Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om wyne van familieboerderye teen kelderpryse aan verbruikers reg oor Suid-Afrika beskikbaar te stel.

Die projek konsentreer nie net daarop om die betrokke wynboere se produkte te verkoop nie, maar ook om die onderskeie familieboerderye in die wynbedryf se stories op een aanlyn platform aan verbruikers beskikbaar te maak.

Mnr. Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer, het tydens die bekendstellingsgeleentheid aan Landbou.com gesê die idee vir die inisiatief het ontstaan tydens die inperkingsperiode. Die verbod op die verkoop van alkohol het die wynbedryf hard getref, en dit is veral kleiner wynprodusente wat nou verskeie planne moet maak om te oorleef.

“Gedurende vlakke 4 en 3 van die inperking het Saai meer as 220 wynboere verteenwoordig in ’n hofsaak teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en ander om die verbod op die verkoop van wyn op te hef aangesien dié verbod ontsaglike skade aan die bedryf veroorsaak het. Die Wynboer is die tweede helfte van ons inisiatief om familieboerderye te help om hul bedryf weer aan die gang te kry,” sê mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, luidens ’n verklaring.

Tans beloop die skade aan die wynbedryf R7,5 miljard in die sewe maande sedert die inperking aangekondig is. Saai sê na raming is daar ’n oorskot van byna 400 miljoen liter wyn, wat meer as Suid-Afrika se plaaslike jaarlikse verbruik is.

Platteland

Boucher sê hulle wil met hierdie inisiatief wynprodusente wat nie rakspasie in kettingwinkels kan kry nie, die kans bied om verbruikers – ook in die uithoeke van die platteland – te bereik. “Ons kan nou op ’n bekostigbare wyse wyne van die plase betrokke by verbruikers uit kry.”

Hy sê hulle sal ook die statistieke wat hulle uit hul verkope in sekere streke sien, gebruik om vir rakspasie in plaaslike winkels te onderhandel, asook om onder meer te bepaal waar watter tipe wynskoue aangebied kan word.

kwagga boucher, theo de jager
Mnr. Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer, en dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, gesels met die media tydens die bekendstelling. Foto: Alani Janeke
die wynboer
’n Skermgreep van Die Wynboer - www.thewinefarmer.co.za

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê hulle wil nie bestaande strukture in die wynbedryf vervang nie. Hul doelwit is dat die stem van die familiewynboer binne die strukture duideliker gehoor word.

De Jager sê Saai is bekommerd oor die duisende hektaar wingerde wat in die gedrang is en die moontlikheid dat tot 80 wynplase verlore kan gaan. “Van die oudste familieplase in ons land is in die Wes-Kaap geleë. As netwerkstruktuur vir familieboere is dit vir ons uiters belangrik om hierdie boere op hul plase te hou. Hierdie plase is nie net wynplase nie – daar is in die meeste gevalle ook ’n restaurant en verblyf op die plaas wat baie werk skep – veral op die platteland, waar werk broodnodig is. Dit is voorts ’n toerisme-aantreklikheid wat eie aan die Boland en die Wes-Kaap is.” 

Boucher sê hulle bou stelselmatig die struktuur uit en nog familieplase is welkom om deel te word van die inisiatief. Aankope van wyne word elektronies op die webtuiste gedoen, en Die Wynboer sal met behulp van koerierdienste die aflewering van die onderskeie produkte hanteer.

Die wynplase wat tans deel vorm van die inisiatief is Akkerdal, Arendsig, Erika Obermeyer Wines, La Boucher, La Viege, Marianne Wines, Marras, Springfontein en Welbedacht.

“Hierdie webtuiste is meer as net ’n wynwinkel. Elke wynmaker het nou ’n platform om die storie van die plaas en die agtergrond van die wyne te vertel. Jy kan nie elke dag ’n familiewynplaas in die Wes-Kaap besoek nie, maar Die Wynboer stel jou in staat om elke dag ’n familiewyn by jou huis te geniet,” sê Boucher.

Besoek www.thewinefarmer.co.za vir nog inligting.