Die William Webb Ellis-trofee het dalk ná agt jaar in Nieu-Seeland huis toe gekom na Suid-Afrika toe, maar die Kiwi’s staan beslis nie terug as dit by Sauvignon blanc kom nie. Die Nieu-Seelanders verdien die hoogste gemiddelde prys ter wêreld per bottel vir Sauvignon blanc. Boonop het hulle van die netjiesste wingerde ter wêreld.

“Ek het begin speel met die idee om saam met ’n goeie Nieu-Seelandse kelder te werk en vir gewone wynliefhebbers in Suid-Afrika die kans te bied om die prikkelende, uitdrukkingsvolle Sauvignon blanc van Marlborough onder die Diemersdal-vaandel te koop,” sê mnr. Thys Louw, eienaar van Diemersdal, oor die Diemersdal Marlborough Sauvignon Blanc 2019 wat mnr. Ben Glover van Zephyr-wyne vir hom gemaak het.

Glover was voorheen hoofwynmaker by Wither Hills, een van Nieu-Seeland se baanbreker-kelders wat Sauvignon blanc betref. “Ons hou van nuwe dinge op Diemersdal. Ons het al ál die style en pryskategorieë moontlik met Sauvignon blanc gemaak en die volgende plan was dus om Sauvignon blanc in ’n nuwe land te gaan maak!”

Louw was baie spesifiek oor waar die druiwe vandaan moes kom. “Daar staan meer as 20 000 ha Sauvignon blanc in verskillende terroirs in Marlborough, maar ek het geweet van waar my druiwe moes kom. Dit is Dillons Point, ’n substreek wat van Nieu-Seeland se beste Sauvignon blanc produseer.”

Glover se familieplaas is in Dillons Point geleë, en dit is waar Louw sowat 13 ton druiwe gekoop het. “Ek was in die wingerd om na die druiwe te kyk, want dit is baie maklik om wyn te maak as jy goeie druiwe het,” vertel Louw. Hy kon nie self die wyn maak nie omdat die Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse parstyd oorvleuel en hy op eie bodem in die kelder besig was.

Altesaam 270 000 ton van die 313 000 ton druiwe wat in Marlborough gepars word, is Sauvignon blanc-druiwe. Foto: NZ Winegrowers

Leer by Nieu-Seeland

“Deur boodskappe per WhatsApp en e-pos kon ek kommunikeer presies wat ek wou hê, maar veral dat dit moes uitdrukking gee aan Marlborough Sauvignon blanc,” sê hy oor die druiwe wat einde Maart geoes is. “My pa, Tienie, het net ná die gistingsproses Nieu-Seeland toe gegaan en hulle het ’n versnit uit verskeie tenks gemaak.”

Die wyn, klaar gebottel en geëtiketteer, het onlangs in Suid-Afrika geland. “Ons keer nie ons rug op Suid-Afrika nie, maar het in Nieu-Seeland gaan leer hoe hulle puik wyn maak, hoë pryse realiseer en uitsonderlike geure in hul wyn verkry,” vertel Louw wat in 2016 die eerste keer die land besoek het. “My oë het oopgegaan toe ek die eerste keer Marlborough se toewyding tot Sauvignon blanc ervaar. Die wingerdpraktyk, die benadering in die kelders en die plaaslike wyngemeenskap se verenigde klem op die kultivar het onder my vel ingekruip.”

Hy is veral gek na die tropiese geure wat so kenmerkend is aan Sauvignon blanc uit die Marlborough-streek. “Dit is danksy die baie gekonsentreerde tiole. Dit is net fantasties en maak Nieu-Seelandse Sauvignon blanc eiesoortig. As ’n verbruiker ’n glas optel, daaraan ruik en proe, kan hy dadelik ’n verwantskap met Marlborough optel. Die terroir is so suiwer.”

Die Diemersdal Marlborough Sauvignon Blanc is dan ook baie tipies van die gebied: vars en aromaties met tropiese geure, soos grenadella, appelliefie en kiwivrugte en ’n baie spesifieke nasmaak (in Engels noem hulle dit sweet sweaty). Maar, reken Louw, soos enige Nieu-Seelandse Sauvignon blanc, sal hierdie wyn eintlik oor ’n jaar eers op sy beste smaak.

Mnre. Ben Glover en Thys Louw is die span agter die Diemersdal Marlborough Sauvignon Blanc 2019. Foto: Lumico

Oor tiole en tegniese sake

Aan die wynmaakproses was daar niks vreemds nie. Die druiwe is met ’n masjien geoes, die sap is anaërobies behandel om oksidasie te keer, waarna dit ongeveer twee weke lank laat gis is. Daarna het die wyn nog sowat drie tot vier weke lank op gismoer gelê voor dit oorgetap is. “Die proses was dieselfde as wat ons in Suid-Afrika volg.”

