Danksy navorsing en proewe wat in die nabye toekoms begin, sal avokadokwekers binnekort hul aanplantings en produksie baie vinniger kan uitbrei. Die Queensland Alliance for Agriculture and Food Innovation (QAAFI) in Australië doen dié navorsing en het ’n nuwe tegniek ontwikkel om avokadobome vinniger en beter te laat dra. Dit maak gebruik van weefselkulture pleks van steggies om nuwe bome op groot skaal te kweek.

Dié werk takel die wêreldwye tekort aan avokadobome, wat die uitbreiding van die avokadobedryf in Queensland ook striem. Volgens prof. Neena Mitter wag sommige kwekers tot drie jaar voor hulle nuwe bome kan aanplant weens beperkte beskikbaarheid.

“Tans volg die avokadobedryf dieselfde proses van die afgelope 40 jaar om nuwe bome te verskaf, naamlik om steggies van goeie bome te gebruik. “Dit duur 18 maande vir die steggie om wortel te skiet, en dan kry jy net een plant van een steggie,” sê Mitter. 

Die nuwe manier

Die nuwe tegniek gebruik ’n klein stukkie van ’n steggie van ’n volwasse boom in ’n weefselkultuurstelsel om die proses vinniger te laat geskied.

“Ons kan die steggie binne ses to agt maande laat wortel skiet. Daarby kan 500 plante van een steggie kry pleks van net een. Daar is geen genetiese modifikasie nie. Daar is geen verandering nie. Dis dieselfde steggie van dieselfde boom. Al wat ons gedoen het, is om ideale toestande daarvoor te skep. Dis nie net die voorraad plante wat sal toeneem nie. Ons sal ook hoëdigtheidaanplantings kan doen omdat ons eenvorminge plante kan verskaf,” sê Mitter.

Dít skep die geleentheid om plante op te lei en meganies te oes, soos met appels. Dit was nog nooit moontlik met avokado’s nie omdat die plante nie eenvormig was nie.

“Ons kan sowat 20 000 plante in ’n kamer van 10 m² kweek. Jy kan jou dus indink hoeveel ’n mens bespaar ten opsigte van grond, bemesting en die gebruik van plaagdoders. Dis ’n omgewingsvolhoubare en doeltreffende vermeerderingsmetode.”

In die toekoms sal die nuwe stelsel ook aangepas kan word om ander boomtekorte te takel, soos in die geval van makadamianeute en mango’s.

Plaaslike bedryf groei

Die plaaslike avokadobedryf geniet tans goeie groei. Volgens mnr. Derek Donkin van die bedryfsliggaam Subtrop is daar tans sowat 17 000 ha van dié gewas aangeplant. Dít neem elke jaar met sowat 1 000 ha toe.

Vanjaar se oes sal na verwagting 125 000 ton beloop, wat 8 000 ton meer is as verlede jaar en bo die afgelope vyf jaar se gemiddelde van 118 000 ton is. Altesaam 50% hiervan word uitgevoer, 40% is vir die plaaslike mark en 10% word verwerk vir voedselprodukte, soos guacamole en avokado-olie.

Daar is sowat 340 kommersiële en byna 80 ontluikende kwekers in die land. Suid-Afrika is tradisioneel een van die drie voorste avokado-uitvoerlande ter wêreld. Die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging werk tans saam met die Regering om toegang tot nuwe markte, soos China, Amerika, Japan en Suid-Korea, te bekom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.