Aartappels Suid-Afrika en Landbouweekblad bied in Augustus die eerste van ’n reeks aanlyn kortkursusse aan wat daarop gemik is om raad en praktiese wenke aan boere te gee wat maklik op die plaas toegepas kan word.

Prof. Jacquie van der Waals, wat al langer as 20 jaar navorsing oor aartappelsiektes doen, het die aartappelpatologie-program aan die Universiteit van Pretoria in die lewe geroep. Haar ervaring en kennis van veral mal- en vroeëroes, swartskurf (Rhizoctonia) en poeierskurf word internasionaal herken en hoog aangeskryf.

Van der Waals gaan dié siektes behandel tydens die kursus se drie sessies en raad gee oor hoe om die siektes te voorkom, vroeg te identifiseer en so doeltreffend moontlik te bestuur indien dit vatplek in jou aartappels gekry het. Die meeste van hierdie siektes gedy wanneer die aartappelplant onder stres verkeer, wat dikwels gebeur in die geval van ondoeltreffende besproeiing.

Prof. Martin Smit, ook verbonde aan die Universiteit van Pretoria, is al langer as 30 jaar toegespits op die verbouing en besproeiing van aartappels. Hy gaan die verskillende aspekte van besproeiing behandel met die doel om stres by aartappels te verminder om gesonder plante te verseker.

Die kursus word op 11, 18 en 25 Augustus om 14:00 aangebied en deur Syngenta geborg. Elke sessie sal vir 72 uur aanlyn beskikbaar wees. Real IPM borg die studiemateriaal.

Inligting

Plek: Aanlyn op Crowdcast.

Koste: R100 per sessie.

Navrae oor kaartjies: Clint.Ockhuis@media24.com

Navrae oor program: Johan.vanderMerwe@landbou.com

Sessie 1

Datum: Dinsdag 11 Augustus 2020

Kaartjies: Koop hier

In hierdie sessie gee prof. Jacquie van der Waals inligting oor Alternaria alternata, die oorsaak van malroes en Alternaria solani, die patogeen wat vroeë-oes veroorsaak. Dit kom gereeld voor wanneer aartappels plantstres ervaar of wanneer dit te geil groei. Van der Waals sal bruikbare hulpmiddels en bestuurspraktyke uitlig oor hoe om die siektes te voorkom.

In sy sessie oor besproeiingsbeginsels gaan prof. Martin Steyn verduidelik hoe om nat-, hitte- en droogtestres in aartappels te voorkom.

Mnr. Francois van Deventer van Syngenta gaan meer lig werp op Phytophthora infestans, wat laatroes veroorsaak. Hierdie oomiseet, wat floreer in koel en klam omstandighede, kan groot skade aanrig. Van Deventer sal praktiese hulpmiddels verskaf oor hoe om skade tot die minimum te beperk.

Sessie 2

Datum: Dinsdag 18 Augustus 2020

Kaartjies: Koop hier.

Poeierskurf is ’n voorkombare siekte wat talle boere baie geld kos. Prof. Jacquie van der Waals sal al die stadiums bespreek waarin die regte bestuursaksies produsente duisende rande kan bespaar as verliese weens die siekte beperk kan word. Poeierskurf kom dikwels weens oornat-toestande voor en daarom sal prof. Martin Steyn se sessie oor waterbestuur vir gesonde plante goed aansluit by die sessie oor die bestuur van poeierskurf.

Sessie 3:

Datum: Dinsdag 25 Augustus 2020

Kaartjies: Koop hier.

Omdat Rhizoctonia solani (swartskurf) taamlik doeltreffend met biologiese middels bestry kan word en die sukses van die middels afhanklik is van volgehoue goeie bestuur in die landerye, is die gereedskap wat prof. Jacquie van der Waals in hierdie sessie aanbied noodsaaklik. 

Besproeiingskedulering is ook ’n funksie van intensiewe bestuur en sluit dus aan by die bestuur van swartskurf. Prof. Martin Steyn sal raad gee oor skedulering, maar ook die skeduleringshulpbronne en tegnologie wat beskikbaar is, bespreek.

Hier is ’n uittreksel uit die tweede sessie wat oor poeierskurf handel. Prof. Jacquie van der Waals gee hier raad oor die optimale temperatuur tydens planttyd om infeksie weens spongospora (poeierskurf) te voorkom.