Citrusdal se herlewingslandbou-studiegroep is op 21 Mei gestig met die ondersteuning van Atlantic Fertiliser en Landbouweekblad

Meer as 20 boere, waarvan talle reeds by Citrusdal se sitrusstudiegroep betrokke is, het die eerste sessie bygewoon waar kennis en ondervinding van herlewingslandboupraktyke bespreek is. Die groep boere het ingestem om elk ongeveer een hektaar dekgewasse te saai en hul eie navorsing te doen.

Mnr. Kleinjan Teubes, wat met wyndruiwe by Vredendal boer, het verduidelik hoe hy sy grond se waterindringing en waterhouvermoë binne een seisoen verbeter het deur dekgewasse op die bankie te vestig. 

“My hulpbrontekort in Vredendal, waar ons gelukkig is as ons 200 mm reën per jaar kry, is water en die waterhouvermoë van my grond. Dit is moeilik om waterhouvermoë wetenskaplik te meet, maar ek ken mos my grond en ek kan die verskil sien tussen die rye waar ek proewe met dekgewasse gedoen het en die kontrole-rye. Daar is nie meer afloopwater in die rye waar ek dekgewasse geplant het nie,” het hy gesê.

Me. Sheila Storey, eienaar van Nemlab, mnr. Freddie Bredenhann van Shortlands-landboudienste en mnr. Alwyn Badenhorst van Atlantic Fertilisers het ook inligting oor grondgesondheid met die groep bespreek. 

Vir me. Margaret McGregor van Bergstroom-boerdery was die dag baie waardevol. “Ons boer organies. Dit is verblydend om te hoor daar is ander boere wat met hierdie alternatiewe praktyke dieselfde kwessie en risiko’s wil aanpak as ons.”

Me. Martli Slabber van Hexrivier-boerdery, wat gehelp het om die dag te reël, het voorgestel dat elke produsent een hektaar dekgewasse in ’n boord saai. 

“Ons kan elkeen self besluit hoe die mengsel en die digtheid lyk, al saai ons met die hand. Dit is egter belangrik dat ons ’n begin maak en hierdie inligting met mekaar bespreek,” het sy gesê.

Die studiegroep sal weer in die lente bymekaarkom om die dekgewasse-proewe te evalueer, kennis uit te ruil en ’n pad vorentoe bespreek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.