Basson het deelgeneem aan ’n paneelbespreking tydens ’n Nasie in Gesprek-sessie op vanjaar se Nampo Kaap op Bredasdorp. Tydens dié paneelbespreking is uitgewys dat verskeie wynboere reeds besluit het om wingerd uit te haal en veral bessies, neute en sitrus aan te plant.

Tydens ’n opname wat in 2018 deur die Wes-Kaapse regering gedoen is, is bevind dat die oppervlakte onder wingerd in die provinsie van 2013 tot 2017 met 15,6% gekrimp het. In dié tydperk het die aanplanting van bessies, neute en sitrus met onderskeidelik 40,5%, 39,1% en 76,2% gestyg. Die gebied onder wingerd het veral by Stellenbosch, in die Swartland en in die distriksmunisipaliteit Drakenstein gekrimp.

In 2017 was sowat 800 ha onder bessies (meestal bloubessies). Sowat 41% van dié bloubessies was onder skadunette. Nartjies en lemoene was die gewildste sitrussoorte in die Wes-Kaap met 6 000 ha onder nartjies en 8 000 ha onder lemoene. Sowat 1 200 ha was onder neute.

Luidens ’n verslag wat ná hierdie opname opgestel is, het die pryse vir ’n ton wyndruiwe en sitrus aansienlik gestyg van die 2004-’05-boekjaar tot die 2016-’17-boekjaar. In die 2004-’05-boekjaar is gemiddeld R2 000/t vir wyndruiwe en R4 000/t vir sitrus betaal. In die 2016-’17-boekjaar het die gemiddelde prys vir ’n ton sagtesitrus tot sowat R13 000/t gestyg, terwyl die gemiddelde prys vir wyndruiwe met tot R6 000/t gestyg het.

Mnr. Phillip Retief, uitvoerende hoof van Van Loveren en ondervoorsitter van Vinpro, wat ook aan dié bespreking deelgeneem het, het gesê die nuwe generasie wynboere het begin kyk na die neigings in die landboubedryf en gesien dat boere wat diversifiseer, se opbrengs veel hoër is. “Daar het oor die afgelope 10 jaar ’n verandering in die bedryf plaasgevind. Jaarliks gaan 4% tot 5% van die wingerde verlore omdat boere hul boerderye diversifiseer. Ons is nie seker of dit ’n neiging is wat in die toekoms gaan voortduur nie.”

Hy het gesê daar is nog heelwat grond in die Wes-Kaap beskikbaar, maar daar is ’n tekort aan water. “Dit plaas ’n beperking op die uitbreiding wat met vrugte en tafeldruiwe gedoen kan word. Individuele boere moet hulself vra waarmee hulle die beste opbrengs op lang termyn gaan kry met die beskikbare grond en water.”

Mnr. Anton Smuts, produsent en voorsitter van Vinpro, het gesê die basislyn wys dat daar ’n opwaartse kurwe in die wynbedryf gaan kom, terwyl die sitrusbedryf op ’n stadium sal stabiliseer. “Die hoë pryse en inkomste by die plaashek is aanloklik, maar daar is ’n maksimum vlak wat hierdie dinge kan bereik. ’n Mens moet ook seker maak dat jou sitrusbome nie meer water as jou wingerd gebruik nie.”

Basson het gesê die feit dat die oppervlakte onder wingerd sedert 2013 van 99 000 ha tot 93 000 ha gekrimp het, is nie noodwendig gelykstaande aan ’n afname in produksie nie. “Die nuwe hektare wat beplant word, is vry van skadelike virusse en nuwe tegnologie lei tot hoër opbrengste. Die kultivars wat aangeplant word, is droogtebestand. Die einddoel van die huidige aanplantings is om ’n markgerigte benadering te volg.”

Volgens die SA Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) sal die produksie van wyndruiwe van 2017 tot 2022 met 2,8% verminder, wat beteken dat 180 miljoen liter wyn minder geproduseer sal word. Sawis voorspel ook dat die oppervlakte onder wingerd van 2019 tot 2023 met 1,8% sal verminder.

Basson het gesê die kleiner oppervlakte onder wingerd lei op kort termyn tot ’n balansering in voorraadvlakke, buiten met sekere kultivars waar daar tekorte ontstaan. Dit dra by tot ’n opwaartse neiging in die prys van druiwe en wyn. “Die bedryf gaan kleiner wees in volume, maar heelwat groter in waarde.”

Hy het gesê dat diversifikasie nie uniek aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf is nie en kan lei tot die beter benutting van hulpbronne en ’n meer volhoubare landbou-omgewing skep. “Dit is ’n baie logiese besluit om byvoorbeeld sitrus en wyndruiwe te kombineer omdat wyndruiwe van Februarie tot April geoes word en sitrus van Mei tot September. Die arbeid op die plaas word dan vir 8 maande pleks van 3 maande benut.”

Basson het gesê die verwagte hoër pryse van wyndruiwe gee boere ’n rede om weer wyndruiwe aan te plant en dat daar reeds ’n wesenlike vraag na wyndruiwe is. “Ná ’n laagtepunt in droogtejare waar net meer as 1 000 ha wingerd aangeplant is, sal in 2019 waarskynlik 2 500 ha en in 2020 ongeveer 4 000 ha aangeplant word.”

Hy het gesê projekte soos die Old Vine-projek is ’n voorbeeld van ’n projek wat produsente aanmoedig om nie hul ou wingerde uit te haal nie.

Kontak mnr. André Morgenthal by andre@oldvineproject.co.za vir nog inligting oor die Old Vine-projek.