Met oordeelkundige wingerduitleg en rypwaaiers kan Cederberg Wines jaarliks rypskade van  R200 000 per hektaar bykans heeltemal voorkom.

Die wynboerdery Cederberg Wines het die afgelope vyf jaar na raming R1 miljoen per hektaar verloor weens ryp- en koueskade in sy Chenin blanc-wingerde. Mnr. David Nieuwoudt, eienaar, meen die ryp op sy plaas, Dwarsrivier, is nie meer soos voorheen die uitsondering nie.

Hy begroot nou jaarliks vir ’n opbrengsverlies van 10% weens koue- en rypskade reg oor sy plaas. “My oupa Pollie het altyd gesê ons moet vrede maak daarmee dat ons elke sewe jaar rypskade sal kry, maar ons het nou vrede dat ons elke jaar skade gaan kry.

Ons kan nie meer in die Cederberge boer sonder om onsself teen die risiko van koueskade te verskans nie. Ons het van 2016 tot 2020 oesverliese van onderskeidelik 63%, 35%, 25%, 35% en 15% gely.

Die koue kom ál vroeër en dit is al hoe meer onvoorspelbaar deur die seisoen. Ons het byvoorbeeld in 2016 op 16 November ryp gehad.”

Verlies aan groeikragtigheid

Hoewel rypskade beduidende verliese aan die betrokke produksiejaar se oes veroorsaak, is die grootste verlies die langtermynskade wat aan die wingerdstokke en veral jong stokke se groeikragtigheid aangerig word weens herhaaldelike koue- en rypskade.

Sommige van die volwasse stokke dra glad nie meer druiwe nie. “Ons het by ons Chenin blanc en Sauvignon blanc oesverliese van tot 75% ervaar. Vandaar die skade van R1 miljoen per hektaar oor vyf jaar.

Ogies wat in die vroeë lente begin oopbreek om te bot, word beskadig. Die lote wat uit hierdie ogies groei, is swak, en die ogies wat op hierdie lote vorm vir volgende seisoen, is nie voldoende nie.

“Jaar ná jaar word die potensiaal van die stokke dus verswak. Die groei in die daaropvolgende lente is swak en uiteindelik het die stok nie meer reserwes om ’n gesonde oes te lewer en sterk, nuwe ogies vir die volgende seisoen te vorm nie.”

Mnr. Dirk de Bruyn, wingerdboukundige van Cederberg Wines, was verras toe dit só aanhoudend koud op Dwarsrivier geraak het dat jong stokke doodgeryp het, terwyl algemeen aanvaar word wingerd kán nie doodryp nie.

Dit is egter nie die enigste kommer wat koueskade aan jong stokke vir De Bruyn bring nie. “Die jong stokke is tot baie laat in die herfs nog groen en produseer noodsaaklike koolhidrate vir reserwes vir die volgende seisoen.

Ons moet hierdie funksionaliteit so lank moontlik beskerm om te verseker ons het gesonde, groeikragtige ogies in die lente. Ons het dus reeds in die herfs goeie maat- reëls nodig om koueskade aan veral die jong stokke te voorkom.”

Die blou pyle op die foto dui aan hoe die koue lug deur die plaas vloei. Die huidige rypwaaier is aan die regterkant van die foto sigbaar. Die bome in die geel reghoek onder aan die foto is ’n vloeihindernis vir die koue lug en sal hierdie winter uitgedun word. Die rooi kol in die middel van die oop stuk grond is waar die vyfde waaier op die plaas geïnstalleer gaan word.

Koue vloei soos water

Nieuwoudt en De Bruyn het oorhoofse besproeiing geïnstalleer om rypskade te probeer voorkom, maar dit was nie suksesvol nie (sien die Kassie “Oorhoofse besproeiing onprakties”).

Raadop het hulle aan die begin van 2020 die hulp van die AGI Frost Fans-span ingeroep om koue beter te verstaan en doeltreffende oplossings te vind. Volgens mnr. Stiaan Hugo, direkteur van AGI Frost Fans, vloei koue lug soos water.

“As ’n boer dít verstaan, sal koueskade baie beter bestuur kan word. Koue lug vloei baie stadiger as water, maar tipies sal dit van die hooggeleë dele teen hellings afvloei na laergeleë dele. Die koue lug word maklik opgedam en die erge skade vind plaas sodra die koue lug vertraag word of stil gaan lê. Jy moet skade probeer keer deur te verseker dat hierdie koue lug aanhoudend beweeg.

“Die koue lug is digter en dus swaarder as warm lug. Wanneer die koue lug na laaggeleë gebiede begin beweeg, druk dit die laag ligter, warmer lug op die grond boontoe. Die warm lug vorm dan ’n inversielaag wat 2 °C tot 10 °C warmer is as die stroom koue lug wat invloei.

Die hoogte van die inversielaag wissel, maar dit is gewoonlik 10 m bo die grond.

