Van terugslae ken die Le Roux-gesin. Van vasbyt gelukkig ook, want ondanks talle skade het hulle die grootste amandelboerdery in die land opgebou.

Die dag toe hy R300/ton vir appelkose aangebied word, het mnr. Rino Brochetto 'n paar kettingsae aangeskaf en al die sagtevrugtebome op Addersfontein, sowat 60 km van Montagu, afgesaag. Die enigste wat sy toorn vrygespring het, was die proefblok amandelbome.

'n Dekade later het dié boerdery, Amanteco, op groot skaal uitgebrei. Op die oomblik is dit die grootste amandelprodusent in Suid-Afrika.

Die boerdery het byna vanself gebeur, sê mev. Angela le Roux.

Haar man, dr. Hans le Roux, was destyds een van die eerste Suid-Afrikaanse dokters wat hom in Kanada gaan vestig het. Brochetto, Angela se Italiaanse pa, het 'n stukkie wegbreekgrond in Montagu gekoop waarop 'n klompie appelkoos- en perskebome gestaan het.

Mettertyd het die Le Roux' ook grond rondom die naweekplaas gekoop. Angela en hul twee kinders het 'n paar jaar later alleen teruggekom Suid-Afrika toe. Hans pendel steeds tussen sy gesin en Kirgistan in Asië, waar hy deesdae op 'n myn as dokter werk.

Die verbouing van sagtevrugte op Addersfontein was weens die bergpad en die lang afstand na verwerkers nie 'n maklike boerdery nie. Toe die pryse boonop skerp duik, het die familie besluit genoeg is genoeg.

Hoewel alles met die sagtevrugte teen hulle getel het, was die vooruitsigte anders vir die eksperimentele amandelboord.

"Omdat dit so fantasties hier aard, het ons die amandels geplant. Die klimaat is ideaal. Die grond is net beperk, maar ons begin selfs al suksesvol teen die koppe boer," sê Angela.

Dié gewas het uitstekend by hul behoeftes gepas: Dit bederf nie maklik nie en kneus ook nie tydens vervoer nie.

In die 1970' het Suid-Afrikaanse Droëvrugte (SAD) 'n poging van stapel gestuur om amandelbome in Suid-Afrika te vestig. Swak pryse en klein opbrengste het die meeste boere egter ontmoedig en die amandelboorde het nie lank gehou nie.

Die Le Roux' het nie dieselfde paadjie geloop nie, maar vasgebyt en met verskillende kultivars geëksperimenteer om beter kruisbestuiwing te kry. Hulle het ook proewe gedoen met die spasiëring van bome, grondvoorbereiding, onderstokke, snoei en oesmetodes. Dit was 'n moeilike proses aangesien geen plaaslike navorsingshulp beskikbaar was nie.

Ander uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het, was die klimaat, kapitaal vir uitdopmasjiene en die skep van 'n nuwe bemarkingsnetwerk.

"Weer eens moes ons dit self doen, met die besef dat ons sal moet seker maak die produksie regverdig die kapitaalkoste. Die kritiese vlak om masjinerie te regverdig, is sowat 150 ton per jaar," skryf Hans uit Kirgistan.

In 2003 was die boerdery goed op dreef, maar die Montagu-vloed was 'n harde neut om te kraak.

"Benewens die verlies van baie hektare boorde in produksie is die hoofwaterbron vernietig toe die Bellair-dam breek. Dit is slegs nou, nadat die dam herstel en genoeg water beskikbaar is, dat die fokus weer kan terugkeer na die verbetering van die boorde," sê Hans.

Sowat 100 ha van Addersfontein is met amandelbome beplant. Die twee hoofkultivars is Nonpareil en Carmel. As kruisbestuiwers gebruik hulle Neplus Ultra, Texas Mission, Peerless en Butte.

Dit kos sowat R110 000 om 'n hektaar amandelbome te vestig - soortgelyk aan ander vrugtebome, maar die eerste (klein) oes word eers teen die vierde jaar gepluk. Volgens Hans moet 'n gemiddelde produksie van 2 ton per ha teen die vyfde lewensjaar bereik word.

Montagu, met sy koue winters en droë, warm somers is ideaal vir die amandelbome, wat minstens 250 koue-eenhede per jaar nodig het.

"Die bome blom baie vroeg (vanaf middel Julie) en daarom is daar is altyd 'n gevaar vir rypskade," sê Angela.

In dié tyd word die blomme ook deur bye kruisbestuif. Té veel wind of reën kan dié proses belemmer.

Vir die bestuiwing span die Le Roux' drie tot vier byekorwe per hektaar in. Dit word sowat drie weke lank in die boorde gelos.

Ná bestuiwing sien hulle na die bome se voeding om en as dit nodig is, spuit hulle sink of boor.

