Jou CV is indrukwekkend — jy het onder meer vir Investec, Amazon en Jumia gewerk — en het ’n MBA-graad aan die Universiteit van Oxford in Engeland behaal. Hoe beland ’n boerseun van Barkly-Wes by hierdie gesogte plekke?

Dit is opvallend hoeveel leiers uit die platteland kom. Ek dink dit is omdat plattelandse mense meer op mekaar aangewese is en meer bewus is van waar hulle in die stelsel pas. Die afhanklikheid van ander skep emosionele intelligensie wat in vandag se tye belangrik is. Daar is ook ouskoolwaardes, soos harde werk en deursettingsvermoë, wat jy op die platteland aanleer.

Ek was een van die jongste studente in ’n klas van 330 wat ons MBA aan Oxford gedoen het. Mense vra altyd hoekom ’n MBA en hoekom juis aan Oxford. Oxford het die grootste Afrika-verteenwoordiging in die klas gehad, met meer as 10% van die klas wat van meer as 20 Afrikalande gekom het. Ek wou nog altyd ’n buitelandse perspektief kry, maar ek wou dit veral doen waar ek ’n klomp mense van Afrika kon ontmoet.

Wat het Oxford moontlik gemaak? Akademie is natuurlik belangrik, maar bykomend daartoe was ek baie gelukkig by Investec, wat ’n sterk mentorskapkultuur het. Die maatskappy gaan van die veronderstelling uit dat daar geen einde is aan wat ’n vaardige jong mens kan doen nie. Dit het uitstekend gepas by my grootwordjare, want my pa het ook altyd vir ons gesê ons kan enigiets doen wat ons wou. Hy het ook klem gelê daarop dat ons dinge moet leer doen. Die lekker van die bank was dat ek in die private-ekwiteitespan gewerk het wat besighede in die res van Afrika uitkoop. Alles het dus bymekaargekom vir my doelwit om in Afrika ’n voedselbesigheid te begin.

As deel van my MBA het ek vir Jumia (’n aanlyn markplek) gewerk en ses maande lank in Kenia gewoon. Dit was baie stimulerend. Die maatskappy is dinamies en ingestel op entrepreneurskap. Ek moes sy oorgrensplatform dryf. Ek verstaan dus die probleme om produkte oor grense te skuif in Afrika, of dit nou logistiek of tariewe is.

Mnr. Louis de Kock (links) saam met een van die medestigters van Nile.ag, mnr. Eugene Roodt, tydens ’n besoek aan ’n piesangplaas. Verskeie mense het hulle gewaarsku dat hulle gaan sukkel om piesangs volgens die spesifieke rypheidsgraad aan klante in plattelandse gebiede te verskaf, maar tot dusver is hulle suksesvol daarmee. FOTO’S: VERSKAF

Jou pa is Louis de Kock sr., bekende oopkop- en tegnologies gedrewe groenteboer agter die Wildeklawer-handelsmerk. Wat was sy aandeel in jou sukses? Het jy ander mentors?

Ja, my pa is super-oopkop en dit word weerspieël in die manier waarop hy ons grootgemaak het. Vandat ek kan onthou, het my pa altyd gesê jy móét jou passie vind en dit voluit uitleef. As dit boerdery is, boer; en as dit nié boer is nie, moet dit asseblief nie doen nie. Dit het my altyd ’n gevoel van vryheid gegee dat ek eendag sou kon doen wat ek wou en dat my ouers my ondersteun. My pa het gesê as ons ons passie navolg, sal ons goed vaar. Dit het beslis ’n groot impak gehad.

Ek was gelukkig om verskeie mentors in verskeie stadiums van my lewe te hê. Prof. Mohammad Karaan, wat onlangs oorlede is, was ook ’n groot mentor met die stigting van Nile.ag. Hy word baie gemis.

Het jy altyd geweet jy wil in die varsproduktebedryf werk?

Tydens my toelatingsonderhoud by Oxford het ek gesê ek wil eendag ’n geïntegreerde voedselbesigheid in Afrika bou. Die idee was lank in my agterkop.

