Die geskiedenis van wingerdbou strek ver terug in Europa. In Praag in die Tsjeggiese Republiek, waar Landbou.com onlangs besoek afgelê het, groei wingerdstokke steeds waar St. Wenceslas aan die begin van die tiende eeu ’n wingerd aangelê het. Dit word bestempel as die oudste wingerd in Bohemia.

Die wingerd is in die middel van die stad op die suidelike hang van dieselfde heuwel waar die Praag-kasteel, die massiewe St. Vitus-katedraal en die paleise van Tsjeggiese adellikes staan.

Uiteraard bestaan die oorspronklike wingerdstokke nie meer nie. In die eerste jare van die huidige eeu is die wingerd herontwikkel. Dit is in 2008, met die 1 100ste herdenking van St. Wenceslas se geboorte, vir die publiek oopgestel. Net twee kultivars, Riesling en Pinot noir, is in die wingerd aangeplant.

Bronne:  http://www.hrad.cz; www.czechtourism.com.