Lede van die publiek kon kaartjies koop en meer as 200 belanghebbendes van so ver as Namibië en Australië het ingeskakel.

Me. Chloe Clegg, ’n suikerriet-en-groenteboer van Harding in KwaZulu-Natal, het ’n sessie aangebied oor vermi-kompos en kompostee. Sy het verduidelik hoe sy erdwurmkompos en kompostee in hul boerdery vervaardig en as ’n blaarvoeding aanwend. Met dié praktyk het sy die opbrengs op die swakste grond op hul plaas verdubbel. 

“Die grootste faktor vir die verbetering in opbrengs is dat die grond se waterindringing en waterhouvermoë verbeter het danksy die toediening van erdwurmtee. Die mikrobe-lewe in die tee het die grondstruktuur verbeter,” het sy gesê.

Die platform waarop op die webinaar aangebied is, het dit vir die gehoor moontlik gemaak om vrae aan die sprekers te rig en met die organiseerders te kommunikeer. Die vraag wat die meeste aan Clegg gerig is, is hoe sy die erdwurmkompos op die plaas uitstrooi. Sy het verduidelik sy gebruik ’n Radium-strooier om die erdwurmkompos in geoeste suikerrietlande uit te strooi en waar lande vir die essensiële olies voorberei is.

“Ons kry baie goeie resultate deur kompostee te maak en as ’n blaarvoeding of grondbespuiting toe te dien.”

Me. Sheila Storey, ’n spesialis op die gebied van grondlewe, plantprestasie en aalwurmbekamping en eienaar van die Nemlab-grondgesondheidslaboratorium, en dr. Brendon Neumann, hoof van die Business Innovations-platform by Madumbi, het sessies oor onder meer grondlewe en risosfere aangebied. 

Mnre. Jaco Visser van Viking en Charl van Reenen van Omnia het terugvoering gegee oor die Olifants-herlewingsgroep se winterdekgewasproewe in die omgewing van Citrusdal.

Die webinaar is nog tot 5 Junie aanlyn beskikbaar en kan teen R50 (die oorspronklike kaartjiekoste) gekyk word. Stuur e-pos aan Clint Ockhuis by clint.ockhuis@media24.com om toegang te reël. Soortgelyke aanlyn geleenthede is in die vooruitsig.