Sommige boerderye kry dit al drie geslagte lank reg.

Die top-boere word elke jaar volgens streng kriteria gekies. Dit wakker gesonde mededinging tussen die druiweboere aan, meen mnr. Francois Pienaar, uitvoerende hoof van Wellington Wyne.

Die toekenning as produsent van die jaar is aan mnr. Theo Heydenrych van die plaas Hexberg oorhandig. Mnr. Nic Ciolli van die plaas Vondeling in die Voor-Groenberg-area se blok Pinotage is as die kelder se beste wingerdblok aangewys. Mnr. Bernhard Behne van Behne Boerdery in die Perdeskoen-gebied se Chenin blanc is as die beste witdruiwe bekroon, terwyl mnr. Martin Malan van Nabygelegen in Voor-Groenberg se Merlot die kelder se beste rooidruiwe opgelewer het.

Pienaar sê die kelder het in 2010 begin om erkenning te gee aan sy beste druiweboere. In dieselfde jaar het Wamakersvallei-wynkelder en Wellington Koöperatiewe Wynkelder saamgesmelt om Wellington Wyne te vorm. In 2012 het Bovlei-wynkelder ook deel geraak van die kelder.

“Sonder die passie en harde werk van ons druiweboere sou die sukses en gehalte van ons wyne nie moontlik gewees het nie. Sommige boerderye verskaf al vir drie generasies aan ons druiwe.”

Die kelder het 56 produsente-lede. Almal werk nou saam met die wynmakers en wingerdboukundiges om die beste druiwe te produseer en met die hand uit te soek.

“Ons is toegewyd daaraan om die hoogste gehalte en uitsonderlike wyne te produseer. Dit is die hoeksteen van elke besluit wat ons neem. Respek vir, en die handhawing van die gesondheid van ons grond, is van die pilare van ons handelsmerk. Die area se terroir, saam met die produsente se toewyding, lewer oesjaar ná oesjaar goeie wyne.”