Hoewel die Vaalhartsomgewing in die Noord-Kaap Suid-Afrika se grootste en vernaamste pekanneut-produksiegebied is, lewer die Waterberg-omgewing in Limpopo ’n al hoe groter bydrae tot die land se aanplantings.

Een van die mense wat ’n sleutelrol in die aanplanting van pekanneute in Limpopo speel, is mnr. Ivan Otto, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pekanneut-produsentevereniging (Sappa) in Limpopo.

Otto het 160 ha onder pekanneute op sy plaas naby Modimolle en hy verskaf deur sy kwekery plantmateriaal aan boere tot in Mpumalanga se Laeveld. Ondanks die pas waarteen pekanneute in Limpopo aangeplant word, sê Otto die streek is eintlik baie onderontwikkel wat pekanneute betref.

Deesdae is daar een of twee verwerkers in Gauteng, maar die meeste neute wat in Limpopo verbou word, word steeds na Vaalharts vervoer. Die Waterberg-omgewing is baie geskik vir pekanneute en bome aard goed. Die grootste beperking, sê Otto, is water.

Daar is nie ’n groot besproeiingskema soos by Vaalharts nie, hoewel Groblersdal se besproeiingskema ook taamlik baie pekanaanplantings het. Ofskoon die pekanboom baie water nodig het, aard die meeste kultivars nie in hoë humiditeit nie. In sulke dele moet ’n mens kultivars plant wat nie neig om skurfsiekte te kry nie.

Otto vertel dat boere in streke met ’n hoë humiditeit, soos die Laeveld, wel pekanneute op laaggeleë dele plant waar dit te koud word vir makadamias en avokado’s. Daar sal hulle kultivars soos Ukulinga plant, want dit bied goeie weerstand teen skurfsiekte. Ander kultivars wat op sulke plekke aard, is Barton en Sutex.

Pekanneute dop gelukkig self hul skil af net voor die oestyd, rondom April. Dit hoef dus nie soos makadamianeute “geskil” te word voordat ’n mens dit kan gebruik nie.

KIES JONG BOOMPIES REG

Otto sê die wegspringblokke vir ’n suksesvolle pekanneutboerdery is om die regte bome en die regte versameling kultivars te plant. Vir hom is dit baie belangrik om sy klante goeie raad te gee wanneer hulle nuwe boorde vestig. Hy praat uit ervaring van duur lesse wat hy op sy eie plaas geleer het.

“Hier by my het ek ’n boord van sowat 1 600 bome wat reeds gevestig was toe ek die plaas gekoop het. Ongelukkig is van daardie bome saailinge wat nooit geënt was nie. Dit duur baie lank vir sulke bome om in produksie te kom en hulle dra dan min, klein en harde neute.”

Pekanneutbome is soos avokado’s en party ander boomgewasse wat ’n heel ander kultivar as die saailing oplewer. Daarom moet ’n mens spesifieke plantmateriaal op saailingonderstamme ent om die gewenste kultivar voort te bring. Otto sê dit is belangrik dat voornemende kopers hulle vergewis van die gehalte van die bome wat deur kwekers aangebied word.

’n Goeie vertrekpunt is om op die Sappa- webwerf te gaan nalees oor die vereniging se boomstandaarde vir kwekerye. Dan sal die voornemende koper weet om uit te vra oor boomgrootte met ’n spesifieke verwysing na stamdikte en ander gehalte-aspekte. Otto gebruik hoofsaaklik Ukulinga-saad om onderstamme te kweek.

Duisende saailinge staan in rye, gereed om geskuif te word na nethuise waar hulle geënt word.

Daar is ander kultivars wat ook geskik is vir onderstamme, soos Riverside, maar Ukulinga aard goed in Suid-Afrika. Hy laat die saailinge twee jaar lank uitgroei voordat hy dit afsny en ander kultivars daarop ent. Bome word van September af geënt. Otto sê volgens sy ervaring kan ’n mens aanvaar dat sowat 60% van die ente gaan slaag indien jy weet wat jy doen.

Om te okuleer is meer geslaag, maar dit kan eers later in die seisoen gedoen word wanneer daar nuwe uitloopsels is. Dan is die bome se groeityd korter. Dit kan dus eers ’n jaar later as geënte bome bemark word. Bome wat op twee jaar oue onderstamme geënt is, kan ’n jaar later bemark word. Dit het dan al ’n mooi stam en groei sterk wanneer ’n mens hulle uitplant, sê Otto.

