Die tesourie het vandag (23 April) ’n dokument uitgereik waarin verdere belastingmaatreëls aangekondig word om die Covid-19-pandemie die stryd aan te sê.

“Weens die beperkings op die verkope van alkoholiese drankies en tabakprodukte sal betalings wat in Mei en Junie gemaak moet word, met 90 dae uitgestel word,” lui die dokument.

Aangesien aksynsbelasting by die punt van produksie gehef word, sal dit help om die belastingbetalings en kleinhandelverkope in ooreenstemming met mekaar te bring, meen die regering.

“Dit sal na verwagting sowat R6 miljard se korttermynverligting bring. Die regering wil graag huishoudings en besighede help om kop bo water te hou in hierdie moeilike tyd, maar terselfdertyd aanhou om die besmettingskoers te beperk,” lui die dokument

Mnr. De Wit Stegmann, finansiële hoof van Fairview Wines, het aan Landbouweekblad gesê in hul geval moet hulle aksynsbelasting op April se verkope in Mei betaal. In Junie kom aksynsbelasting vir verkope in Mei aan die beurt.

“In April was daar geen verkope nie weens die verbod wat tydens die inperking geld. Mei se betaling is dus nul. Ons weet nie wat in Mei gaan gebeur nie en of ons sal mag verkoop nie, maar selfs al maak jy gebruik van die uitstel, sal jy op ’n later stadium twee keer moet betaal.”

Die bedryf se kontantvloei is ernstig onder druk sedert die grendelstaat weens die Covid-19-virus aangekondig is. Geen wyn mag plaaslik verkoop word of uitgevoer word nie.

“Die kort antwoord is daar is nie tans kontantvloei nie. Die uitstel van die betaling van aksynsbelasting verander niks aan ons situasie nie.”

Wynbedryf bly hoop

Vinpro het wel in ’n verklaring gesê die bedryf is “verlig en uiters dankbaar” oor die vergunning.

Vinpro, Salba (die Suid-Afrikaanse vereniging vir drankhandelsmerkeienaars) en die biervereniging vir Suid-Afrika (Basa) het namens die drankbedryf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens formeel versoek om hulle minstens 90 dae vry te stel van die betaling (bykomend tot die huidige dae).

“Ons het dit versoek in ’n poging om finansiële druk op kontantvloei te verlig.”

Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, is hulle dankbaar dat hul stem gehoor is in die moeilike tyd. Hy het die hoop uitgespreek dat pres. Cyril Ramaphosa vanaand in sy toespraak “gunstig” na die wynbedryf, wat 300 000 mense in diens neem, sal kyk.

Luidens ’n verslag deur IWSR Drinks Markets Analysis sal die verbod op plaaslike verkope en uitvoer ernstige finansiële ontberings vir veral kleiner wynkelders meebring.

“Dit word vererger deur die algehele afwesigheid van wyntoerisme.”