As jong seun het ek vakansies hard gewerk op die plaas. Saans het ek gaan groente smous by spazawinkels in Mataleng, ’n township naby ons. Ek was toe maar 13 of 14 jaar oud en het daarmee volgehou tot in my universiteitsvakansies. My pa wou nie hê ek moes so laat uitbly nie – dit was donker, gevaarlik, ek kon skaars bestuur en ek het baie kontant by my gehad – maar ek was heeltemal verslaaf daaraan. Toe ek 17 was, het ek ’n vrag groente van die Kaapse mark laat kom om te smous. Binne ’n paar dae het ek ’n hele interlink vol vars produkte in ’n klein township verkoop. Dit is ongelooflik hoeveel vars produkte mense sal verbruik as hulle net toegang daartoe het en as die gehalte en prys reg is.

Later jare het ek die markte in Uganda platgeloop. Op ’n dag het ek ’n man met ’n groot sak mooi avokado’s onder die tafel teëgekom. Hy het vir my gesê ek moet die avokado’s vat, want hoewel dit in Suid-Afrika baie waardevol is, was die hele sak daar maar net sowat R15 of R20 werd. Op dieselfde mark was uie weer tien keer duurder as in Suid-Afrika. Ek was eintlik geskok en dit het my baie laat nadink. Hier is ’n arm mens wat avokado’s net weggee omdat hy niks daarmee kan doen nie, want die markskakels ontbreek. Daar is strukturele redes, maar ook inligtinggapings. Dit het my laat nadink oor die tipe stelsel wat jy kan ontwikkel om al dié dinge te integreer.

Voedsel was nog altyd vir my interessant. Daar is ook baie sin aan kos. Ek het altyd gesê ek wil eers breë vaardighede opbou (soos by die bank en ’n plek soos Amazon), maar dan wil ek dit op iets sinvols toepas.

In ’n neutedop, wat doen Nile.ag?

Die doel van die besigheid is om as ’n oorgrenshandelsplatform te dien wat voedsel bekostigbaarder en meer bereikbaar in Afrika maak.

Die baanbrekers agter Nile.ag is, van links, mnre. Louis de Kock, Rick Kleinhans en Eugene Roodt. Die eerste vier maande het hulle weens Covid-19 vanuit die spaarkamer in De Kock se ouerhuis op hul plaas gewerk om die onderneming op te bou. Daarna het hulle na Johannesburg verhuis.

Van November 2020 tot Maart vanjaar het julle meer as 5 000 ton vars produkte op die platform verkoop. Hoe het julle dit gedoen?

Ons is net so verbaas daaroor! Die volumes wat ons verlede Desember behaal het, is die volume waarvoor ons vir Desember vanjaar beplan het. Ons sien ook dat die platform kopers behou. As iemand dit eers begin gebruik, hou hy of sy aan daarmee en hul volumes en aantal transaksies neem toe.

In die boek The Upstarts (deur Brad Stone) het dit my nogal getref dat besighede soos Uber en Airbnb nie die eerstes was wat gedoen het wat hulle doen nie. Hulle het verskeie voorgangers gehad, maar hul tydsberekening was beter. Hulle was net op ’n tyd in die mark toe mobiele fone goed genoeg of dataverwerking vinnig genoeg was. Almal anders se idees was reg, maar hulle was net hul tyd vooruit. Ons dink die tyd was ryp en mense was gereed vir ons platform, en ons sien dit in die deelname wat ons kry.

Ons uitgangspunt is om die koek groter te maak. Dit is een ding om te sê jy maak ’n proses doeltreffender, maar dit is eintlik opwindender om oor ’n groter mark met ’n groter reikwydte te praat. Ek dink daar word reeds meer vars produkte verbruik danksy ons oplossings omdat ons vars produkte met ’n lang rakleeftyd teen ’n baie bekostigbare prys in al die plattelandse gebiede kry. Ons het kopers in Thohoyandou, Mahikeng, Kuruman, Kokstad, Mthatha en Kranskop. As jy vars produkte op die regte tyd en teen die regte prys toeganklik maak, word daar op enige plek vragmotors vol verbruik.

Het die Covid-19-pandemie ’n rol gespeel om die aanvaarding van die platform te versnel?