"Ons hoef gelukkig nie 'n toksiese spuitprogram te volg nie, omdat ons so afgesonderd boer," sê Angela oor plaagbestryding.

"Die bome wil nie te veel reën in die lente hê nie. In die Paarl moes die boere hul bome tot niet maak, want dit is te klam en dan kom bloeiselversenging in die lente voor," sê Angela.

Die peule begin vanaf Januarie oopbars wanneer dit ryp word. Die meeste van die oeswerk word met masjiene gedoen, maar hande-arbeid word nog vir onder meer die sortering van die neute gebruik.

Die Le Roux' het by die Europeërs gaan kers opsteek oor die geskikste plukmetodes.

Hulle gebruik 'n omgekeerde sambreel met 'n spesiale vibreerder wat die boom skud sodat die neute afval. Dit word dan opgetel sodat die uitdopmasjien sy ding kan doen.

'n Paar vroue sorteer dan die neute met die hand sodat die verskillende grade verpak en versprei kan word.

Suid-Afrika se amandelverbruik is betreklik klein vergelek met die res van die wêreld en die land voer sowat 1 500 ton per jaar in. Die Le Roux' se neute word alles binnelands bemark.

Volgens Angela word die prys van hul amandels in oorleg met die Kaliforniese prys vasgestel, omdat die Amerikaners die wêreldmark beheer.

"In 2005 het die amandels se pryse op die hoogtepunt van R50/kg ($3,50/lb) gedraai. Weens die komende rekordoes in Kalifornie het die prys onlangs drasties gesak.

"Hul goeie opbrengste daar benadeel ons natuurlik. Daar is tans ook 'n klomp nuwe aanplantings in Kalifornië wat nou in produksie kom.

"Om enige impak op die mark te hê, moet 'n mense 'n redelike hoeveelheid produseer en die verskillende kultivars en graderings aan die klant kan verskaf.

"Ons kan slegs meeding op grond van gehalte: Groot, siektevrye neute sonder uitdopmerke van die regte kultivars met die regte kleur, eenvormigheid, geur en varsheid," sê Hans.

"Die terugvoer van klante is baie bemoedigend. As hulle eers ons amandels leer ken het, weier hulle om die ingevoerde produk te koop."

Die plaaslike neute is baie gesond met min olie en baie kalsium. Die Europese amandels is gewild vir gebak, amandelolie en kosmetiese middels.

Amandels se gewildheid neem toe weens die vele gesondheidvoordele, veral die verlaging van bloedcholesterol en as deel van 'n gesonde dieet.

Aangesien amandels minder olie as byvoorbeeld okkerneute het, raak dit nie maklik galsterig nie.

Die neute kan vir maande opgeberg word, mits die temperatuur (4 °C) gereguleer en die amandels met boontjiegas behandel word.

Om waarde toe te voeg, word elke krieseltjie van die amandel gebruik.

"Die buiteskil het 'n redelik hoë proteïenwaarde en ons meng dit met melasse, lusern en strooi om as veevoer te gebruik," sê Angela.

Die sagter dop is ook geskik as vogsettingsmiddel vir kompos en sorg vir 'n ideale grondkombers.

Die Le Roux' wil hulle in die toekoms in hul boerdery toenemend toespits op grondvoorbereiding, dreinering van soute en omgewingsvriendeliker benaderings tot plaagbestryding.

Ook, sodra die volumes dit toelaat, sal hulle nog waarde wil toevoeg deur die amandels te verwerk.

Kaliforniese produksie in 'n neutedop

Sentraal-Kalifornië, die enigste plek in Noord-Amerika waar met amandels geboer word, produseer ongeveer 82 % van die wêreld se amandels en voer dit na meer as 80 lande uit.

Spanje en Italië was die eerste groot amandelprodusente, maar teen die mid-1700' het Fransiskaanse monnike amandelbome langs El Camino Real (Die Adellike Pad) tussen San Diego en Sonoma geplant. Weens die koel, vogtige kusklimaat was dit nie 'n sukses nie, maar namate setlaars na die binneland getrek het, het die gewas se potensiaal in die byna Mediterreense klimaat van Sentraal-Kalifornië duidelik geword.

Vandag is daar meer as 6 000 produsente wat op sowat 550 000 ha amandels verbou. Dié amandelmekka het ook ongeveer 115 verwerkers.

Die grootste oes tot nog toe was in 2002 toe sowat 487,8 miljard kg amandels verbou is. Die 2007-oes lyk ook belowend. Daar word geskat sowat 545 miljard kg sal geproduseer word. Meer as 1,2 miljoen byekorwe word jaarliks gebruik om die amandelbome te bestuif. Die boere huur een of twee korwe per hektaar om sowat 75 tot 120 bome genoegsaam te bestuif.

  • Bron: www.almondboard.com

    Landbouweekblad, 29 Junie 2007