Amerika se voedsel-en-medisyne-administrasie het dit onlangs verpligtend gemaak dat alle amandels wat Amerika invoer, gepasteuriseer moet wees.

Met die verwagting dat sulke maatreëls ook op ander neute en in ander uitvoerbestemmings van krag sal word, het GFNC, een van Suid-Afrika se grootste makadamiaverwerkers en -uitvoerders, in tegnologie van die Switserse maatskappy Napasol belê om makadamianeute te pasteuriseer.

Mnr. Allen Duncan, uitvoerende hoof van GFNC, glo dié enorme belegging sal op lang termyn dividende vir produsente oplewer deur marktoegang te verseker wanneer lande strenger regulasies op makadamias instel.

Mnr. Alex Whyte, bemarkingshoof van GFNC, waarsku dat produsente en verwerkers kennis moet neem van ontwikkelinge in die bedryf en nuwe eise wat regulatoriese liggame en verbruikers stel. Markte kan gesluit word as dit geïgnoreer word.

Sowat 80% van Suid-Afrika se gedopte neute word na Amerika en Europa uitgevoer. Toegang tot hierdie markte, sê Whyte, berus op goeie verhoudinge en vertroue. “Hulle betaal ’n premie vir gehalte en betroubaarheid. Dit is duur om ’n produk te herroep, dit knou reputasies en raak die hele waardeketting van die verbruiker tot die kleinhandelaar en die boer.”

Die groeipotensiaal van die bestanddelemark sal, volgens Whyte, daartoe bydra dat voedselvervaardigers nie ongepasteuriseerde neutprodukte gaan aanvaar nie. Die nuwe tegnologie gee GFNC dus toegang tot produkontwikkeling vir die bestanddelemark.

Die Napasol-pasteurisasie-aanleg is in nege vraghouers na Suid-Afrika verskeep en sal in ’n spesiale nuwe gebou by GFNC se Witrivier-aanleg geïnstalleer word. Volgens Duncan is een van die voordele van die pasteurisasieproses dat geen chemikalieë gebruik word nie.

Versadigde stoom word gebruik om gedopte neute in ’n vakuum te behandel om Salmonella en ander patogene dood te maak. Die neute word nie nat in die proses nie en hoef dus nie weer gedroog te word nie.

Neute wat só behandel is, is geneig om minder skade te kry en die rakleeftyd word verleng.

Duncan sê GFNC sal dié diens ook aan ander neutverwerkers in Suid-Afrika bied om die hele bedryf te help ondersteun.