Ongetwyfeld. Almal het meer nagedink oor wat fisieke ruimtes beteken. Daar is ook nagedink oor die nodigheid om rond te beweeg, al dan nie. Dít, tesame met die feit dat baie van die kopers en boere in hul persoon- like hoedanigheid aanlyn inkopies begin doen het, het gehelp.

Ons het aanvanklik gedink dit gaan jong mense onder 35 wees wat die platform gebruik, maar aan kopers- én verkoperskant was dit nie die geval nie. Ek reken as ons die platform vóór Covid-19 bekend gestel het, sou dit baie moeiliker gewees het om die 35-jariges tot 65-jariges betrokke te kry.

Hoekom wil julle eerder geleenthede in Afrika ontgin as elders, waar dit dalk makliker is?

Ons glo die beweging om grense tussen Afrikalande oper te maak, tesame met die verstedeliking wat tans op die vasteland plaasvind en projeksies wat toon produksie in Afrika gaan toeneem, skep ’n reusegeleentheid vir ’n nuwe voedselstelsel. Dit dra ook by tot die nodigheid van verhandeling.

Voedselstelsels is nie nodig as jy net ’n landelike samelewing het nie, want dan is produksie en verbruik by mekaar. As jy egter in ’n stad gaan woon, is jy uitgelewer aan ’n voedselstelsel wat moet werk, anders het jy nie kos nie. Omdat Afrika so vinnig verstedelik en die voedselstelsels nog nie oral behoorlik in werking is nie, glo ons daar gaan groot spronge plaasvind. Dit is ’n openbaring as jy in Oos- en Wes-Afrika kom. Mense koop baie meer op Jumia as in winkelsentrums, want dit is toegankliker. Jy kan net dink hoeveel te meer dit die geval gaan wees oor tien of twintig jaar, veral saam met mobiele geld.

Nadat ek in Kenia gewerk het, is ek Duitsland toe. In Kenia het ek alles met mobiele geld deur my selfoon betaal. Duitsland, ’n ontwikkelde samelewing, is hoofsaaklik kontantgedrewe. Die tegnologie is ook in Duitsland beskikbaar, maar daar is sekere nalatenskapskwessies en infrastruktuur wat in Kenia baie beperk is. Daar is geen rede waarom voedselstelsels nie dieselfde patroon moet volg nie. Voedselstelsels in Afrika hoef nie by ’n fisieke plek te ontwikkel nie.

Dit is opwindend, want in ons leeftyd gaan daar baie veranderinge kom wat voedselstelsels betref. Dit is lekker om te weet jy het ’n geleentheid om deel te wees van die vorming en bestuur van daardie stelsels en dat jy ’n sinvolle bydrae lewer.

Die verhandelingsplatform is gebruikersvriendelik en maklik om op ’n selfoon te gebruik.

Waar in Afrika is julle oral betrokke?

Ons konsentreer vir die volgende ses maande op die lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, maar daarna wil ons by die res van Afrika uitkom. Ons het redelik konkrete maniere in gedagte om dit reg te kry. Ons werk volgens die hub-and-spoke-beginsel en wil knooppunte in sleutelgebiede soos Kaapstad, Durban, Johannesburg, Nairobi en Kenia vestig. Net soos met lughawens, gee dit jou baie opsies om dinge moontlik te maak.

Met tien knooppunte reg oor Afrika het jy eintlik oneindige logistieke opsies. Anders as ’n varsproduktemark waar produkte en kopers byeenkom, dien dit bloot as ’n deurgangsroete. Om ’n voorbeeld te gee van ’n tipiese transaksie: ’n Koper van Mbabane in Eswatini bestel ’n hele reeks vars produkte – appels, piesangs, uie, aartappels en soetrissies – deur die platform. Die appels kom waarskynlik uit die Kaap, die piesangs van Komatipoort, die aartappels en uie uit die sentrale streek en die soetrissies van die noorde af. Daar is drie logistieke maniere om die produkte by hom te kry.

Die eerste is dat die koper die produkte self by die plaashek oplaai, die tweede is direkte versending van die boer af na die koper, en die derde is om alles na ’n knooppunt te stuur waar dit opgelaai kan word, of ons reël sekondêre versending na Mbabane.

