Dié internasionale bloubessiekwekery wat meer as 40 jaar gelede in Oregon in Amerika op die been gebring is, sal teen Desember vanjaar die eerste plante uit sy Suid-Afrikaanse kwekery in die Paarl aan produsente lewer.

Fall Creek Suid-Afrika se kwekery is onder leiding van mnr. Burgert van Dyk, Fall Creek se direkteur van die Suider-Afrika-streek, op die been gebring. Mnr. Wian Mouton, handelsbestuurder van die kwekery in Suid-Afrika, het op Fall Creek se onlangse webinaar gesê daar bestaan ’n gesonde uitvoermark vir Suid-Afrikaanse bloubessies.

“Van Augustus tot Desember is daar ’n groot bemarkingsgeleentheid in Europa, omdat hulle produksie in Julie tot ’n einde kom. Dit pas die plaaslike bedryf soos ’n handskoen, omdat dit die presiese tydgleuf is waarin ons produsente produseer. Daar is ook heelwat geleentheid vir groei in die verbruik in Europa. Europeërs eet ongeveer 12,6 kg piesangs en ongeveer 1,6 kg aarbeie per persoon per jaar, maar slegs 180 g bloubessies per persoon per jaar. Ons glo hierdie verbruik kan nog heelwat vergroot.”

Dis hierdie geleentheid wat Fall Creek oortuig het dat daar steeds ’n groot genoeg geleentheid in die Suid-Afrikaanse bloubessiebedryf bestaan om ’n kwekery in Suid-Afrika te vestig.

Mouton het ook Asië en veral China as moontlike geleenthede uitgesonder. “As gevolg van die hoë koste om daarheen uit te voer, is dit egter nog nie ’n groot mark vir ons nie.”

Geen kontrakte nie

Fall Creek se sakemodel verskil van die meeste ander bloubessiekwekers in Suid-Afrika deurdat produsente nie onderhewig is aan ’n lewerings- of bemarkingskontrak nie. “Fall Creek se kultivars is wel onderhewig aan tantieme en lisensietariewe. Ons deure staan oop vir die produsente wat aan professionele vereistes voldoen en wat bereid is om hulle te verbind tot ’n opbouende bydrae tot die bloubessiebedryf en die beskerming van die Suid-Afrikaanse bloubessiehandelsmerk.”

Die kweek van bloubessieplante, kultivarontwikkeling en tegniese ondersteuning aan produsente is Fall Creek se fokus-area. Hy is nie betrokke by die bemarking van bloubessies nie. “Hierdie model maak dit moontlik vir produsente om hul vrugte in enige bemarkingsprogram in te skryf wat by hul besigheid inpas.”

Hoewel Mouton bevestig dat daar toenemend druk is op die winsgewendheid van bloubessies, meen hy daar is steeds oorgenoeg ruimte in die Suid-Afrikaanse mark vir uitbreiding. “Die bedryf is vinnig besig om te konsolideer. Die verbruiker raak al hoe meer gesofistikeerd en wil nie meer suur of pap bloubessies hê nie. Hierdie gesofistikeerdheid spoel oor na die produsente en die verwagting en vereistes vir die beste gehalte bloubessies raak al hoe strawwer. Die tyd van maklik geld maak met ’n middelmatige produk is iets van die verlede.”

Kontak Wian Mouton by wianm@fallcreeknursery.com met navrae.