’n Stukkie Portugal in die Swartland

Die vlagskipwyn Três Vermelhos van Allesverloren, die oudste wynlandgoed in die Swartland, is die perfekte pasmaat vir ’n sappige steak. Dié rooi versnit word gemaak van drie Portugese kultivars (Souzão, Tinta Barocca en Touriga Nacional) wat uitstekend aard in die Swartlandse klimaat.

Mnr. Wilhelm de Vries, wynmaker op Allesverloren, vertel meer.

Waar het jul liefde vir die Portugese kultivars (soos wat julle in jul vlagskipwyn Três Vermelhos gebruik) ontstaan?

Mnr. Fanie Malan, die huidige eienaar (Danie) se pa, het ’n groot liefde vir port-styl wyne gehad. Hy was ook die eerste mens in Suid-Afrika wat Portugese kultivars aangeplant het. Distell het baie van die oorspronklike proewe met Portugese kultivars in Suid-Afrika op Allesverloren gedoen.

Hoekom aard die kultivars so goed in die Swartland?

Die klimaat is soortgelyk aan dié van die Douro-gebied in Portugal, waar port-wyne oorspronklik vandaan kom. Danie sê graag: “Ek is ’n boer wat wyn maak, en nie ’n wynmaker wat boer nie.”

Wat is die onderskeid?

Dit gaan oor ’n aanvoeling vir die natuur. Ons weet wat die plant nodig het, en maak dus wyn van druiwe wat kom van gesonde, gebalanseerde stokke. Ons plaas nie druk op die wingerd om iets te gee soos ons dit wil hê nie, maar werk eerder met dit waarmee die wingerd gemaklik is.

Waar kom die plaas aan sy naam?

Destyds moes die eienaars op Stellenbosch kerk toe gaan en aankope doen. Dit was ’n ekspedisie wat twee weke geduur het. Een keer, met hul terugkeer in 1704, het die plaashuis afgebrand en die plaas is vernietig. Vandaar die naam Allesverloren, wat ironies is, want sedertdien het Allesverloren net van krag tot krag gegaan.

Wat is jou gunsteling-wyn-en-kos-pasmaat vir die winter?

Allesverloren Shiraz saam met beesstert – en ’n vuur wat op die agtergrond knetter.

Versnitmeester

Om wyn te maak waarvan mense hou en wat pryse gaan wen, is geen geringe taak nie. Dít het ’n groep joernaliste onlangs opnuut besef toe hulle genooi is om saam met mnr. Samuel Viljoen, rooiwynmaker by Nederburg, Cabernet Sauvignon-versnitte te maak.

Vyf spanne moes elk hul eie versnit skep met Cabernet Sauvignon uit die 2017-oesjaar met vier verskillende houtregimes. Elk van hierdie houtregimes dra by tot unieke kenmerke in die wyn – of dit nou soet vanielje, komplekse mokka of karamel of speserynote is.

Die slotsom? Met wyn is dit ’n geval van soveel hoofde soveel sinne, want elke span het met ’n eiesoortige versnit vorendag gekom wat in hul persoonlike smaak geval het!

Wynkuns

Premium Independent Wineries of South Africa (Piwosa) het die afgelope vyf jaar 76 geleenthede oorsee aangebied (met nóg 20 in die vooruitsig vir aanstaande jaar). #LiquidArt se kreatiewe flair gaan egter vir die eerste keer op tuisbodem aanskou kan word. Dit vind plaas tydens CapeWine in September.

Piwosa bestaan uit 1 1 onafhanklike wynboere wat hulle beywer vir die bemarking van Suid-Afrika se gesogste wyne reg oor die wêreld. Op The Flight Club (13 September) gaan plaaslike sommeliers en wynkenners hul staal wys en plaaslike wyne blind proe teenoor van die bestes in die wynwêreld – en hopelik kan die Suid-Afrikaanse wyne koning kraai.

The Mile-High Club gaan van deelnemers vereis om die kultivars reg te raai wanneer hulle ses groepe van vyf plaaslike wyne proe. Dit word afgesluit met ’n opwindende Piwosa-partytjie by die Zeitz MOCAA-museum.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.