"Voortdurende verbetering eerder as ’n grootknal-gebeurtenis.” Dit is mnr. Mark Harris (57) se beskrywing van hoe Langholm Farms daarin geslaag het om hul pynappelproduksie van 800 ton in 1988 tot die huidige 16 000 ton te verhoog.

Deur die jare het Harris ’n aantal bepalende sakebesluite geneem waarvan, volgens hom, die belangrikste was om bereid te wees om vennootskappe aan te gaan. Die samevoeging van hulpbronne in ’n vennootskap, tesame met ’n klem op die verbetering van produksiedoeltreffendheid, het gesorg vir volgehoue groei ondanks die Oos-Kaapse bedryf se oorskakeling van inmaak tot ver- sapping sedert 2008.

Die sleutel tot doeltreffende produksie was die noukeurige beplanning van die gespreide vyf jaar lange groeisiklusse van pynappels van verskillende ouderdomme in ’n jaarlikse tien maande lange pluksiklus van Maart tot Desember. “Dis intensiewe beplanning … vir enigiets wat vir ’n vyfjaarsiklus in die grond gaan (vrugte word twee keer in ’n siklus op 26 tot 30 maande en dan weer 18 tot 20 maande later gepluk) is daar ’n geskeduleerde plukdatum,” verduidelik hy. “Die geheim is om in die siklus te kom en dit dan standvastig te bestuur om winsgewendheid en kontantvloei te verseker, terwyl jy gedurig soek na maniere om koste te verlaag.”

Eerstegeslagboer

Harris het op Welkom in die Vrystaat grootgeword waar albei sy oupas, Bill Harris en Busby Auret, skaggrawers op die goudmyne was. Sy pa, Edward, was ’n homeopaat en Mark is dus nie as kind aan die landbou blootgestel nie. Nogtans het hy in die vroeë 1980’s – na twee jaar se nasionale diensplig – by Cedara-landboukollege ingeskryf, hoewel hy aanvanklik gretig was om ’n kwalifikasie in finansies te verwerf. “Die weermag het my geleer dat ek nie in ’n kantoor wil sit en op ’n rekenaar timmer nie,” sê hy. “Ek het geweet ek wil buite wees.”

’n Loopbaan in die landbou het na ’n aanvaarbare opsie gelyk, ondanks ’n stewige dosis onkunde. “Ek het nie eens geweet wat ’n sak kunsmis was nie. Ek was ’n reg- te dorpskind.”

Harris was egter vasbeslote en nadat hy sy landboudiploma verwerf het, het hy ’n pos as voorligtingsbeampte by die Langeberg- koöperasie naby Oos-Londen in die Oos-Kaap aanvaar. Hier was hy vir twee jaar nóú betrokke by die streek se pynappelbedryf, waar hy waardevolle kennis opgedoen het. “Die foute wat ek gesien het ander mense maak, kon ek systap,” onthou hy. “Daardie twee jaar het my ’n massiewe klomp skoolgeld gespaar.”

Sy tentatiewe toetrede tot die bedryf was toe hy in 1986 sy pa se leefstylplaas van 150 ha naby Bathurst gekoop het. “Ek het geweet die plaas is nie ’n ekonomiese eenheid nie, maar dit was ’n beginpunt, ’n voet in die deur.” Dit was presies hoe dinge verloop het. Kort nadat hy sy eerste 10 ha pynappels (400 000 plante) aangeplant het, het hy begin om sy buurman mnr. Colin Smithers se eiendom te bestuur terwyl dié na sakebelange in Noordwes omgesien het.

Hierdie reëling het gou ontwikkel in ’n suksesvolle gesamentlike onderneming met Smithers, wat 30 jaar ouer as Harris was. “Ons het besluit om ons finansiële hulpbronne, grond en toerusting saam te voeg om volume te verhoog. Jy kan soveel makliker vordering maak in ’n strategiese vennootskap. Maar Colin was ook ’n puik mentor, en omdat ek nie ’n landbou- agtergrond gehad het nie, was dít wat hy my geleer het van onskatbare waarde.”

Mettertyd het hul vennootskap verander tot ’n korporatiewe entiteit bekend as Langholm Farms (Edms.) Bpk., en hoewel Colin drie jaar gelede oorlede is, dien twee van sy seuns steeds in die direksie. Nog ’n betekenisvolle invloed op Harris se loopbaan was sy skoonpa, mnr. Barry Purdon, die grootste Oos-Kaapse produsent van sy tyd en ’n direkte afstammeling van die pynappelpionier mnr. Charles Purdon. “Ek het baie by hom geleer.”

