Landbouweekblad gee drie eksemplare van die boek weg. Stuur jou naam, posadres en selfoonnommer vir aflewering na lbw@landbou.com voor of op Maandag 28 Junie.