Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, hang daar nog vraagtekens oor handelsure, die verspreiding, vervoer en aflewering van drank, lisensies, aanlyn verkope en handel in brandpunte (gebiede met meer as 5 Covid-19-pasiënte per 100 000 mense).

“Daar is ’n klompie besonderhede waaroor duidelikheid gekry moet word, sodat ons weet wat ons gekry het. Ek hoop dit word teen Woensdag aangekondig.”

Ramaphosa het gesê die dae en ure waartydens drank verkoop mag word, sal beperk word. Die drankbedryf se taakspan het ’n teenvoorstel hieroor ingedien.

“Ons het van die begin af gesê handelsure, -dae en afsetpunte moenie beperk word nie. Ons het in lande soos Indië gesien dit lei tot ’n stormloop.”

Tans wil die regering net sowat 50% van die handelsure en -dae toelaat.

“Indien ons net vier besigheidsdae toegelaat word om drank te verkoop, het ons ’n teenvoorstel gemaak dat dit minstens vier dae met normale ure moet wees.”

Sogenoemde binneverbruikbesigheid (waar alkohol op die perseel van aankope verbruik word) word nie toegelaat nie. “Die meeste kelders het buiteverbruiklisensies, maar daar is tavernes wie se lisensies omgeskakel moet word.”

Hy vermoed voorraadvlakke by kleinhandelaars is tans laag.

“Ons weet 1 Junie is die datum waarop sake kan voortgaan, maar ons hoop om drie tot vier dae voor die tyd te kry om na bestellings en aflewerings te kyk.”

Basson sê hulle versoek steeds dat e-handel en “klik en gaan haal” onder vlak 4-regulasies moet voortgaan.

Hy het ’n beroep op die bedryf gedoen om die ingewikkeldheid van die saak te verstaan en begrip te hê vir die gefaseerde benadering.

“Ons is gereed om sake te doen en al die nodige protokolle is gereed. As bedryf moet ons ons kant bring en verantwoordelik wees.”