Ons werk saam met ’n logistieke aanlyn platform om die logistiek te koördineer. Ons sal waarskynlik uiteindelik met sy stelsels integreer.

Samewerking is dus vir julle belangrik?

Ja, ons glo jy moet altyd die sleutelwaarde bepaal wat jy kan toevoeg: Die terrein van invloed waarmee jy beter is as enigiemand anders. Wat die res betref, werk ons graag saam met kundige vennote, soos ClariFruit wat beeldherkenning gebruik om gehalte te bevestig.

Word dit al makliker om sake in Afrika te doen?

Om in Afrika te belê, moet jy ’n langtermynvisie hê. Danksy die Afrika-vryhandelsooreenkoms raak grense tussen Afrikalande oper. Ja, burokrasie beweeg stadig en dit gaan nie oornag gebeur nie, maar 52 Afrikalande het die ooreenkoms bekragtig.

Daar is twee aspekte aan die ooreenkoms verbonde: Eerstens moet tariewe verlaag word en voorkeurtariewe vir Afrikalande geld, en tweedens moet infrastruktuur, veral oorgrens-infrastruktuur, verbeter.

Watter voordele hou dit vir Suid-Afrikaanse boere in?

Ons grootste enkele beperking hier aan die suidpunt van die vasteland is dat ons nie regtig ’n groot mark naby ons het om aan te lewer nie. Ons is redelik geïsoleer. Kyk na al die ontwikkelende lande wat vinnig groei, soos Mexiko, Thailand en Turkye. Almal is groot ekonomiese sentrums en het vinnige toegang tot markte soos Noord-Amerika (Mexiko), Europa (Turkye) en die res van Asië (Thailand).

Die realiteit is dat Suid-Afrikaanse boere ook mededingender sal moet raak. Sodra jy Afrika betree, ding jy met die hele wêreld mee, onder meer Nederlandse boere wat teen baie lae koste produkte in Afrika lewer. Die tariefvoordeel sal fantasties wees, maar jy sal nog altyd doeltreffend moet kan produseer.

Wat kan Suid-Afrika by die res van Afrika leer?

Mense dink dikwels die res van Afrika is agterlik, maar op digitale vlak is daar al baie in werking gestel wat dit eintlik makliker maak om digitale oplossings daar bekend te stel. Oos-Afrika se e-handel is Suid-Afrika s’n byvoorbeeld ligjare vooruit. Een van die dinge wat dit moontlik maak, is die mobiele geldeenheid. Regeringsregulasies het ’n invloed op hoe vinnig digitalisering plaasvind en die Keniaanse regering was in dié opsig aan die voorpunt. Suid-Afrika kan beslis daaruit leer.

’n Ander aspek is dat kleinboere ’n belangrike deel van produksie bly. Daarom is enige oplossing wat op hulle gemik is, belangrik. My gevoel is dat kontrakprogramme (outgrowers) waarskynlik die beste manier is om landelike gebiede te ontwikkel, want jy het die volume en kundigheid nodig.

Het julle mededinging in Afrika?

Daar is baie markplekke oral, maar nog nie iemand met ’n oorgrensbenadering nie. Die groot verskil tussen ons en die ander is ons vermoë om produkte baie vinnig en doeltreffend te laat beweeg. Eintlik wens ons daar was meer mense wat dit doen, want met tegnologie is dit altyd ’n geval van probeer en leer daaruit en verbeter. Hoe meer mense daaraan werk, hoe vinniger gaan jy agterkom waar die geleenthede is wat werk of nie.

Watter voordele is daar aan jul stelsel?

Vir die boer is daar drie groot voordele: Prysdeursigtigheid, kontantvloei en laer kommissies omdat ons die verhandelingsproses digitaliseer. ’n Boer wat deur die platform verkoop, weet dat hy die volle bedrag vir daardie vrag kry. Hy het ook meer beheer oor die prys. Ons betaal die volgende dag sy geld oor. Dit is ’n groot voordeel vir ’n boer wat ses maande lank aan sy oes werk.

Vir die koper is daar die voordeel dat die produk by hom, of redelik naby aan hom, afgelewer word. Daar is ook ’n groot verskeidenheid produkte en produkspesifikasies op die platform – ’n koper kan selfs volgens ’n spesifieke rypheidsgraad bestel.

