Die boerdery lewer jaarliks sowat 38 000 ton aartappels vir die varsproduktemark, 7 000 ton moere vir eie gebruik en ander kommersiële boere, 20 000 ton uie en 3 700 ton botterskorsies.

CT se oupa, Theuns, moes die inkomste uit ’n klein stukkie grond by Dendron met ’n kafee aanvul. Sy pa, Carl, het dit uitgebou met klipharde werk, die ontwikkeling van plase, net drie tot vier uur se slaap per nag – en dikwels sommer in die bakkie omdat die sproeiers kort-kort verskuif moes word.

Toe CT die boerderyleisels oorneem, het dit egter nie net in sy skoot geval nie. Dit was na aanleiding van ’n noukeurige brief waarin hy sy planne oor groei en volhoubaarheid uiteengesit het, onder meer ’n nuwe reklamebenadering, volledige standaardbedryfsprosedures, deeglike prestasie-evaluering en die toepassing van tegnologie om mense meer doeltreffend te benut, wat die knoop vir sy pa deurgehaak het.

Op al die plase aanvaar almal – selfs op grondvlak – verantwoordelikheid vir vooruitgang. Gevolglik word na al die AL 3-plaasbestuurders as boere verwys, en die plase word as vennootskappe bestuur. Elkeen boer dus vir sy eie deel van die wins. Dié model word sover moontlik tot op grondvlak toegepas.

Grondgesondheid is ’n saak van erns, en CT sê hul eerste verantwoordelikheid is teenoor die grond. Al tien jaar gelede het AL 3 begin kyk na die afname in opbrengste ondanks tradisionele kunsmistoediening. Maniere om produktiwiteit en grondgehalte te verbeter het hulle by die Albrecht-stelsel vir grondvrugbaarheid uitgebring – en die uitpakpersentasies getuig van die sukses van die stelsel.

Verlede jaar het hulle ernstig na die mikrobiologie van hul grond gekyk en net twee derdes van die gewone hoeveelheid stikstof toegedien, die helfte van die kalium en fosfaat – en ’n baie beter oes as in die verlede behaal, met 63% van die AL 3-handelsmerk se hoogste graad aartappels. Die vorige gemiddelde was 45%.

Hulle soek voortdurend maniere om te verbeter – een so ’n voorbeeld is ’n spesiaal ontwerpte skoen vir hul planter wat aartappels in verspringende rye plant sodat dit nie ’n reguit lyn vorm nie. Dié plantmetode gee vir hulle meer mediumgroot aartappels.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.