Die maatskappy wil sy groeiende markaandeel in die Wes-Kaap uitbrei met ’n pakhuis-en-verspreidingsaanleg met 3 500 m2 vloerspasie vir voorraad van chemiese produkte.

Ongeag die voortslepende politieke en ekonomiese onsekerhede en die probleme wat klimaatsverandering bring, is mnr. Dan Hennessy, uitvoerende hoof van Villa Suid-Afrika en vise-president van Land O’Lakes, die Amerikaanse insetverskaffer wat ’n meerderheidsaandeel van Villa besit, vasbeslote dat hierdie nie die maatskappy se laaste belegging in infrastruktuur in Suid-Afrika sal wees nie. “Ons sien groot potensiaal vir groei in die Suid-Afrikaanse landbou. Dit is ’n dinamiese landbougemeenskap wat oor eeue heen bewys het dat hy kan floreer ondanks die grootste probleme, hetsy dit polities, natuurlik of ekonomies van aard is.”

Die nuwe perseel van Villa is in Desember 2019 voltooi en op 3 Maart 2020 aan sy kliënte bekend gestel. Dit is op ’n erf van 1,1 ha in die Zandwyk-besigheidspark net buite die Paarl gebou en huisves ook sy nuwe kantoor. “Hierdie opbergplek en kantoor is soveel die boere s’n as wat dit Villa s’n is. Produkte is ons besigheid en hierdie aanleg stel ons in staat om die gehalte en voorraad van al ons produkte te verseker,” sê mnr. Marius Boshoff,  bestuurder van Villa in die Kaap-streek en bemarkingshoof van Villa Suid-Afrika.

Opleiding en navorsing

Villa se belegging in opleiding het tegelykertyd ’n groot inspuiting gekry. By die openingsgeleentheid het Boshoff bekend gemaak dat prof. Nick Kotze, voorsitter van die departement landboukunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), ook die leerstoel vir gewasgesondheid by die US sal inneem. Hierdie leerstoel is ’n samewerkingsooreenkoms tussen die US se departement landboukunde, en Villa en die Villa Akademie. Villa het R10,5 miljoen vir die projek bewillig.

“Hierdie leerstoel se navorsing sal deur die bedryf se behoeftes gerig word. Van die geld sal aangewend word om finansiële ondersteuning aan studente te verskaf, asook vaardigheidsontwikkeling vir werkers en kundiges in die landbousektor. Die Villa Akademie het oor die afgelope sewe jaar bewys dat die model goed werk. Hierdie samewerkingsooreenkoms kan ook ’n oplossing bring vir die broodnodige opleiding in vlakke 1 tot 4 van die nasionale kwalifikasieraamwerk (NQF),” sê Kotze.