Volgens die Namibiese landboukundige raad se webwerf geld ’n algehele verbod vir die hele Julie op die invoer van uie, botterskorsies, tamaties, kool, pampoen, patats, skorsies, aartappels en beet. Soetrissies, Engelse komkommers, wortels en waatlemoen mag ingevoer word, maar is onderhewig aan kwotas of tariewe.

Die raad sê die doel van die verbod is om plaaslike bemarkingsmeganismes toe te pas en om verbruikers te beskerm “teen produkte wat van onder standaard kan wees en teen voedselsekerheidsrisiko’s”.

Halveer omset

Mnr. Chando Govind, eienaar van King Fresh, ’n groothandelaar en verwerker op die Johannesburgse varsproduktemark, sê hy is gewoond aan sulke ontwrigtings, maar die sluiting kan sy groothandelomset binne dae halveer.

“Tans kan ons onder meer nie aartappels uitvoer na Botswana of Zambië nie. In die afgelope 50 jaar het ons ons besigheid só ingerig dat ons hierdie skokke te bowe kan kom.”

Hy meen die sluiting van die Namibiese grense het beslis ’n uitwerking op produkpryse in Suid-Afrika en dus produsentepryse.

“Die buurlande sluit hul grense om hul eie boere te beskerm.”

Verder noord

Mnr. Yaasin Davids, ’n direkteur van Forty Square, die maatskappy wat die varsprodukteverskaffer Golden Harvest besit, sê dié situasie kan meebring dat Namibiese verbruikers meer as gewoonlik vir vars produkte moet betaal.

“Wanneer die grens sluit, onderhandel groothandelaars in Namibië nie ’n prys volgens die Namibiese produksiekoste vir groente nie. Hulle grond hul prys op die prys op die Kaapse mark, voeg die vervoerkoste van die Kaap tot in Namibië by en verkoop dan nie sommer produkte teen laer as daardie prys nie.”

Hy sê die Namibiese grenssluiting benadeel ook uitvoer na Angola.

“Daar is transitopermitte wat die uitvoerder vanaf Namibiese owerhede moet bekom om die produkte deur Namibië tot in Angola te kry, wat duur en ’n beslommernis is. Daarbenewens, met die regulasies om die verspreiding van Covid-19 te beperk, mag die vragte nie meer op Oshikango van een vragmotor na ’n ander oorgehaak word nie. ’n Enkele drywer moet die vrag van die Kaap tot in Angola vervoer om die kans op oordrag van die virus te beperk. Plaaslike vervoermaatskappye is nie bereid om hierdie risiko te loop nie.”

Doeane-ooreenkoms

Mnr. Lambert Botha, handelsregkenner van HiltonLambert-handelsregpraktisyns, sê die  Suider-Afrikaanse Doane-unie (Sadu) se vryhandelooreenkoms laat grenssluitings toe, maar sulke perke is gegrond op ’n konsensusbeginsel waartoe alle betrokke partye moet instem.

“Indien so ’n konsensus in ’n resolusie vervat kan word sodat daar regsekerheid geskep word, sal daar baie meer duidelikheid wees. So ’n proses sal almal in staat stel om vroegtydig die betrokke bedrywe en boere oor die beperking op die vloei van produkte in te lig. Dit kan die ontwrigting die hoof bied. Die huidige wetsontwerp leen hom egter nie tot sulke vroegtydige ooreenkomste en kommunikasie nie en moet liefs hersien word.”

’n Hersieningsproses van die Sadu-ooreenkoms is ’n paar jaar gelede begin, maar die proses het doodgeloop.