Die produksie van makadamias brei wêreldwyd vinnig uit. ’n Groot deel van die nuwe makadamia-aanplantings is egter nog nie in produksie nie. Hoewel Suid-Afrika se totale neutproduksie betreklik klein is, is Suid-Afrika voor ander lande met die produksie van makadamias.

Suid-Afrikaanse produsente is uiters doeltreffend en aanvaar nuwe uitdagings en tegnologie vinnig. Hulle is bekend daarvoor dat hulle vinnig op geleenthede reageer en vinnig surplusse produseer. Makadamias is ’n uitvoerproduk, maar die verwerkers van primêre produkte en die bemarkers van sekondêre produkte hou dikwels nie tred met ontwikkelinge in die mark om die verhoogde aanbod uit te voer nie.

As Suid-Afrika se verwerkingsvermoë nie byhou met die internasionale vraag na gedopte makadamias nie, sal plaaslike produsente afhanklik wees van die ongedopte uitvoermark. Die winsgewendheid van makadamiaproduksie op marginale grond gaan eerste geraak word wanneer die aanbod die vraag begin oorskry.

Die wêreldwye produksie van makadamias behoort van 186 624 ton verlede jaar met 13% tot 210 101 ton vanjaar uit te brei. Suid-Afrika is die grootste makadamiaproduserende land, gevolg deur Australië. Suid-Afrika se aandeel in makadamiaproduksie was verlede jaar 24%. Suid-Afrika het verlede jaar 44 610 ton makadamias gelewer, terwyl Australië 43 000 ton gelewer het. Kenia het 30 500 ton gelewer.

Suid-Afrika, Australië en Kenia lewer gesamentlik 63% van die wêreld se makadamias. Die wêreldwye makadamiaproduksie gaan vanjaar op ’n jaargrondslag met 23 477 ton toeneem. Die grootste toename is in Suid-Afrika met 9 390 ton. China se produksie gaan met 8 000 ton toeneem, gevolg deur Kenia (2 000 ton) en Brasilië (1 700 ton).

Dié vier lande verteenwoordig 90% van die groei in die totale wêreldproduksie van makadamias van 2017 tot 2018. Suid-Afrika se makadamiaproduksie gaan vanjaar tot 54 000 ton toeneem. Die plaaslike bedryf verwag dat die huidige makadamiaproduksie binne die volgende vyf jaar tot nagenoeg 100 000 ton kan verdubbel.

’n Groot deel van Suid-Afrika se makadamias word na China uitgevoer. China se makadamiaproduksie het verlede jaar 10 000 ton beloop en die verwagting is dat die produksie daar vanjaar tot 18 000 ton kan toeneem. China se produksietoename in makadamias beteken dié land se behoefte aan ingevoerde makadamias kan in die toekoms daal as hy daarin slaag om ingevoerde makadamias van goeie gehalte met plaaslike produksie te vervang.

Suid-Afrika se pryse vir ongedopte makadamianeute (meestal na die Ooste) het verlede jaar met net 2% gestyg ondanks ’n toename van 47% in uitvoer. Die uitvoer van gedopte makadamianeute (meestal na Europa) het met 22% toegeneem, terwyl die prys met 18% gedaal het.

Gevolgtrekking

Die Suid-Afrikaanse makadamiabedryf moet belangrike vrae beantwoord: Hoe gaan die uitbreiding van makadamia-aanplantings oor die volgende vyf jaar lyk en watter probleme kan produksie beperk? Hoe gaan die uitvoermark vir gedopte en ongedopte neute ontwikkel en groei?

Watter markte en marksegmente moet betyds ontwikkel word om die toename in aanbod te hanteer? Suid-Afrika sal aanhou om ongedopte neute na China uit te voer.

Teenoor vyf jaar gelede behaal Suid-Afrika goeie pryse met die uitvoer van ongedopte neute na China, maar die prys van gedopte neute na die Europese Unie (EU) het skerp gedaal. Suid-Afrika het ’n mededingendheidsvoordeel bo Australië in die ongedopte neutmark na China.

Histories het Suid-Afrika egter tot op hede net-net beter gevaar in die uitvoermark vir ongedopte makadamias. ’n Voldoende aansporing ontbreek gevolglik om die gedopte eetmark en verwerkingskapasiteit daarvoor verder te ontwikkel. Dit kan Suid-Afrika se ontwikkeling in dopkapasiteit beperk.

Plaaslike produsente moet seker maak hul toekomstige uitbreidings van makadamiaproduksie is gegrond op die beste hulpbronne, soos grond en water. As China slaag met sy strategie vir invoervervanging en invoer uit Suid-Afrika verminder, moet plaaslike produsente steeds winsgewend kan produseer en ongedopte neute kan lewer as Suid-Afrika se verwerkingsvermoë vir gedopte neute agterweë bly.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.

Bron: Internasionale neut- en droëvrugteraad (INC).

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.