Teen die huidige tempo sal hy oor sowat ’n jaar elke jaar heelwat meer sulke boompies kan lewer. Deur met sterk, gesonde jong bome te begin, kan boere vroeër in produksie wees en só ’n paar jaar wen op ’n baie lang wagtydperk vir bome om optimale produksie te bereik.

“Ons kry sowat 1 kg tot 2 kg neute per boom van ons vyfjarige bome af en begin eers in die agtste jaar gelyk speel.” Pekanneute raak van die tiende jaar af regtig winsgewend, maar Otto sê ’n mens kan die proses verkort deur goed na jou bome om te sien.

“Jy kan ’n boom binne agt jaar tien jaar oud maak, of oor twaalf jaar tien jaar oud maak, dit hang af hoe jy vir hom sorg.”

Saailinge word in nethuise oorgeplant en uitgegroei voor hulle geënt word.

DIE REGTE KULTIVARS

Otto sê baie boere maak die fout om hul bome af te skeep in die wagjare omdat die bome nie geld verdien nie. Hy sê dit vertraag egter net die proses. Dit is belangrik om in die beginjare mooi na die bome te kyk, want dit sal verseker dat hulle eendag groot en produktiewe bome word.

Hy meen boere plant partykeer net ’n paar bome om te kyk hoe pekanneute werk en skiet hulself dikwels in die voet omdat hulle nie heeltemal verbind is tot die sukses van ’n pekanboerdery nie. “Ek meen ’n mens moet minstens ’n paar honderd bome plant. Jou belegging moet groot genoeg wees dat jy daarna kyk.”

Otto sê produksie is ook nie altyd optimaal nie omdat boere nie die regte kultivars aanplant nie. Daar is twee belangrike aspekte om te onthou. Eerstens kan vroulike pekanblomme hulself gewoonlik nie volkome bestuif nie en maak die boom op windbestuiwing staat.

“Jy kry ’n tipe een (protandriese) en tipe twee (protogiene) boom. Die stuifmeel sit aan die vorige jaar se groei, en die vroulike blomme wat die neute word, vorm op die nuwe jaar se groei. Die twee word gewoonlik nie op dieselfde tyd ryp nie (dichogamies).

“Bome is eenhuisig (tweeslagtig) en op ’n tipe een boom word die stuifmeel eerste ryp en ’n tipe twee se vroulike blom word eerste ryp,” sê Ivan. Die stuifmeel en die vroulike blom is elk vir gemiddeld sewe dae ryp (verskil tussen kultivars) en op party kultivars, soos Wichita, oorvleuel hierdie twee stadiums in ’n mate.

Hoewel Otto die meeste van die nuwe saailinge in sy kwekery ent, sê hy uit ’n kweker se oogpunt is dit suksesvoller om te okuleer. Dit kan egter eers later in die seisoen gedoen word wanneer daar nuwe uitloopsels is en dan is die tyd vir groei in die groeiseisoen vir die bome korter.

Wichita kan omtrent 80% van sy eie blomme bestuif, maar die eerste 20% is te vroeg vir die boom se eie stuifmeel. Om vollediger bestuiwing te kry, moet ’n mens ander kultivars soos Ukulinga plant. Ivan sê boere moet hul kultivarkeuse met ’n ervare kweker bespreek en seker wees dat daardie kweker die pekanbome se verskillende siklusse in daardie omgewing ken.

In gebiede met ’n lae humiditeit moet Wichita en Choctow byvoorbeeld ’n boer se hoofkultivars wees. Ivan hou noukeurig boek van die blom- en stuifmeelvorming van sy verskillende bome. Deur hierdie monitering kon hy sien wat is die beste kultivars om saam te plant en hoe Limpopo se klimaat ander kultivars as ander streke verg.

“In Hartswater het ek byvoorbeeld gesien boere gebruik hoofsaaklik Navaho om Wichita te bestuif en Wichita bestuif Choctow. By ons het ek gesien die Navaho is te vroeg; die stuifmeel val al af, dan is die vroulike blomme van die Wichita nog nie ontvanklik nie. Daar wil jy Ukulingas in jou boord hê.”

Hy sê dit kan maklik gebeur dat ’n mens so iets nie agterkom nie, veral as jy byvoorbeeld net Wichita-bome het omdat hierdie bome hulself 80% bestuif. Dit lyk dus of die bome heel goed presteer. Boere moet ook hul algemene windrigting in ag neem tydens aanplantings, want bome moet op die verste 45 meter wind-af van bestuiwers wees.

