Rolblaar is ’n reuseprobleem in die plaaslike wynbedryf. Dit is veral opvallend in herfs, wanneer rooi kultivars se blare so mooi verkleur – poskaartmooi, maar inderwaarheid ’n nare teken dat rolblaar die wingerd beet het.

Prof. Gerhard Pietersen van die departement genetika aan die Universiteit Stellenbosch (US) het tydens die onlangse VinPro-streeksinligtingsdae stappe verduidelik om die rolblaarvirus op sy plek te hou.

Me. Lucinda Heyns en prof. Gerhard Pietersen (naasregs) het tydens die VinPro-streeks­inligtings-dae met wynboere gesels oor die voordele van rolblaarbestuur. By hulle is die ander sprekers — van links mnre. Dawid Saayman, Eben Archer, Conrad Schutte, Pierre Snyman en Willem Botha.

“Ek kan nie verstaan waarom elke nuwe wingerdblok nie deur dié prosesse gaan nie.Die voordele is enorm, want dit kan die leeftyd van ’n wingerdblok verleng. Die 20 tot 25 jaar wat ons wingerde moet vervang, is te gou. As ons die tydperk kan verleng en produktiwiteit hoog kan hou, sal dit geweldig voordelig wees,” sê hy.

TREE BETYDS OP

Volgens Gerhard beskadig rolblaarsiekte die vaskulêre weefsel van wingerde, wat dit minder groeikragtig maak en die korrels swak laat verkleur. Die druiwe raak ook onegalig ryp en dit duur lank voor suiker in die korrels opbou, wat weer ’n invloed het op die gehalte van die wyn wat daarvan gemaak word.

Die wingerdrolblaar- geassosieerde virusras (GLRaV-3) versprei eksponensieel deur wingerde. Volgens Gerhard kan die aantal stokke wat besmet word, jaar ná jaar verdubbel. Hy het ’n voorbeeld gewys van ’n wingerd wat in 2001 altesaam 47 siek stokke bevat het. ’n Jaar later was daar 99 besmette stokke.

Dié patroon het aangehou. Hy het boere aangemoedig om hul bes te doen om die siekte in toom te hou, voor eksponensiële besmetting begin voorkom. “As jou besmettingsvlakke eers te hoog is, raak dit eintlik nie meer die moeite werd om die siekte te bekamp nie. Dis net te duur.”

GLRaV-3 kom slegs by wingerd voor, wat beteken dit skuil nie in onkruid of inheemse plante nie. Dit is ook nie meganies oordraagbaar nie (byvoorbeeld, die sap van een stok sal dus nie deur ’n snoeiskêr die virus aan ’n ander stok oordra nie). Dit word wel deur verskeie spesies witluise en dopluise oorgedra.

“Ongelukkig het ons in Suid-Afrika die doeltreffendste van al die witluisvektore. Ongelukkig bied nie een van die Vitis vinifera-kultivars (wyndruiwe) weerstand teen die virus nie. ’n Kultivar soos Chenin blanc sal dalk nie die simptome toon nie, maar kan steeds besmet word. Dit is dus verdraagsaam, maar nie immuun nie.”

Die simptome van die rolblaarvirus is duidelik by rooi kultivars, maar moeilik sigbaar by wit druifkultivars. Dit maak bekamping moeilik by die wit kultivars.

Só vinnig kan die virus deur ’n wingerd versprei. FOTO: GERHARD PIETERSEn

OP TWEE MANIERE BESMET

Wingerdstokke kan op twee maniere besmet word – deur besmette plantmateriaal of deur witluise wat op ’n besmette stok voed en die virus dan oordra. Die oordrag kan wees van ander stokke in die blok, opslagmateriaal, wortelreste of van ander wingerde in die omgewing.

Wanneer die siekte deur plantmateriaal op die plaas beland, is dit onwaarskynlik dat jong wingerde in die eerste jaar simptome sal toon.

“Dis seldsaam om dit so vroeg te sien, maar as daar windskade voorkom, sal ’n mens ringulering op die bas op grondvlak sien. Dit maak rolblaaragtige simptome. Gewoonlik verloop daar egter ’n rukkie voor die plant die simptome toon,” sê Gerhard.