Die verkose versappingskultivar is Smooth Cayenne. Altesaam 16 000 ton word jaarliks op Langholm Farms geproduseer, wat sowat 20% uitmaak van alle vrugte wat deur die Summerpride Foods-versappingsaanleg in Oos-Londen verwerk word.

Van inmaak tot versapping

Teen 1988 het Langholm Farms 800 ton vrugte vir ’n inmaakonderneming in Oos-Londen geproduseer. Alles het glad verloop en daar was geen manier om die katastrofiese gebeure van 2008 te voorsien nie, toe bevind is dat monsters van inmaakvrugte uit die Oos-Kaap kadmiumvlakke hoër as EU-spesifikasies bevat. “Die oomblik toe die eerste houer van Switserland teruggekom het, was alles verby. Die hele bedryf het die uitwerking gevoel.”

Die swaarmetaal is gou verbind met kunsmis wat uit China verkry is. Hoewel sommige kwekers nog nie die kunsmis gebruik het nie, was dit irrelevant omdat die vrugte van diegene wat wel getref is, nodig was om die volumes te verskaf om ’n inmaakbedryf haalbaar te maak. Die oplossing vir die kadmiumdebakel het geblyk die herstrukturering van die bedryf na ’n versappingsinisiatief vir uitvoer te wees nadat bevind is dat deur die vermenging van pynappelsap die EU-spesifikasies maklik nagekom kon word.

Ironies genoeg was die ommeswaai na versapping ’n bedekte seën, aangesien dit ’n winsgewende nismark vir versapte produkte geopen het, met uitgesoekte kliënte wat hulle nie aan die volumegedrewe pryssiklus vir kommoditeite gesteur het nie. Die suksesvolle verskaffing aan hierdie nismark was direk verbind aan die streek se unieke rypvrye mikroklimaat waar dit tussen die land se somer- en winterreëngebiede geleë is. “Ons langer groeiseisoen verseker laer suiker- en hoër suurinhoud, asook ’n sterker geur in vergelyking met pynappels wat nader aan die ewenaar gekweek word. Dit sluit vrugte uit Thailand, Indonesië, Viëtnam en die Karibiese gebied in. Hulle het ’n vinniger groeiseisoen, hoër suikerinhoud en laer suurvlakke, met baie min smaak,” verduidelik hy. “Ons het dus ’n produk wat hulle (internasionale sapvermengers) moet koop om pyn- appelsap meer soos pynappel te laat proe.”

Harris sê navorsing dui daarop dat klimaatsverandering nie die gebied se mikroklimaat drasties sal beïnvloed nie. “As die weerpatrone wel ontvou soos voorspel word, sal ons nie ons nisstatus verloor nie,” sê hy oor die wêreld se mees suidelike pynappelproduserende gebied. “Navorsing toon dat klimaatsverandering tot ons voordeel sal wees, omdat dit hier effens warmer en natter sal wees.” Deesdae produseer die verwerkingsaanleg in Oos-Londen, Summerpride Foods (Edms.) Bpk. – besit deur boere en plaaswerkers – slegs versappingsprodukte afkomstig van 80 000 ton Smooth Cayenne-pynappels jaarliks. Dit sal na verwagting oor sowat twee jaar tot 100 000 ton verhoog.

Soliede grondslag

Bewerkbare grond van goeie gehalte is die deurslaggewende grondslag waarop doeltreffende produksie moet plaasvind, sê Harris. Alle eiendomme wat tans deel is van Langholm Farms is dus noukeurig ondersoek voordat dit gekoop is. “Ons het altyd gekonsentreer op eiendom met die beste persentasie bewerkbare grond ten opsigte van hellings en grondtipes (veral Hutton- en Glenrosa-grond) wat aan ons vereistes voldoen. Mens moet seker maak dat die fondasie waarop jy die gewas gaan plant, so goed as moontlik is.”

Grondvrugbaarheid is dus ook ’n voorrangsaak. Vyf jaar oue plante word platgeslaan om ’n deklaag te vorm teen ’n verhouding van 300 ton tot 500 ton uitgediende pynappelplante per hektaar, wat die koolstofinhoud en organiese materiaal in die grond aansienlik verhoog. Gereelde grondtoetse sorg vir die gerigte toediening van kunsmis en spoorelemente om byvoorbeeld pH- vlakke, suurverhouding en stikstofvlakke te balanseer.

Daar word ook klem daarop gelê om die grond so min as moontlik te versteur wanneer die landerye vir ’n nuwe oes voorberei word; ’n proses wat in twee jaar voltooi word, wat langer as die normale tydperk is “Ons ploeg reeds vir jare nie en gebruik draaiskoffels (rotavators) selektief. Ook word diep skeurbewerking net vir profieldreinering gedoen. Ons kry die meeste van ons werk gedoen met fynkappers, skottelêe en beitelploeë, en die proses word nooit afgejaag nie.”

