Só meen mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, nadat Mboweni tydens sy begrotingsrede aksynsbelastingverhogings van 4,4% op natuurlike wyn, 6% op vonkelwyn en 4,4% op brandewyn aangekondig het.

“Die wynbedryf moes die afgelope paar jaar aksynstygings van meer as inflasie absorbeer, ten spyte daarvan dat die teikens wat in 2012 deur tesourie gestel is, reeds bereik was. Vanjaar se verhogings is in pas met inflasie en wys daar is begrip aan regeringskant vir van die probleme wat die wynbedryf in die gesig staar. Ons stem is gehoor.”

Hy sou egter wou sien dat die verhoging op vonkelwyn meer in pas was met inflasie. “Die aksynsheffing op vonkelwyn het die afgelope jare vinniger as vir natuurlike wyn toegeneem.”

Basson sê ’n styging met meer as inflasie sou die brandewynbedryf, wat krimp, baie seer geslaan het.

Regering verdien meer as boere

Basson het benadruk dat die regering meer uit die wynbedryf verdien as produsente self. Bykans ’n derde van wyndruifprodusente boer steeds teen ’n verlies, ondanks ’n opflikkering in die bedryf.

“Wynprodusente het in 2018 R6 298 miljoen verdien, vergeleke met R7 404 miljoen wat die regering verdien het deur BTW en aksynsbelasting op wyn wat plaaslik verkoop is.”

In ruil hiervoor sou die bedryf graag groter ondersteurning van veral die nasionale regering wou hê om marktoegang te bewerkstellig deur voorkeurhandelsooreenkomste, infrastruktuurontwikkeling, landelike veiligheid en verantwoordelike beleid rondom grondhervorming. Die bedryf maak ook vooruitgang met transformasie en sosiaal-ekonomiese ontwikkeling, maar sal vennootskappe en finansiering om dit uit te brei, verwelkom.

Die wynbedryf is die naasgrootste uitvoerder van landbouprodukte. As die waardeketting in ag geneem word, neem die bedryf 300 000 mense in diens.

“Ons het die regering se ondersteuning nodig as ons wil aanhou om volhoubaar by te dra tot die ekonomie en werkskepping.”