“Deur waaiers in die inversielaag op te rig en die warmer lug aan die bokant met die laag koue lug op die grond te meng, en dus terselfdertyd te verseker dat die lug aanhou beweeg, kan die risiko van ryp- en koueskade aansienlik verminder word.

Dit is ’n manier wat al etlike dekades lank wêreldwyd gebruik word om koue- en rypskade te voorkom in streke waar die risiko hoog is.”

Nadat hierdie blok Sauvignon blanc vyf jaar agtereenvolgens rypskade gekry het, is daar heelwat stokke wat nie meer sterk, draende lote maak nie. Dié stokke is dus nie meer in produksie nie.

Waaiers die troefkaart

De Bruyn het vier waaiers geïnstalleer, elk toegerus met ’n elektriese motor van 30 kW wat ongeveer 9 ha kan dek. Hy meen dit gaan ’n troefkaart in die bestuur van koue wees.

“Ons hoop om ons oesverliese van gemiddeld 40% te verminder tot hoogstens 10%. Ons aktiveer die waaiers aan die begin van die herfs om reeds teen 4 °C aan te skakel. Dit verseker dat ons veral die jong stokke kan beskerm teen ryp en koue wat laat in die seisoen voorkom. Ons hou die waaiers geaktiveer totdat ons kan sien die jong stokke is goed gehard.

“In die lente sal ons die waaiers weer aktiveer sodra ons sapvloei in die stokke gewaar. Omdat ons die snoei- en suierproses tot so laat moontlik uitstel om interne weefselskade aan rou wonde weens die koue te voorkom, kan ons vinnig sien wanneer die sap begin vloei. Ons aktiveer die waaiers dus eerder te vroeg. Ons sal die waaiers geaktiveer hou om teen 4 °C feitlik regdeur die seisoen aan te gaan.”

Die waaiers is 10,5 m hoog en toegerus met ’n termometer op 9,5 m en ’n tweede een ongeveer 1,5 m bo die grond. Wanneer die temperatuur op die boonste óf die onderste termometer die snellertemperatuur bereik, skakel die waaier aan.

De Bruyn stel gewoonlik die snellertemperatuur teen 4 °C tot 2 °C, na gelang van die risiko. Volgens mnr. Ossie Kruth, bedryfsbestuurder van AGI Frost Fans, toon hul data van die afgelope agt jaar dat die temperatuur op 9,5 m 99% van die tyd 2 °C tot 10 °C warmer is as 1,5 m bo die grond.

“Die temperatuur tussen bo en onder is die naaste aan mekaar net voor sonsopkoms. Die kans dat die temperatuur op 9,5 m laer as op die grond is en die waaiers dus kouer lug in die wingerd inblaas, is hoogs onwaarskynlik tydens uitstralingsryp, die algemene ryp wat in kouer dele ervaar word.”

Nieuwoudt is optimisties dat die waaiers baie van die probleme gaan oplos wat hulle weens die koue ervaar. “Dit is nog vroeg en ons het nog nie veelvuldige seisoene se data nie.

Ons het egter reeds by Chenin blanc gesien hoe die sowat 150 m-radius om die waaier in ’n koue nag in die lente van 2020 beskerm gebly het. Die wingerd wat 170 m van die waaier af was, het ooglopend meer koueskade opgedoen. Die waaier het dus in sy doel geslaag.”

Die waaiers alleen sal egter nie die probleem kan oplos as die faktore wat die natuurlike lugvloei benadeel, nie ook aandag kry nie, meen De Bruyn.

In hierdie Chenin blanc-wingerd van 8 ha is die uitwerking van herhaaldelike skade in die donker gedeelte in die middel van die wingerd sigbaar. Die wingerd regs bo moes in 2020 oorgeplant word weens die rypskade van die afgelope vyf jaar.
Dié rypwaaiers van 10,7 m hoog by Yakima in Washington, Amerika, word aangedryf met ’n kragbron op die grond wat ’n as aandryf. Dié as word in die mas gehuisves tot by die ratkas op die mas. Die ratkas dryf die waaier aan. Volgens AGI Frost Fans verrig sy direk- aangedrewe waaiers dieselfde taak met vanaf net 25% van die kragkoste.

Kontoere gemaak vir beter lugvloei

“Ons gaan ’n laning akkerbome wat aan die onderkant van die wingerd staan, uitdun sodat die koue lug makliker kan uitvloei. Ons gebruik al jare lank dekgewasse en deklae in die wingerd, maar ons sal dié gebruik moet aanpas, want die plantegroei op die wingerdvloer beïnvloed die lugvloei.

“Buite die wingerd, teen die berghange waar die koue lug vandaan kom, sal ons kontoere maak wat die koue lug weg van die wingerd kan herlei. Dié kontoere herlei nie ál die koue lug nie, maar dit koop wel vir ons en die waaiers tyd om skade te voorkom.

