Prof. Piet Goussard het Donderdagaand (7 Februarie) die gesogte 1659-erepenning ontvang tydens die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid by die Groot Constantia-landgoed naby Kaapstad. Dit is die eerste keer dat die erepenning aan ’n wingerdboukundige toegeken word.

Prof Piet Goussard,
Prof. Piet Goussard. Foto: Wineland Media

Dié eerbewys word sedert 1974 oorhandig aan persone of instansies wat ’n wesenlike en positiewe rol in die wynbedryf speel, ’n besonderse nalatenskap toon en denke verander.

Dr. Ernest Messina, voorsitter van die Groot Constantia-raad, wat die wenner aanwys, het gesê die wynbedryf bestaan uit verskeie belanghebbendes wat elkeen ’n belangrike rol vervul.

“Vanjaar se toekenning is ’n verdere stap om erkenning te gee aan ’n belangrike aspek van die wynbedryf, naamlik navorsing en die akademie. Die raad is verheug dat dié aspek van die wynbedryf erken kan word. Navorsing is noodsaaklik vir die volgehoue uitbreiding van die bedryf,” het Messina gesê.

Goussard het in 1965 as ’n voorgraadse student by die Departement Wingerdbou en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch aangesluit en in 2010 daar afgetree as ’n professor in wingerdbou.

Prof. Maret du Toit, van dieselfde departement, het gesê die 45 jaar wat Goussard aan dié departement verbonde was, sowel as al die prestasies wat hy in sy loopbaan behaal het, is ’n bewys van sy professionele toewyding tot die bevordering van wingerdbou as ’n wetenskap en die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die algemeen.

“Prof. Goussard was onbaatsugtig in sy akademiese loopbaan. Hy het deurgaans belangrike bydraes gelewer sonder om ’n groot ophef daarvan te maak. Danksy sy absolute toewyding tot wingerdboukunde en sy liefde en geesdrif vir die windgerdstok is hy ’n waardige kandidaat om die 1659-erepenning te ontvang as erkenning vir wat hy aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf gebied het,” het Du Toit in haar motiveringsbrief geskryf.

Naas verskeie publikasies, wetenskaplike artikels, deelname aan plaaslike en internasionale konferensies en toekennings vir sy navorsingswerk, is Goussard ook bekend om sy puik foto’s van druiwe en wingerde.

Oor sy werk as dosent het Goussard gesê “sinvolle onderrig in teorie en praktika sowel as ’n liefde vir die wingerdstok en sy produkte moes by studente ingeskerp word – veral by diegene wat nie van plase afkomstig was nie. Die hantering van dié uitdaging het ongetwyfeld daartoe bygedra dat geïnspireerde, afgestudeerde studente later leiersposisies kon beklee.

“Navorsing is ’n krities belangrike komponent van die departement, maar die resultate/uitsette – hetsy vir ’n meesters- of doktorstudie of vir welke projek ook al – moes altyd sinvol en suksesvol in die bedryf toegepas kon word.”

  • Vorige wenners sluit in al die werkers in die wynbedryf, mnre. Charles Back, Danie de wet, Jan Scannell en oudpres. Nelson Mandela.
  • Die eerste wynoes in Suid-Afrika is op 2 Februarie 1659 deur Jan van Riebeeck in sy dagboek aangeteken. Groot Constantia is die oudste wynproduserende landgoed in Suid-Afrika, waar wyn sedert 1685 ononderbroke gemaak word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.