Ná meer as twee dekades waarin Badenhorst betrokke was by ’n landbou-ekonomiese normstellingstudie waar die syfers van sowat 45 plaaseenhede in die EGVV-gebied (Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom) ontleed word, kan hy tereg sê: Boere wat lê in die boonste kwart van die winsgewendheidsindeks van die Badenhorst Bible (soos boere onder mekaar na die studie verwys), het in 2015 en 2016 onderskeidelik sowat R50 000 en R41 000 per hektaar méér wins gemaak as die groepsgemiddelde.

“Ons kan met vers en kapittel bewys wat groter wins aandryf. Dis tonne, tonne en tonne.”

Volgens hom word beter inkomste in vrugteboerdery aangevuur deur produksie per hektaar, die gehalte van produksie en koste per hektaar.

Die som lyk só: Die boer in die gemiddelde groep se gemiddelde inkomste in 2016 was ongeveer R222 000/ha en sy gemiddelde uitgawes was R143 000/ha. Sy produksie is 65 t/ha. Dit sit wins van sowat R80 000 in sy sak.

Die inkomste van die bestepraktykboere (die boere in die boonste 25%, wat R41 000/ha meer wins gemaak het) is R257 000/ha. Hul uitgawes is R6 000/ha laer as hul eweknieë in die gemiddelde groep. Maar hul wins is R120 000/ha danksy ’n opbrengs van 72 t/ha – 16% meer as die groepsgemiddelde.

“As jy dit per ton uitdruk, het die gemiddelde boer R3 400/ton gekry en die bestepraktyk-boer R3 600/ton. Dit is net sowat 4% meer, maar die res van hul inkomste is alles danksy produksie. Die eerste ding van winsgewendheid wat tel, is produksie. Niks kom daarby nie.”

Wins stel die bestepraktyk-boere in staat om boorde vroeër te herplant, ’n stap wat hulle weer voor op die kurwe sit – en beteken dat die gaping tussen die topboere en die gemiddeldes rek.

Mnr. Tonie Linde sê boere moet konsentreer op die regte kultivars en die regte gehalte aan die boom. Hy sê hul studie is nie ’n wonderoplossing nie, maar help boere om hul prosesse met verloop van tyd te verfyn.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.