“Ek glo nie ons sal só ’n skerp daling sien nie,” het mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, tydens dié organisasie se virtuele inligtingsdag vir die Worcester-streek gesê.

Die wynbedryf kon tydens die inperking 14 weke lank nie wyn plaaslik verkoop nie en vir vyf weke nie uitvoer nie. Wyntoerisme het ook ’n ernstige knou weg.

“As ons verby die krisis kan kyk en dit op ’n sinvolle, verantwoordelike manier bestuur, is daar geleenthede en waarskynlik ’n winsgewende toekoms in die wynbedryf.”

Volgens Basson sal daar binne sewe jaar sowat 200 000 ton minder wyndruiwe geproduseer word. Wynboere haal wingerde uit en diversifiseer na ander vertakkings.

Konsentraat is troefkaart

“Daar sal waarskynlik op kort termyn ’n prysverlaging vir generiese produkte wees. Ons sal volgende jaar die verkopekant moet herstel en dit in 2022 selfs verder moet verbeter. En ek meen as ons twee jaar agtereenvolgens 120 miljoen liter sap vir konsentraat kan lewer, kan ons ons voorraadvlakke vinnig onder beheer kry.”

Basson sê die lewering van sap vir konsentraat is die bedryf se “kaartjie om op kort termyn vinnig die spel te verander”.

Bykans 300 miljoen liter wyn was teen einde Julie nog nie gekontrakteer nie. Hiervan was sowat 200 miljoen liter witwyn. Basson sê die bedryf se opsies is om druiwe af te gooi om die oes te beperk, om die plaaslike en internasionale vraag uit te brei, handreiniger te maak of druiwe vir sap te lewer.

“Die lewering van sap gaan heel moontlik ons redding wees vir die volgende twee jaar. Op mediumtermyn is dit ’n manier om konsentraatinvoer te vervang.”

Saplewering is nie noodwendig onwinsgewend nie, want sekere kelderkoste word gesystap.

“Ons moet nog ’n klompie huiswerk doen, maar verskeie kelders het reeds geteken om sap te lewer aan onder meer Oranjerivier-wynkelders, Grabouw, Elgin, Lutzville- en Ashton-kelders.”

Die bedryf is tans vol moed dat daar genoeg kelderspasie vir sowat 605 miljoen liter wyn sal wees teen die einde van die jaar.

Uitvoer loop fluks

Buiten vir April, toe die bedryf nie toegelaat was om wyn uit te voer nie, is daar elke maand meer wyn uitgevoer as verlede jaar.

“Die waarde daarvan is sowat 10% meer as verlede jaar, grootliks vanweë die wisselkoers. In die maande wat kom, sal daar waarskynlik druk wees namate ons generiese produkte en selfs industriële wyn uitvoer.”

Die bedryf se internasionale mededingendheid moet aandag geniet. Die Chileense bedryf het byvoorbeeld 25 handelsooreenkomste en Suid-Afrika net twee.

Daar is ongelukkig meer probleme op die plaaslike front, waar sowat die helfte van Suid-Afrikaanse wyn verkoop word.

“Selfs al sou die bedryf die res van die jaar elke maand 40 miljoen liter verkoop, dink ek nie ons gaan naby aan verlede jaar se verkoopsyfer kom nie.”

Basson het ook gemaan dat sowat 80% (oftewel 308 miljoen liter) van die wyn op die plaaslike mark teen onvolhoubare pryse verkoop word.