“Ons plant 10% tot 20% bestuiwers en die ander 80% is Wichita of Choctow.”

1 en 2: Perdemis is ’n sleutelbestanddeel in die kompos wat Otto op die plaas maak. Hy kry dit by ’n nabygeleë perdryskool. Die mis word eers in sy erdwurmbakke ingewerk. Eers nadat die erdwurms die mis deurgewerk het, gaan die helfte van elke bak se inhoud na die komposhoop. Hy vermy beesmis omdat voerkrale geneig is om hul beeste te ontwurm en die ontwurmingsmiddels in die mis ook sy erdwurms sal doodmaak.

MAAK HULLE SÓ GROOT

Otto sê een van die moeilikste dinge van pekanneutboerdery is om te wag om winsgewendheid te bereik. “Dit kos jou elke jaar geld wat jy eers baie later weer sien.” Hy het nie ander vertakkings in sy boerdery nie en konsentreer op bedrywighede waarby sy bome en kwekery regstreeks baat vind.

Hy gebruik byvoorbeeld erdwurms om beter kompos te maak en sorg dat hy plae in bedwang hou.

“Ons groot probleem in die Bosveld is termiete en die enigste genade is om bome sterk en gesond te hou en om die termiete met gif te bestry. Toe ons met die boerdery begin, het ek 3 000 bome aangeplant en toe ek by die einde kom en by die beginpunt gaan kyk om te sien hoe my nuwe bome groei, toe is amper 300 van hulle al opgevreet.”

In daardie stadium het Otto klapsproeiers gebruik en agtergekom dat die termiete die bome wat ’n bietjie minder water as die res gekry het, gevreet het. Hy het daar en dan oorgeskakel na mikrosproeiers waarmee hy meer beheer kan uitoefen oor die hoeveelheid water wat elke boom kry.

Voordat Otto die bome verkoop, word hulle in groot, diep houers geplant waar hulle vir ’n jaar staan totdat hulle sterk genoeg is om in ’n boord uitgeplant te word. Hy meen sterk bome het ’n beter kans op suksesvolle vestiging en kom vinniger in produksie.

Deesdae meng hy ook termietgif in die grond in wanneer hy nuwe bome plant. Sappa het geregistreerde produkte vir pekanneutbome en dit is die enigste produkte wat ’n mens mag gebruik, sê Ivan. Wat plantvoeding betref, is hy ’n groot voorstander van kompos en doeltreffende mikro-organismes.

Hy boer ook met erd-wurms; hulle verwerk die perdemis wat hy van ’n nabygeleë perdryskool aankoop sodat dit saam met die kompos ’n sponsagtige wortelbed vorm. Otto meen die sleutel tot ’n optimale neutdrag lê in die haarwortels van ’n boom, veral die wortels in die boonste 20 cm onder die oppervlak.

Hy gebruik elke moontlike stukkie plantmateriaal en afval om kompos te maak, maar sê hy sukkel om genoeg vir sy 160 ha te maak. Boonop kry die kwekery voorkeur as dit by kompos kom. Otto verkoop kompos saam met sy jong boompies met duidelike voorskrifte hoe om dit te plant.

Hy sê die kompos help dat die sanderige grond waarin pekanneute floreer, beter water hou.

Otto beveel aan dat boere in die Bosveld spasiëring van 10 m x 10 m vir hul pekanboorde gebruik. Rye van 12 m x 8 m wat van noord na suid loop, is vir hom optimaal.

Water is die sleutel tot pekanneutproduksie en hy het al op sy plaas gesien dat ’n boom aan die einde van ’n druplyn meer neute dra as die ander omdat dit ekstra water kry wanneer hy die druplyne skoonspoel. Hoewel hy albei stelsels het, verkies hy nie druppers nie, omdat die lyne maklik verstop en ’n mens nie verstoppings so maklik waarneem soos met ander besproeiingstelsels nie.

Otto waarsku oor die potensiële gevare wat groei-inhibeerders kan inhou en bly self weg daarvan. Hy sê op die Vaalhartsskema waar grondoppervlakte beperk is, word pekanbome met ’n spasiëring van 5 m x 8 m en selfs 5 m x 5 m geplant. Daar is dit belangrik om bome klein te hou vir sondeurdringing, maar in die Bosveld beveel Otto aan dat boere niks minder as 10 m x 10 m-spasiëring gebruik nie.

