Sy aanstelling is tydens ’n virtuele vergadering op 14 Mei amptelik deur al die lidlande en die sekretariaat van SHAFFE goedgekeur.

Kruger is aangestel nadat die vorige president van SHAFFE, dr. Konanani Liphadzi, haar pos as uitvoerende hoof van Vrugte Suid-Afrika einde Maart verlaat het. Kruger sal die president van SHAFFE bly tot ’n verteenwoordiger van Chili in 2021 tot die amp verkies word.

SHAFFE is tans betrokke by veldtogte wêreldwyd om die bewustheid en verbruik van vars vrugte onder verbruikers te bevorder. Die ander rol wat SHAFFE tydens Covid-19 vervul, is om inligting in te samel tussen lidlande, soos inligting oor logistieke en administratiewe kwessies wat lei tot die opeenhoping van vrugte in hawens van lande wat vrugte invoer.

Kruger sê in die virtuele vergadering was dit opmerklik om te hoor dat die uitvoerbedryf van vars vrugte in al die lidlande van die begin van inperkingstydperke as noodsaaklike dienste verklaar is. In al die SHAFFE-lidlande werk die bedryf en die regerings baie goed saam.

SHAFFE spits hom normaalweg toe op gemeenskaplike kwessies soos die gebruik van plastiek in die varsvrugte-uitvoerbedryf, volhoubaarheid, etiese optrede, die natuurlike omgewing en energieverbruik. “Van hierdie kwessies moet ook tydens die Covid-19-tyd aandag kry om te verseker dat daar nie skielik ‘verrassings’ vir lede opduik wat uitvoer en marktoegang bemoeilik nie.”

anton kruger
Mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van varsprodukte-uitvoerdersforum en nuut aangestelde president van die vrugte-uitvoerdersvereniging in die Suidelike Halfrond. Foto: LBW-argief