Gerief is ’n ander voordeel. Indien daar ’n dispuut ontstaan, probeer ons dit eers self oplos, anders word Prokon ingeroep om as arbiter op te tree.

Is dit nie baie moeilik om vars produkte te digitaliseer nie?

By Amazon Go, waar ek gewerk het voordat ons met Nile.ag begin het, was ek verantwoordelik vir vars produkte binne die winkels. Amazon Go is al in 2016 bekend gestel, maar Amazon Go Grocery, wat vars produkte is, is eers vier jaar later bekend gestel. Dit is hoe lank dit die maatskappy gekos het om te ontsyfer hoe om met vars produkte te werk. Dit is maklik om ’n blikkie koeldrank met beeldherkenning en sensors te eien, maar dit is moeilik met ’n appel of ’n peer, want nie een lyk presies dieselfde nie.

Amazon Go is geriefswinkels in Amerika en Brittanje wat deels geoutomatiseer is danksy die gebruik van gevorderde tegnologie. Die winkels het byvoorbeeld nie kassiere nie, maar stasies waar mense self hul produkte kan uitteken.

Die een ding wat ons gehelp het, is dat Suid-Afrika ’n baie goeie klassifikasiestelsel het wat bepaal tot watter klas of graad ’n vrug hoort. Daar is dus ’n mate van standaardisering en ons moes ’n platform bou wat by hierdie spesifikasies aanpas. Jy moet al die nuanses in ag neem sodat die koper presies weet wat hy kry. Gehalteverifiëring moet ná die tyd gedoen kan word.

Suid-Afrika het gelukkig ook ’n klompie boere met bekende en gevestigde handelsmerke. Bykomend tot die spesifikasie is die handelsmerk ’n verdere verbintenis met die produk. Ons laai ook foto’s saam met die produk.

Hoe skep julle vertroue, want dit is sekerlik een van die boustene van ’n suksesvolle aanlyn mark?

Jack Ma van Alibaba sê altyd markplekke gaan oor vertroue. Dit is die ekostelsels rondom die platform wat die vertroue skep. Een daarvan is geld. Almal is altyd bekommerd dat hulle geld gaan verloor. Aanvanklik het ons met ’n eksterne dokumentedepositorekening (escrow) van Standard Bank gewerk. As ’n bestelling geplaas word, betaal die koper die geld in dié gerief en eers wanneer die koper bevestig dat die produk afgelewer is, word dit aan die verkoper uitbetaal. Vandag het ons ons eie dokumentedepositorekening.

Die groot beginsel is dat die geld verskuldig aan ’n verkoper altyd vooraf seker moet wees. In ’n kontanttransaksie word die geld aan ons oorbetaal en vir ’n krediettransaksie (tipies vir groot korporatiewe klante, soos Massmart en Bidvest) neem ons kredietversekering uit.

Dit is vir ons ’n pluimpie dat van die groot korporatiewe besighede al aangedui het dat Nile.ag hul voorkeurbron van vars produkte is. Stadig maar seker wen jy dus mense se vertroue.

Watter toekomsneigings voorsien jy?

Kunsmatige intelligensie (AI) binne die landbou gaan Europa se produksiekoste verlaag. Vir hulle is arbeid ongelooflik duur (mense werk vir sowat R200 tot R300 per uur), en hulle kan dit nou toenemend met goedkoper AI-tipe oplossings vervang.

In Suid-Afrika sal boere ’n langtermynsiening oor AI moet hê. Op kort termyn maak dit waarskynlik nie sin nie, maar ons sal moet bybly met die versnelling. Saam met AI kom daar nie net die funksie wat die werktuig verrig nie, maar ook die data wat dit versamel en die insigte wat dit vir jou besigheid kan bied.

Dink maar aan die tipiese connected farms waar baie toestelle met mekaar praat en data sinvol aanwend. Tans funksioneer baie daarvan nog in afsondering, maar dit gaan nie vir altyd so wees nie.

NAVRAE: Mnr. Louis de Kock, e-pos: louis@nile.ag; web: www.nile.ag