“Rye van 12 m x 8 m wat van noord na suid loop, is vir my optimaal. “Ons beperkende faktor is nie grond nie. Ons het baie grond hier, ons aanplantings word eerder deur die beskikbaarheid van water beperk.” Nog ’n voordeel van ’n pekanneutboom is dat dit nie arbeidsintensief is nie en die boerdery kan grotendeels gemeganiseer word.

Bome word aan hul stamme geklamp met ’n masjien wat gewoonlik agter op ’n trekker gemonteer word en die ryp neute word dan uitgeskud. Otto sê dit is dus belangrik om jong boompies so te snoei dat hulle ’n sentrale stam het wat maklik deur die skudmasjien se kake vasgevat kan word.

Hy snoei sy bome ook dat hulle nie skerp hoeke of vurke in die hoofstam vorm nie, want dit is net ’n breekrisiko as die wind opkom. Om die bome te skud, het ’n mens ongeveeer 1,8 m skoon stam aan die onderkant van ’n boom nodig. Die bome word dan geskud oor nette wat daaronder oopgegooi word om die neute op te vang.

Waar dit vir vrugteboere oor vruggrootte gaan, is dit die saad wat vir pekanneutboere belangrik is. Hoe groter die neute, hoe meer verdien boere daarvoor per kilogram.

HOE GROTER, HOE BETER

Pryse van pekanneute word deur grootte en kernvulpersentasie bepaal. Tans verdien boere min of meer R72 per kilogram vir ekstragroot neute, maar dit wissel saam met die wisselkoers. Kultivar, klimaat, water en voeding speel ’n groot rol. “Pekanbome is geneig om sinkaanvullings nodig te hê, en ek stuur jaarliks blaarmonsters vir ontleding.”

Party kultivars lewer groter neute as ander, maar Otto waarsku dat ’n mens jou nie daarteen moet blindstaar nie. “Kultivars het almal voor- en nadele en ’n Mohawk, wat van die grootste neute dra, is byvoorbeeld geneig om meer prominente wisseldrag te hê.”

Die prys val sommer R8 tot R10 van ekstragroot tot groot neute en nog R10 vir laekernneute. Die ideaal is dus om kultivars te kies vir minimale wisseldrag en bome dan te bestuur vir optimale neutgrootte. Die ander voordeel van pekanneute is dat produksiekoste betreklik laag is.

Otto sê dit beloop sowat 15% tot 20% van ’n mens se gemiddelde inkomste, wat van R150 000 tot R250 000 per hektaar kan wees. Boordvestiging kan daarby getel word en dít kan R350 tot R500 per boom kos, na gelang van die mate waarin die grond reeds ontwikkel is. Boere wat moet ontbos en moederlyne installeer, kan tot R650 per boom opdok om nuwe boorde te vestig.

Otto sê in Limpopo se Waterbergstreek is dit heel realisties om 2 ton pekanneute per hektaar van volwasse boorde te verwag, maar hy glo dit sal moontlik wees om 3 ton per hektaar te oes as ’n mens mooi na jou bome kyk. Die neutgewig per boom van sekere van sy bome wat nou naby aan volwassenheid is, wys reeds dat sy teiken binne sy bereik is.

LBW VRA...

Mnr. Ivan Otto 

WAT WAS JOU BESTE BESLUIT NOG?

Die dag toe ek my vrou gevra het om met my te trou.

WIE WAS JOU MENTOR?

Ek sou sê my ouers, albei is gebalanseerde voorbeelde van toegewydheid, nie net teenoor werk nie, maar ook familie.

DIE BESTE RAAD WAT JY NOG GEKRY HET?

Dit is maar die beginsels waarvolgens ek leef, so seker ook van my ouers:

  • Staan een keer meer op as wat jy val;
  • doen alles na die beste van jou vermoë, soos jy dit vir God doen;
  • doen aan ander of tree op teenoor ander soos wat jy verwag hulle moet aan jou doen.

WAT IS DIE GROOTSTE BOERDERYFOUT WAT JY GEMAAK HET?

Ek dink die meeste pekanneutboere meen, ek inkluis, hulle moes al lankal begin bome plant het.

WAT IS JOU GROOTSTE probleem?

Beslis die bestuur van mense.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

My rekenaar en selfoon (of is dit nou dieselfde ding?) klink dalk primitief, maar ek gebruik dit vir alles van die aan- en afskakel van besproeiing tot die vogmonitering van bome.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.