Só sê mnr. Don Thankge, Woolworths senior tegnoloog in beheer van mangovoorbereiding.

“Suid-Afrika se per kapita verbruik is wel laag vergeleke met lande soos Peru, maar ons is bederf met van die lekkerste vrugte en ’n wye verskeidenheid.” Hy voeg by dat verbruikers mango’s partykeer ongerieflik vind om te eet, omdat dit geskil en van die pit af gesny moet word. Dit is waarskynlik hoekom Woolworths 250 ton klaar gesnyde en verpakte mango’s per week verkoop in die somermaande wanneer die vrugte geredelik beskikbaar is.

“Ons het nog nooit gesukkel om die voorafgesnyde produk te verkoop nie, inteendeel, ons enigste probleem daarmee is dat verbruikers dit graag 12 maande van die jaar sal wil hê.” 

Leerkurwe

Met heel vrugte was daar egter ’n leerkurwe en Woolies het by Samga gaan kers opsteek om te verstaan hoe mango’s ryp word en wanneer hulle op hul lekkerste is.

“Ons het dit al die jare verkeerd gedoen. Die kwekers het ons gewys hoe lyk ’n mango wanneer hy op sy aantreklikste is vir die verbruiker, hoe om dit reg ryp te maak en hoe om dit te verpak en uit te stal. Dit het die deurslag gegee.”

Thankge sê die grootste sondebok in die mangobedryf is waarskynlik mango’s wat te vroeg op die rak geplaas word omdat kwekers en handelaars soveel moontlik munt wil slaan uit die kort seisoen. “Ons verkoopsyfers het ons geleer dat dít nie die beste benadering is nie.”