Klante maak ’n skenking deur gedurende Mei spesifieke produkte van die veldtog se vennote te koop. Food Lover’s Market sal dan R0,85 van die produk se prys gebruik om ’n maaltyd te verskaf aan iemand wat dit nodig het. Food Lover’s Market sal ook 1% van sy totale omset op 28 Mei aan die veldtog skenk.

Die doelwit is om die geld wat deur die veldtog ingesamel word, te gebruik om uiteindelik ’n miljoen maaltye aan behoeftiges te voorsien. Die veldtog wil ook die struikelblokke van arm mense in Suid-Afrika in die kollig te plaas – veral aangesien hulle weens die Covid-19-pandemie nog kwesbaarder is.

Die volgende produkte kan gekoop word om ’n skenking aan die veldtog te maak:

·      Tru-Cape se 1,5 kg-Econopak appels en pere. 

·      ZZ2 se 6 kg-sakke tamaties. 

·      Simpl Juice se 1,5 liter-sappe. 

·      Westfalia-avokado’s. 

·      Crestshelf se 7 kg-sakke aartappels.

Me. Kate Marais van Food Lover’s Market sê met verlede jaar se veldtog is meer as R820 000 ingesamel, wat gebruik is om meer as 914 000 maaltye te verskaf. “Ons hoop om die veldtog se impak vanjaar te vergroot. Weens die Covid-19-pandemie en die gevolglike toename in die aantal behoeftige gesinne is hierdie veldtog veral nou relevant en noodsaaklik in ons gemeenskappe.”

Marais sê daar is tans sowat 14 miljoen Suid-Afrikaners wat aan hongersnood ly, en ’n bykomende 14 miljoen wat moontlik binnekort hierby gevoeg kan word. “Ons moedig ons klante aan om ons te help om dié getalle te verminder.”

Mnr. Andy du Plessis, besturende direkteur by FoodForward SA, sê vanjaar se veldtog gee hulle die geleentheid om hongersnood in Suid-Afrika op ’n strategiese wyse aan te pak. “Met meer mense as ooit tevore wat nie weet waar hul volgende maaltyd vandaan kom nie, is dit noodsaaklik dat ons verseker dat Suid-Afrikaners die voedsel en voeding wat hulle nodig het, moet kry.

“Ons bied verbruikers nou nie net die geleentheid om met FoodForward SA kontak te maak en meer oor ons werk te leer nie, maar om ook self betrokke te raak en deel van die oplossing te wees.”  

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê weens die Covid-19-pandemie is dit veral belangrik om te verseker dat mense die nodige voedingstowwe inneem om hul immuniteitstelsels sterk te hou. “Appels en pere bevat verskeie voedingstowwe met gesondheidsvoordele. Hierdie veldtog dra by tot die gesondheid van ons land se kwesbaarste inwoners. Ons by Tru-Cape is trots om weer een van die veldtog se vennote te wees.”

PayFoodForward logo
#PayFoodForward