Só sê mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, nadat pres. Cyril Ramaphosa gisteraand (op 11 Januarie) die drankverbod ingevolge Covid-19-inperkingsregulasies met minstens nog ’n maand verleng het.

“Hierdie vierde verbod gaan die spreekwoordelike spyker in die doodskis vir talle wynverwante besighede beteken. Die wynbedryf is in ’n benarde posisie vanuit ’n ekonomiese en werkskeppingsoogpunt.”

Vooruitskattings wat verlede jaar gedoen is, het getoon 60-80 wynkelders kan sluit en sowat 22 000 mense in die bedryf kan hul werk verloor weens die vorige opskortings van drankverkope.

“Die huidige verbod sal hierdie syfers vererger. Die bedryf het met groot kontantvloeiprobleme te kampe – regdeur die waardeketting.”

Die bedryf het tans voorraad van 640 miljoen liter wyn. Dit verteenwoordig sowat 65% van ’n gewone oes. Dit hou ’n groot risiko in vir vanjaar se oes, met oestyd wat na verwagting volgende week (die week van 18 Januarie) begin, sê Basson.

“Die huidige verbod van sewe weke (28 Desember tot 15 Februarie) kan ’n verdere 45 miljoen liter by die voorraadvlak voeg.”

Boonop het onwettige handel behoorlik vlamgevat, en neem dit steeds toe.

Vinpro win tans regsadvies in oor die verbod op plaaslike wynverkope, spesifiek oor die gebrek aan konsultasie deur die regering en met die klem op die bedryf se situasie.

“Sodra ons die regsmening ontvang en alle opsies oorweeg het, sal die Vinpro-direksie die volgende stappe bepaal om in die beste belang van ál sy lede op te tree.”

Intussen het Agri Wes-Kaap ook sy teleurstelling uitgespreek omdat die regering nie ’n gedifferensieerde benadering ten opsigte van alkoholverkope gevolg het nie.

“Die landbousektor trek aan die kortste end oor die gedrag van die breë publiek. Sedert die nasionale inperking verlede Maart afgekondig is, het die regering baie tyd gehad om op ’n moontlike tweede golf van besmettings voor te berei. Dit is irrasioneel dat ’n bedryf wat ’n belangrike werkskepper en verdiener van buitelandse valuta is, nou die spit moet afbyt.”