Só het prof. Nick Vink, landbou-ekonoom van Universiteit Stellenbosch, gesê tydens die laaste Nasie in Gesprek-sessie op die tweede Nampo Kaap op Bredasdorp. Dié paneelbespreking is gelei deur mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Die ander lede van die paneel was mnre. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, Daneel Rossouw van Nedbank Landbou in die Wes-Kaap, Anton Smuts, ’n produsent en voorsitter van Vinpro, en Phillip Retief, uitvoerende hoof van Van Loveren en ondervoorsitter van Vinpro.

Eendag reg, volgende dag verkeerd

Vink het gesê ’n mens kan maande lank stories vertel oor die bemagtingsprojekte wat in die wynbedryf aangepak word. “Die probleem is jy het nie die ondersteuning van die staat wat jou toelaat om bemagtiging op groot skaal te doen nie. Dit is so in ander bedrywe ook, nie net die wynbedryf nie. Almal probeer doen wat hulle kan, maar die impak is beperk.”

Hy het vertel die prentjie wat ’n mens van bemagtiging in Suid-Afrika kan skets, het die afgelope 10 jaar nog meer kompleks geword as gevolg van beleidsonsekerheid. “Dit maak dat ’n mens nie weet of jy kom of gaan nie. Jy doen iets en die een dag is dit ’n goeie ding, die volgende dag is dit ’n slegte ding. Jy kry nie die ondersteuning wat jy nodig het nie.”

Watertoedeling

Volgens hom is die gebrek aan toepassing van die wetgewing rondom die toedeling van waterregte volgens ekonomiese effektiwiteit per druppel een van die grootste bronne van beleidsonsekerheid. “Die wetgewing wat dit moontlik maak, is 20 jaar gelede aanvaar, maar nooit toegepas nie. Dit is waar die beleidsonsekerheid vandaan kom. Ons wag nou nog dat dit toegepas word.”

Smuts het gesê daar moet wel onderskeid getref word tussen die provinsiale en nasionale regering. “Die Wes-Kaapse departement van landbou doen uitstekende werk en sterk ons hand.”

Werkskepping

Basson het gesê die wynbedryf bestee tot R20 miljoen per jaar aan bemagtigingsprojekte. “Die een ding waaroor ons te min praat, is die werkskepping in die wynbedryf. Vir elke een werksgeleentheid wat op ’n plaas geskep word, word 10 ander buite die plaashek geskep. Die wynbedryf verskaf werk aan 300 000 mense en hul gesinne. Wyntoerisme en waardetoevoeging kom hier ter sprake. Daar word skole en biblioteke gebou.”

Hy het gesê die bedryf bestee waarskynlik nader aan R200 miljoen per jaar om maatskaplike netwerke in landelike gebiede aan die gang te hou met betreklik min ondersteuning van die regering. “Met ’n bietjie minder administratiewe muilbande kan die bedryf nog meer doen. Die wynbedryf merk reeds baie van die boksies wat in die nasionale ontwikkelingsplan staan, ons moet dit net vir die bedryf makliker maak en meer sekerheid gee.”

Volgens hom besef die plaaslike wynbedryf die belang daarvan om maatskaplik-ekonomies verantwoordelik optree. “Suid-Afrika is die grootste Fair Trade-wynbedryf ter wêreld. Die oudits wat rondom ons etiese standaarde gedoen word, is van wêreldgehalte. Produsente kry nie noodwendig ’n premie omdat hulle aan hierdie standaarde voldoen nie.”

Maatskaplik-ekonomiese dilemma

Hy het gesê die goeie werk wat die wynbedryf doen, gaan gepaard met baie frustrasie. “Die landbou moet meer en meer die maatskaplik-ekonomiese dilemma van die platteland aanpak, wat ek glo nie die landbou se rol is nie. Die landbou se rol is om besigheid te doen en werk te verskaf.”

Smuts het vertel ’n derde van die produsente in die wynbedryf se besighede is tans nie volhoubaar nie. Al wil hulle in maatskaplik-ekonomiese welvaart belê, het hulle nie toegang tot die geld om dit te doen nie. “Dit is waar die ondersteuning nodig is. Daar is ’n groot begeerte by wynprodusente om by bemagtiging betrokke te raak, maar iemand moet vir hulle die padkaart gee hoe om dit te doen.”

Retief het vertel Van Loveren het in 2005 met sy eerste bemagtigingsprojek begin omdat hy ’n klein verskil in die omgewing wou maak. “Die groot leemte in die bemagtigingsmodel is die gebrek aan ondersteuning van die regering. Daar moet samewerking tussen die produsente, die finansiële instellings en die regering wees om die model te laat werk. Die bereidwilligheid van die produsente is absoluut daar. Die finansiële instellings het ook later bygekom, maar die staat was van die begin af afwesig.”

Gesamentlike ondernemings is volgens Retief die beste manier om bemagtiging aan te pak. “Jy kry jou opkomende boer met wie jy die risiko deel, die kommersiële boer bly betrokke met investering en mentorskap. Dit is baie belangrik dat jy die projek nie net los nie. Jy vat jou vennote saam met jou op jou groeipad.”

Basson sê daar is verskeie geleenthede vir bemagtiging in Suid-Afrika, onder meer by die Brandvleidam by Worcester. Daar is 5 000 ha vrugteboorde en wingerde aangeplant. Dit het die potensiaal het om die grootste bemagtigingsprojek in Suid-Afrika te wees. “Ons sukkel ongelukkig nog om die nasionale departement van waterwese se goedkeuring vir hierdie projek te kry.”

nasie in gesprek
Mnre. Theo Vorster, Rico Basson, prof. Nick Vink, mnre. Daneel Rossouw, Anton Smuts en Philip Retief tydens die bespreking. Foto: Brand Republic

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.