Een manier om te keer dat jy die rolblaarvirus deur nuwe plantmateriaal na jou plaas bring, is om materiaal met driesterstatus te plant. Dié moederblokke word verbou in gebiede wat vry is van die virus. Ander plantmateriaal word in die wynbedryf verbou, daarom is daar altyd ’n skraal kan dat dit besmet kan word.

Op plase soos Vergelegen word die rolblaarvirus met wortel en tak uitgeroei. Nie net word hul wingerde ouer nie, wat ekonomiese voordele inhou, maar die wyngehalte is ook beter.

BEKAMP WITLUISE

Gerhard beveel aan dat jong wingerde kort ná vestiging met sistemiese insekdoders behandel word. Daarna moet boere wag tot die plante simptome begin wys en dan moet plante onmiddellik in hul geheel verwyder word.

“Waarom insekdoder? Want witluise wat op so ’n stok voed, kan die virus versprei na plante in die onmiddellike omgewing. Ons noem dit sekondêre verspreiding. Dis die hoofoorsaak van nuwe siek plante. Sistemiese insekdoder keer verdere verspreiding.

“As daar in jaar een net een siek plant in ’n wingerd is, sal dit die volgende jaar twee wees, dan 16 en dan 52…dit maak dus sin om die aanvanklike siek plant so gou moontlik te verwyder.”

Gerhard maan dat die stok in sy geheel – wortels en al – verwyder moet word, anders kan dit ’n bron van besmetting bly.

“As jy in ’n vroeë stadium van die infeksiekurwe die stokke uithaal, kry jy onmiddellik ’n jaar of twee se leeftyd ekstra uit daardie blok. Dis noodsaaklik om jaarliks siek stokke uit te haal, want dan kan jy die siekte op ’n beheerbare vlak hou.”

Dit is baie belangrik om opslagplante te verwyder, want dit kan ook as gashere vir witluis dien.

“Opslag kom voor as jou blokvoorbereiding nie ordentlik gedoen is nie, al die ou reste nie verwyder is nie of daar nie ’n braaklê-tydperk is waartydens enige opslag wat opkom, uitgehaal kan word nie. Die braaklê-tydperk gaan nie oor tyd nie, maar eerder oor die doeltreffende verwydering van die ou blok se materiaal,” was Gerhard se raad.

As die witluis van buite die blok kom – byvoorbeeld die wingerd langsaan – sien jy tipies rolblaarsimptome op die kante van die wingerd. Volgens Gerhard kan witluise op werktuie en werkers se klere gedra word of dit kan deur die wind oorgewaai word.

“Op landgoedere waar ons blokke skoongemaak het, raak ons nie heeltemal ontslae van die virus nie. Daar is steeds baie lae vlakke van besmetting.

“Dit wil dus voorkom of die vektore oor lang afstande vervoer kan word.” Dit beteken al die omliggende blokke moet bestuur word – hetsy deur sistemiese insekdoder, parasitoïede (wat eiers in die witluise lê en dan op die witluise voed) of roofinsekte.

Nog ’n opsie is om boerderybedrywighede só te beplan dat daar altyd eers in jong, skoon blokke gewerk word voor ouer, siek blokke getakel word. As dit nie moontlik is nie, beveel Gerhard aan dat werktuie gewas word as daar van ou na nuwe blokke beweeg word om van die witluise ontslae te raak.

Hy wys ’n foto van ’n wingerd wat 18 jaar oud is. Die foto is in die herfs geneem, maar daar is geen teken van die kenmerkende rooi blare wat dui op GLRaV-3 nie. “Daar is geen rede waarom wingerdblokke nie langer kan lewe nie. Vitis vinifera kan baie oud raak, selfs aansienlik meer as ’n 100 jaar.”

Wyngehalte deur rolblaar gepootjie

Hoewel sommige wynmakers glad nie rolblaar kan verdra nie, meen ander weer hulle kan heel skaflike wyn maak met druiwe uit wingerde wat met rolblaar besmet is. Maar wat is die ware toedrag van sake?

Volgens me. Lucinda Heyns, koördineerder van tegnologie-oordrag by Winetech en die instituut vir wingerd-en-wynwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het ’n onlangse proef getoon dat rolblaar wel wyn se sensoriese, chemiese en gehalte-eienskappe benadeel.