Harris se sukses met die verhoging van grondvrugbaarheid op Langholm Farms word moontlik die beste geïllustreer deur die prestasie van die oudste landerye. “Ons oorhoofse grondvrugbaarheid het in werklikheid orals verbeter. Ek het landerye hier waarop sedert 1988 geproduseer word. Hul opbrengste is uitstekend; hul grond puik.”

’n Kudde Bonsmaras (200 kommersiële teelkoeie) benut gebiede wat nie vir pynappelproduksie gebruik word nie, terwyl alle plantmateriaal self verkry word aangesien krone van die vrugte verwyder word voordat dit na Oos-Londen vervoer word.

’n Witbord en foto’s van die beplante gebiede op Langholm Farms maak noukeurige beplanning by die sentrale kantoor, weg van die Harris-gesin se woonhuis, moontlik.
Verhoogde meganisasie was ’n belangrike aandrywer in die verbetering van doeltreffendheid op Langholm Farms. Hier is die gemeganiseerde bobemestingseenheid in aksie.

Besnoeiing van insetkoste

Om optimale produksie teen die laagste koste te verseker, vereis sodanige besnoeiing van insetkoste dat dit nie ’n nadelige uitwerking op produksie het nie. Dit kan op verskeie maniere bereik word, onder meer die keuse van waar en wanneer om te plant, aanpassing van plantspasiëring en doeltreffende bemestingtoediening.

Onlangs het Harris egter ook daarin geslaag om insekdoder- en arbeidskoste aansienlik in te kort. ’n Paar jaar gelede het hy die dienste van mnr. Graham Petty, ’n afgetrede entomoloog van die Landbounavorsingsraad, wat deesdae in die nabygeleë Port Alfred bly, begin benut.

Petty het ’n databasis oor plaaslike insekneigings opgebou, onder meer oor die swartmieliekewer en witluis – twee van die belangrikste insekkwessies nadat geplant is. Dit het hom in staat gestel om ’n risiko-ontleding van hoog tot laag saam te stel, wat Harris toelaat om gebiede selektief met insekdoders te behandel eerder as om blindweg te spuit.

Die koste van insekdoders het inderdaad oor die afgelope tien jaar met 70% gedaal, terwyl berokingskoste van die grond ook met 40% ingekort is deur ’n soortgelyke program voor planttyd teen plae soos aalwurms en Scarabaeidae-larwes te volg.

Hoewel Harris 47 personeellede in diens het, onder meer drie bestuurders, is Langholm Farms nou heelwat meer gemeganiseerd as toe Harris sy loopbaan begin het. “Toe ons begin het, het ons 30 ton pynappels per werker per jaar geproduseer. Deesdae is dit 200 ton tot 220 ton.”

Harris erken dat dit teenintuïtief voel om te meganiseer in die lig van die werkloosheidskrisis in land, maar voeg by dat mens alle ondoeltreffendhede moet konfronteer om winsmarges te strek. Meganisasie-oplossings is nie net op lang termyn goedkoper nie, maar bespaar ook tyd. Bobemesting is net een voorbeeld. “Ons bobemestingfunksie was voorheen arbeidsintensief. Ons het daarin geslaag om ’n gemeganiseerde eenheid saam te stel wat basies ’n span van 20 werkers met twee vervang, en die werk word vinniger gedoen.”

Ander voorbeelde sluit in die gebruik van outomatiese sproeiers en doeltreffender oestoerusting. Heelwat moeite word gedoen om grondpaaie te onderhou sodat masjinerie doel- treffend oor sy eiendomme kan beweeg. Dit verseker ook meer vaartbelynde vervoer van 16 000 ton vrugte per seisoen na Oos-Londen met net twee 32 ton-vragmotors.

Die belangrikheid van beleidsekerheid

Volgens mnr. Mark Harris is beleidsekerheid in grondhervormingsprogramme deurslaggewend vir doeltreffende beplanning. “Hou jy aan om te belê of nie? Brei jy uit of nie? Hierdie soort sakebesluite hou verband met beleid. “Uit ’n risikobestuursperspektief moet jy op die oomblik omsigtig en nie bulagtig wees nie, wat ironies juis is wat die land nodig het.”

Die besit van die grond is vir Harris irrelevant solank daar sekuriteit is, soos in die geval van 99-jaar-huurooreenkomste. Grond is bloot ’n produksiemiddel . . . “Ja, jy het die verantwoordelikheid om ’n goeie rentmeester te wees, maar uiteindelik is dit net ’n produksiemiddel.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.