Waarom is Nieu-Seeland se Sauvignon blanc dan so gewild? Dit is hier waar dinge tegnies raak, maar die geheim lê waarskynlik by die hoeveelheid tiole (’n chemiese samestelling in wyn wat verantwoordelik is vir die spesifieke geure daarin) wat in die wyn voorkom, vertel dr. Carien Coetzee, ’n wynkundige en hoof van Basic Wine.

Tiole verwys na chemiese samestellings in die wyn wat verantwoordelik is vir spesifieke geure daarin. Waar metoksipirasien verantwoordelik is vir die “groen” geure in Sauvignon blanc, soos soetrissie, gras en aspersie, verskaf tiole weer die tropiese geure, soos pomelo, grenadella, koejawel en appelliefie.

Coetzee het die afgelope paar jaar se FNB Top-10 Sauvignon blanc’s ontleed en bevind wyn van die Marlborough-streek se tiool-vlakke is deur die bank heelwat hoër as Suid-Afrika s’n. “Dit is wat Nieu-Seelandse Sauvignon blanc só suksesvol maak. Hul wyn toon baie meer vrugkarakter.”

’n Suid-Afrikaanse Sauvignon blanc sal byvoorbeeld 200-400 nanogram per liter 3MHA (die tiool wat koejawelgeure vrystel) bevat. In Nieu-Seeland kan dit maklik 3 000-5 000 nanogram per liter wees. Dieselfde geld ander tiole wat verantwoordelik is vir grenadella-, pomelo- en swartaalbessie-geure. “Dít is regtig hoog.”

Verskeie redes word aangevoer vir die hoë vlakke, onder meer dat die uitputting van die osoonlaag bo Nieu-Seeland meebring dat ultravioletstraling tot 40 keer hoër is as wat ’n mens sou verwag vir die breedteligging. Boonop is daar lang ure met baie sonskyn, maar die groeiseisoen is ook lank (sien kassie).

“Wingerdbou en wynmaak-tegnieke word ook doeltreffend gebruik om die samestellings te beïnvloed, soos die regte prieelbestuur of om die regte soort gis te kies wat die tiool se voorloper beter vrystel. Nog ’n rede het glo met die atmosfeer te doen, want die gebied is ver van enige nywerheids- of selfs stedelike besoedeling. Daar woon maar net ’n miljoen mense op die Suideiland.”

En nou dat Diemersdal met ’n internasionale wyn op sy spyskaart spog? “Nou wink die volgende droom, en dit is om dieselfde in Sancerre (Frankryk) te doen,” sê Louw. Diemersdal Malborough Sauvignon Blanc 2019 kos R210 per bottel. Dit is beskikbaar by uitgesoekte kettingwinkels, restaurante en by die proelokaal op die plaas.

kiwi sauvignon
“Ons het al ál die style en pryskategorieë gemaak – en waarom dus nie ’n nuwe land nie?” sê mnr. Thys Louw oor sy jongste projek om Nieu-Seelandse Sauvignon blanc onder die Diemersdal-vaandel te verkoop. Foto: NZ Winegrowers

Meer oor Marlborough

Noem Marlborough en enige wynliefhebber met selfrespek sal dadelik aan Sauvignon blanc dink. Marlborough lê aan die noordooskus van Nieu-Seeland se Suideiland. Daar is Sauvignon blanc gróót. Die hele Nieu-Seelandse wynbedryf bestaan maar uit 38 000 ha wingerd, waarvan 26 000 ha in Marlborough is. Altesaam 400 000 ton druiwe word in die land gepars, waarvan 313 000 ton in Marlborough is. Daarvan is 270 000 ton Sauvignon blanc.

Die gebied se klimaat word gekenmerk aan baie sonskyn en matige temperatuur, maar ’n groot verskil tussen dag- en nagtemperatuur. Die wingerde word gelaaf deur koel seewinde en berge beskerm die gebied teen uiterste toestande.

Die eerste Sauvignon blanc is in 1973 in Marlborough geplant (die eerste wingerd in die land is in 1850 geplant). In 1995 was daar maar 6 000 ha wingerd in Nieu-Seeland, dus was die wynbedryf se groei ongelooflik die afgelope bykans drie dekades.

Mnr. Thys Louw, eienaar van Diemersdal, vertel die prys van Sauvignon blanc-druiwe beloop sowat $3 200 (sowat R30 000) per ton. Die gemiddelde opbrengs is 14 t/ha. “Jy betaal $400 000 per hektaar vir grond – as jy dit enigsins in die hande kan kry. Dit is duurder as in Frankryk.”

Volgens mnr. Emile Joubert, wat saam met Louw Nieu-Seeland besoek het, is die Nieu-Seelandse wynkultuur uiters modern, met ’n bykans industriële benadering tot wynbereiding. “Hulle pluk dit, gis dit, bottel dit en verkoop dit. Hulle sien dit as ’n produk, maar besef ook dat dit die beeld van Nieu-Seeland uitdra. Dit is ’n beeld van ongerepte natuurskoon sowel as uitstekende gehalte.”