Enkele weke ná dié profetiese woorde van mnr. Jaco Oosthuizen van die RSA-groep op ’n sake-ontbyt van die varsprodukte-bemarkingsvereniging het mnr. Donovan Lewis, handelsmerkbestuurder by Maluma Avokado, die Viavi-avokado op vanjaar se Maluma-simposium bekend gestel. Onder dié nuwe handelsnaam vind Suid-Afrika se eie Maluma hom nou in die geselskap van produkte soos Pink Lady-appels en ClemenGold-naartjies.

Nie elke Maluma kan ’n Viavi genoem word nie. Net vrugte wat deur Maluma gesertifiseer is en aan dié nuwe handelsmerk se streng verpakkings- en rypmaakprotokolle voldoen, kan as Viavi bemark word. Maluma se plaaslike rypmakers, Nova Sun, gaan die gehalte-beheer toepas vir Viavi-avokado’s wat van vanjaar af eksklusief by Woolworths-winkels beskikbaar sal wees.

Soos met Nadorkot-mandaryne wat as ClemenGold bemark word, en Cripps Pink as Pink Lady sal uitgesoekte Malumas as Viavi-avokado’s bemark word.

“Ons het besluit om die bestaande Maluma-handelsmerk se klem op die produksie van Maluma-avokado’s te hou en om dit as die voerkanaal vir gehalteprodukte aan die nuwe handelsmerk te bestuur. Maluma sal dus die Hass-tipe kultivar wees, wat steeds in winkels as Hass of Maluma Hass verkoop sal word. Maluma-gesertifiseerd is  ’n tweedevlakproduk. Dit is die handelsmerk wat die kultivar, verpakkings en rypmaakprotokolle verteenwoordig,” sê Lewis.

Mnr. Simon Tattersall van Afrupro het vroeër op die simposium verduidelik dat Maluma sy eie protokolle het wat gevolg moet word vir optimale resultate met dié kultivar.

Op die derde en hoogste vlak van dié handelsmerk-piramide is Viavi, die room van die oes. Dit sal die handelsmerk wees wat die verbruiker in Woolworths teëkom.

Die naam Viavi is afgelei van luaviavi, die woord vir verkleurmannetjie in Venda, waar die Maluma oorspronklik vandaan kom. “Die naam verteenwoordig die donker skil wat tydens die rypmaakproses verkleur van groen tot diep pers of swart en nes ’n verkleurmannetjie aanpas by sy omgewing,” verduidelik Lewis.

Maluma avokado
Mnr. Donovan Lewis, handelsmerkbestuurder by Maluma Avokado, saam met die sjef me. Izelle Hoffman en mee. Inge Liebenberg en Nicole Lambrou van Brand Cartel. Foto: Jasper Raats

Nederland

In Europa sal Viavi ook as handelsmerk op die winkelrakke pronk danksy ’n vennootskap tussen Maluma en Yex, ’n Nederlandse vrugtemaatskappy.

Boonop gaan die handelsmerk plaaslik ondersteun word deur me. Izelle Hoffman, skrywer van die boek Mindful Eating. Die skakelmaatskappy Brand Cartel is aangestel om Viavi te bemark.

“Ons is baie opgewonde hieroor,” sê mnr. Zander Ernst van Allesbeste, die boerdery wat Maluma as kultivar en handelsmerk gevestig het oor die afgelope twee dekades. “Boere wat van die begin af aan die Maluma-kwekersgroep behoort, is outomaties deel van die Viavi-‘klub’, maar ons verwag dat ander kwekers wat tans Maluma aanplant, ook sal wil aansluit en deel in die voordele van ’n verbruikergerigte kultivar-handelsmerk.”