Kan jy met slegs 50% van jou huidige besproeiing steeds 90 ton of selfs 100 ton appels en pere per hektaar te oes? Dít is waarna mnr. WP van der Merwe van die Arborlane-boerdery in die Koue-Bokkeveld in sy appel- en peerboorde mik deur drupbesproeiing te gebruik. Hy haal tans so byna-byna sy mikpunt en het vanjaar 100 ton/ha Rosy Glow-appels in ’n tien jaar oue boord geoes met slegs 6 000 m3 water per hektaar.

Rosy Glow is van die laaste appels wat in Suid-Afrika geoes word en het dus ’n baie lang groeiseisoen. Om met so min water steeds ’n uitstekende oes te produseer, wil gedoen wees, maar Van der Merwe moes duur skoolgeld betaal om hierdie prestasie te behaal. 

“Hierdie einste Rosy Glow-boord is met minstens twee seisoene en dalk meer teruggesit nadat dit geplant is. Ons het in 2010 hierdie blok Rosy Glow met enkellyndrupbesproeiing met 600 mm-spasiëring gevestig wat ’n 1,6 liter per uur kon lewer. Dit was ons eerste ervaring met drupbesproeiing en was vir drie seisoene basies ’n eksperiment om die regte praktyke te ontwikkel,” sê Van der Merwe.

Hierdie Golden Delicious-boord, wat reeds geoes was toe die foto geneem is, wys duidelik hoe die kaf binne ’n jaar afbreek. Vars kaf word jaarliks op die boomry aangebring om grondvog te bewaar, grondtemperature stabieler en koeler te hou, en om onkruid te onderdruk. Tesame met die drupbesproeiing, wat nie meer so ’n groot bogrondse area benat nie, is hierdie kaf as ’n grondbedekking so doeltreffend om onkruid te bekamp dat Vrey in sommige jare nie een keer onkruiddoder hoef te spuit nie. Foto: Johan van der Merwe
Die hartklop van Arborlane se drupbesproeiing is die pompstelsel. Arborlane gebruik die Netafim-stelsel vir die besproeiing en sproeibemesting. Bemesting word volgens grondmonsters en blaarontledings gedoen en begin met ’n aanvangsbemesting met vroeë bot om die boom te help om gesond weg te spring, sonder om soveel energie in die boom te eis dat dit die reproduktiewe aspekte (vrugbaarheid en vrugset) nadelig raak. Foto: Johan van der Merwe

Drup is appels en pere se toekoms

Die vordering wat oor die afgelope dekade op die plaas gemaak is, het hom egter oortuig dat drupbesproeiing die toekoms van sagtevrugte-besproeiing is. “Veral in ag genome dat ons nie sommer nuwe aanplantings sonder nette sal oprig nie, is drupbesproeiing die antwoord vir die toekoms. Ons kan water en bemesting akkurater en doeltreffender bestuur met die drup. Ons gaan nie nou omdraai nie.” 

Een van Arborlane se grootste probleme is om die uiterste klimaatstoestande te trotseer: ’n Probleem wat bykans die ganse sagtevrugtebedryf weerhou van drupbesproeiing. Anders as met sitrus, wat in hoër temperature steeds goed respireer en dus nie in stres ingaan nie, is sagtevrugtebome gevoelig vir hoë temperature. Na gelang van die relatiewe humiditeit sal ’n sagtevrugteboom teen temperature van tussen 32 °C en 36 °C ophou respireer en die boom sal in ’n stressituasie ingaan. Dit benadeel die vruggrootte en -gehalte en houvermoë. Met mikro-besproeiing kan water oor ’n wye area vinnig versprei word. 

Daar is 'n wanopvatting dat dit nie moontlik is met drupbesproeiing nie. Van der Merwe en sy plaasbestuurder, mnr. Recardo Vrey, het bewys dat voldoende verspreiding wel met drup moontlik is.

“Op die sandgronde het drupperlyne wat te hoë volume water gelewer het, nie genoeg tyd toegelaat vir water om horisontaal in die grond te beweeg nie,” sê Vrey. “By die hoë lewerings het die water in ’n silindriese kolom reguit af in die grond weggesak. Ongeag van die hoeveelheid water wat ons in die hitte gegee het, die bome het aanhou swaar kry, omdat die water nie wyd genoeg uitgesprei het en dus maksimum geleentheid vir opname aan die boomwortels verskaf het nie. Die oplossing was dus stadiger lewering en ’n wyer verspreiding deur ’n ekstra drupperlyn wat verseker het die water so wyd as moontlik horisontaal versprei.”

Die weerstasie op Weltevrede, die hoofopstal van die Arborlane-boerdery, verskaf daagliks weerdata wat saam met data van deurlopende grondvog- en grondtemperatuurmetings ingespan word om besproeiingskedulering te bepaal. Foto: Johan van der Merwe
Hierdie Rosy Glow-appelbome het vanjaar meer as 100 t/ha produseer, met ’n eerstegraaduitpaksyfer van 90%. Dit is met slegs 6 000 m3 water behaal. Foto: Johan van der Merwe
Mnr. Recardo Vrey, bestuurder by die Arborlane-boerdery, wys hoe drupperlyne geplaas moet word. Die drupperlyn in sy hand is op die regte plek, terwyl die ander drupperlyn, aan die ander kant van die boom, te na aan die stam is. Foto: Johan van der Merwe

Nette bring gunstige mikro-klimaat

’n Voordeel van mikrospuitjies, die besproeiingstegnologie wat in bykans alle sagtevrugteboorde gebruik word, is die mate waartoe dit temperatuur en humiditeit voordelig kan beïnvloed in die mikroklimaat van die boord. Die beperkende faktor van hierdie strategie is die skaarsheid van besproeiingswater. Water kan nie gebruik word om ’n gunstige mikroklimaat te skep nie, maar nette kan wel en is baie doeltreffend in hierdie opsig. Wanneer die nette opgerig is, sal daar ’n meer gematigde mikroklimaat in die boord geskep word, sê Van der Merwe. 

“Dit sal besproeiingsbestuur effens makliker maak en sal beslis ’n mate van waterbesparing meebring. Ek dink nie dit is te vergesog dat ons binne die volgende jaar of drie by 4 500 m3 water per hektaar per jaar sal uitkom nie.”

 Recardo Vrey
Mnr. Recardo Vrey, plaasbestuurder van Weltevrede, een van die Arborlane-boerdery se plase. Hy kom oorspronklik van Oudtshoorn en was in 2012 die dux-student van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit toe hy die graad B.Tech. in landboubestuur behaal het. Foto: Johan van der Merwe
Mnr. WP van der Merwe, uitvoerende hoof van die Arborlane-boerdery. Foto: Johan van der Merwe

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.