Die ryrigting van die wingerd sal ook aangepas word om die lugvloei te bevorder.”

Navrae: Mnr. Dirk de Bruyn, 083 234 7689; e-pos: farm@cederbergwine.com



Van links is mnre. Ossie Kruth, bedryfs-bestuurder van AGI Frost Fans, Dirk de Bruyn en David Nieuwoudt, onderskeidelik wingerdboukundige en eienaar van Cederberg Wines, en Stiaan Hugo, direkteur van AGI Frost Fans.

Nie net vir ryp gebruik nie

AGI Frost Fans is die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde rypwaaiers wat internasio- naal gebruik word om ryp in vrugteboorde en wingerde te voorkom.

Die maatskappy is in 2013 gestig, en navorsing en ontwikkeling word steeds saam met boere gedoen. Die tegnologie is oor die afgelope dekade ontwikkel.

Die huidige produk, waarvan al bykans 100 verkoop is, is ’n waaier van 10,5 m hoog met ’n deursnee van 4 m wat teen 11° na onder kantel. Die waaier kan met ’n direk-aangedrewe elektriese motor van 15 kW of 30 kW toegerus word en teen 980 revolusies per minuut draai.

Dit kan tot so laag as 900 revolusies per minuut gestel word om optimale kraggebruik te verseker. Hoewel die waaiers ontwikkel is om ryp te voorkom, gebruik baie boere dit ook om vrugte wat natgedou of natgereën is, droog te waai om besmetting te voorkom en om die oesproses aan die gang te kry.

Die waaiers skep ook die ideale posisie vir weerstasies op die plaas om bruikbare inligting oor temperatuur, humiditeit, windspoed en windrigting vas te lê. Volgens mnr. Stiaan Hugo, direkteur van AGI Frost Fans, ondersoek die maatskappy tans temperatuurregulerende tegnologie.

“Ons waaiers gebruik relatief min krag en waai doeltreffend groot volumes lug in die wingerd en boorde in. Ons begin kyk hoe ons temperatuurregulerende tegnologie, soos gas- en oliebranders vir verwarming en sproeimasjiene vir verkoeling, by ons waaiers kan inspan. Dit sal bykomende klimaatbestuursgereedskap aan boere gee.”

Navrae: Mnr. Ossie Kruth, 083 763 6492, e-pos: operations@agifrostfans.com; mnr. Stiaan Hugo, 076 020 7003, e-pos: info@agifrostfans.com



Oorhoofse besproeing onprakties

Oorhoofse besproeiing word met wisselende sukses ge- bruik om rypskade by permanente gewasse in die lente te voorkom. Die oorhoofse besproeiing (op die foto sigbaar) op Dwarsrivier van Cederberg Wines was nie suksesvol nie, sê mnr. David Nieuwoudt.

“Die beginsel om water op die wingerd te kry en te keer dat die temperatuur laer as vriespunt daal, is bewese wetenskap, maar die praktiese implikasies is nie vir ons haalbaar nie.

Dit verg eerstens ’n volledige, bykomende besproeiingstelsel, wat baie duur is. Tweedens moet ’n baie groot volume water binne ’n kort tydperk oor die hele plaas gepomp word om oral doeltreffende beskerming te verseker. Dié kragverbruik is duur.

Die hoë volume water vereis groter toevoerpyplyne en -pompe as wat die normale besproei- ingstelsel verg, en ons het nie daardie kapasiteit nie.

“Derdens verg dit water wat dikwels ontydig en onaf- hanklik van die normale besproeiingskedule toegedien word, wat allerhande probleme in die wingerd kan veroorsaak.

Daarbenewens is water ’n skaars hulpbron. Ons het ons bes probeer met die oorhoofse besproeiing, maar meen die rypwaaiers is doeltreffender en bekostigbaarder.”

LBW vra . . .

Mnr. David Nieuwoudt

Wat die beste boerderybesluit wat jy al geneem het?

Om my ouers te oortuig om van vrugte- en groenteboerdery na wingerdboerdery oor te skakel in die eerste jaar toe ek op die plaas was.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

As jy geld in die bank het, is jy besig om te sterf. Jy moet volgehou herbelê om te groei.

Wat is die grootste boerderyfout wat jy gemaak het?

Swak personeelaanstellings.

Wat is die grootste geleenthede vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf?

Ons het die kans gekry om los te breek van ’n tradisionele bedryf en aan te pas by ’n vinnig veranderende wêreld.

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery?

Grondvog- en besproeiingsmonitering. Omdat water skaars is, en omdat die prestasie van wingerd beduidend deur doeltreffende grondvogbestuur verbeter kan word, is dit ’n onmisbare tegnologie.

Watter raad het jy vir jong mense wat die sakewêreld betree?

Glo in die haalbaarheid van jou eie drome. Met harde werk is enigiets moontlik.