Mnr. Alex Whyte van die internasionale bemarkingsmaatskappy Green & Gold Macadamias sê die swak wisselkoers baat tans Suid-Afrikaanse produsente. Hoewel die dollarprys effe verlangsaam het vergeleke met pryse in 2019, verdien boere in randwaarde meer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Kleinhandelverkope was baie sterk die afgelope tyd. Die voedseldienstesektor, waar baie van die neute as bestanddele verkoop word, het egter heeltemal afgeplat, sê Whyte.

“Kleinhandelaars het hul bestellings opwaarts aangepas omdat mense nou omtrent uitsluitlik tuis kos maak pleks daarvan om by restaurante te eet of wegneem-etes te koop. Omdat neute as gesonde kos beskou word, dit goed is vir die immuunstelsel en goed opberg, het mense redelike voorrade vir huishoudelike gebruik aangekoop,” sê Whyte. Hy voeg by dat inperkings wêreldwyd ’n skerp toename in die vraag na neute by winkels in Amerika en in Europa meegebring het.

In ’n poging om so vinnig moontlik by die “nuwe normaal” van Covid-19 aan te pas wil Green & Gold Macadamias nou vooraf gemengde pakkies bestanddele vir tuisgebakte makadamiaprodukte aan kleinhandelaars bemark. “Mense bak definitief by die huis, want dis iets om te doen, iets om die kinders mee besig te hou. Ons sê daarom jy kan makadamianeutkoekies bak. Hopelik sal dit hierdie seisoen van die grond af kom.”