Kaap Agri het verlede Oktober ’n nuwe filiaal, Tego Plastics, bekend gestel. Tego vervaardig voedselgraad-plastiekmandjies vir die verpakking en hantering van vrugte op groot maat. Volgens mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, word die kratte gebruik om veral kernvrugte, steenvrugte en sitrus te oes en op te berg.

Voorheen is soortgelyke kratte in Suid-Afrika slegs deur een vervaardiger gemaak en versprei.

“Ons het gaan kyk na die huidige produk op die mark. Daar was net een vervaardiger in Suid-Afrika. Toe ons ons huiswerk doen, het ons besef daar is ’n redelik goeie gaping tussen die kosprys en die verkoopprys,” het Walsh ná Kaap Agri se jaarvergadering in die Paarl gesê.

Tego-kratte word in Brackenfell deur ’n inspuiting-gietproses vervaardig. Die gerief word aanstaande maand amptelik geopen. Walsh het met lof oor die kratontwerp gepraat.

“Ons het onder meer gaan kyk na beter stabiliteit, ’n groter gaping vir ’n pallet-domkrag en ons het ook die binnekante gladder gemaak sodat vrugte nie so maklik beskadig word nie. Ons kratte stapel ook beter opmekaar.”

Die kratte is heeltemal herwinbaar en kan saam met bestaande plastiekkratte op plase gebruik word.

Sedert die bekendstelling van Tego-kratte het die gemiddelde prys van kratte al met meer as R100 per krat afgeneem, sê Walsh.

Tego kan sowat 180 000 kratte per jaar vervaardig. “Ons wil in die eerste jaar 100 000 of meer kratte verkoop.”

Benewens Agrimark-winkels is daar tien toegewyde Pakmark-winkels wat hard werk om die nuwe kratte aan boere te verkoop. Kaap Agri het ook ’n ooreenkoms met Wesbank om finansiering te verskaf om die kratte te bekom.

Die grootmaatkratte is Tego se eerste produk, maar daar is potensiaal om die reeks uit te brei.