’n Vriend van ’n Gabriëlskloof-werknemer het onlangs aan hom die bottel, met ’n Gabriëlskloof Syrah-etiket daarop, gegee. Dit is egter die verkeerde botteltipe en ook nie Gabriëlskloof se wyn in die bottel nie.

“Dit is baie moeilik om te verklaar presies waar die wyn vandaan kom of hoeveel wyn valslik onder ons etikette verkoop word, want daar is nie ’n reeksnommer of seël op die bottel nie. Ons kan nie die wyn op enige manier naspeur nie. Die punt is, dis nie ons wyn in daardie bottel nie en ook nie ons wyn wat tydens die grendeltyd op die swartmark verkoop word nie,” sê Finlayson.

Hy sê hoewel hulle nie saamstem met die alkoholverbod nie, is hulle wetsgehoorsaam en sal nie ’n enkele bottel wyn plaaslik verkoop nie.

“Daar is wel ’n skerp toename in misdadige aktiwiteite rondom wyn. Ons glo as daar nie ’n verbod nie, sou mense nie nodig gehad het om op onderduimse wyse wyn in die hande te kry nie. Mense sou dalk meer vrae gevra het oor die wyn voor hulle dit gekoop het.”

Uiters bekommerd

Hy sê hulle is uiters bekommerd oor wat dié voorval vir hul handelsmerk se reputasie kan beteken. Hulle probeer dus die boodskap wyd en syd op sosiale media verkondig om mense bewus te maak van die nagemaakte Gabriëlskloof-wyn wat die ronde doen.

“Dit het ons die grootste deel van 20 jaar gekos om ons handelsmerk op te bou, dikwels onder baie moeilike omstandighede. Al wat dit kos, is een bottel van iets wat baie duidelik nie Gabriëlskloof is nie, om dit ongedaan te maak,” het hy op die wynlandgoed se Instagram-bladsy geskryf.

Finlayson doen ’n beroep op almal wat vir die wynbedryf omgee, om nie wyn van onwettige bronne te koop nie. “As iemand nog vervalste wyn raakloop, kontak ons asseblief.”

Hy sê die vervalste rooiwyn is in ’n klaret-bottel, terwyl hul Syrah in ‘n Boergondiese bottel verpak word. Die ware Jakob word met ’n metaalkapsule geseël, terwyl die nagemaakte een ’n wasseël het. Boonop het die swartmarkwyn ’n ou etiket (uit 2016), terwyl Gabriëlskloof se Syrah 2018 tans op die mark is.

Finlayson vermoed die wynetikette is dalk uit hul pakkamer gesteel.

“Dis ou etikette – uit die 2016-oesjaar – en ons 2018-oesjaar is tans op die mark. Ons probeer uitvind hoe die etikette in die vervalsers se hande beland het, maar dis nie maklik nie. Ons het ook geen idee hoeveel nagemaakte Gabriëlskloof-wyn daar in omloop is nie.”

Aanhangers van Gabriëlskloof het hul skok en ongeloof op Instagram uitgespreek oor die vervalsing. Talle van hulle hoop die skuldiges ry aan die pen, terwyl ander meen dis ’n regstreekse gevolg van die alkoholverbod en dat dié onderduimse bedrywighede selfs ná die verbod sal voortduur.