Vir die studie het hulle vier blokke wingerd gekies — ’n blok Chardonnay, ’n blok Merlot en twee blokke Cabernet Sauvignon. Daarna het hulle stokke op grond van voorkoms gaan klassifiseer as gesond of siek en dit toe met Elisa-toetse bevestig.

Lucinda sê by die rooi kultivars was daar ’n sterk verband tussen wat hulle in die wingerd gesien het en wat deur die laboratorium bevestig is. By die Chardonnay, aan die ander kant, was daar stokke wat gesond voorgekom het, maar die Elisa-toetse het bewys dit is inderdaad besmet.

“Dit bevestig dat daar ’n latente tydperk is voor die stok simptome toon.” Die navorsers het wyn gemaak van druiwe uit die geselekteerde stokke. Die druiwe is op dieselfde dag gepars, behalwe druiwe van besmette Cabernet Sauvignon-stokke wat ’n ekstra twee weke aan die stok gelos is.

Reeds teen hierdie tyd was daar ’n duidelike verskil in voorkoms tussen die Chardonnay-trosse van stokke wat simptome toon en dié daarsonder. Ook wat Cabernet Sauvignon betref, was die besmette stokke se druiwe se kleur nie so diep nie, en die sap se kleur het ook merkbaar verskil.

“Die chemiese ontledings het geen verrassings opgelewer nie. Wyn van die besmette stokke se druiwe het in die algemeen laer suikervlakke, ’n laer pH, ’n laer alkoholvlak, ’n hoër suurvlak, minder antosianien en kleurdigtheid en minder tanniene en fenole gehad,” het Lucinda tydens VinPro se streeksinligtingdag op Stellenbosch gesê.

’n Proepaneel is ingespan om die verskillende wyne te proe en evalueer. Die suiker- inhou van die Chardonnay-druiwe (sonder simptome) was teen oestyd op 22,3 °B, terwyl dié met simptome op 20 °B gestaan het.

Die vernaamste resultate was dat die wyn van simptomatiese stokke beskryf is as waterig en liggewig, terwyl die stokke sonder simptome wyn met ’n mediummondgevoel opgelewer het. Die paneel het die simptomatiese stokke se wyn ’n punt van 10,4 uit 20 gegee, terwyl die wyn van gesonde stokke 12,8 behaal het.

Die gesonde Merlot-druiwe se suiker was teen oestyd 25,3 °B, terwyl siek stokke se druiwe teen 23,1 °B geoes is. Die geure wat die proeërs in die twee wyne opgetel het, was soortgelyk, maar die wyn van die siek stokke is as “ongebalanseerd” beskryf.

Toe dit by die puntetelling kom, het die gesonde stokke se wyn 12,3 op die telbord aangeteken, en die siek stokke se wyn slegs 9,3. Die suikers van drie Cabernet Sauvignon-wyne (gesond, besmet en twee weke later geoes), was onderskeidelik 25,1 °B, 23,1 °B en 25,3 °B.

Wat die sensoriese ontleding betref, het die proeërs net die wyn van gesonde stokke beskryf as wyn met ’n “vol mondgevoel” en “baie gebalanseerd”. Die puntetelling was onderskeidelik 16,2; 14,9 en 13,9. By die tweede Cabernet Sauvignon-blok se wyne is die laaste twee wyne (besmet en later geoes) as “ongebalanseerd” beskryf.

Die punte was as volg: 15,5; 14 en 14,4. “Dis nie so ’n groot verskil nie, maar daar is beslis ’n neiging dat die gesonde druiwe die hoogste punte kry.”

Lucinda sê afgesien daarvan dat ’n mens kan aflei dat rolblaar beslis ’n invloed op die chemiese en sensoriese wynsamestelling het, is dit ook duidelik dat hoe langer die druiwe aan die stokke hang, hoe nadeliger is die invloed daarvan op die wyngehalte.

Wynmakers het reeds gesê dat die resultate van dié proef hulle anders laat dink oor rolblaar in die wingerd. “Sommige het gesê hulle oorweeg dit nou om besmette stokke afsonderlik te pars.”

NAVRAE: Prof. Gerhard Pietersen, e-pos: gpietersen@sun.ac.za of me. Lucinda Heyns, e-pos: leheyns@sun.ac.za; tel. 021 808 9238.