Ná ’n dag waarin Vinpro, die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkeienaarsvereniging (Salba), die landbousakekamer Agbiz, Agri SA en Agri Wes-Kaap in ernstige samesprekings met die regering was, is ’n nuwe punt by die lys van noodsaaklike dienste gevoeg. Oes- en opbergingsaktwiteite wat noodsaaklik is om die vermorsing van primêre landbou-goedere te voorkom, word nou ook as noodsaaklik beskou.

Dit beteken die wynbedryf sal toegelaat word om die oes af te handel en dat die nodige kelderpraktyke kan voortgaan om te verseker die oes word nie “vermors” nie. Landbouwerkers wat moet pars, sal tydens die tydperk van inperking as noodsaaklike werkers beskou word. Dit volg nadat die regering aanvanklik die wynbedryf nie as noodsaaklik beskou het nie. Derhalwe sou oes- en wynmaakpraktyke tydens die inperking opgeskort moes word.

Ongeveer 5% (sowat 62 000 ton tot 67 000 ton) van die wyndruiwe-oes hang nog aan stokke. Dis versprei oor al die produksiestreke.

Mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, het sy dankbaarheid uitgespreek dat die laaste paar duisend ton druiwe gepars kan word. “Dit gee ons die nodige gerusstelling om op die eerste dag van inperking werklik optimaal te handel en die oes in te bring.”

Hy het weer ’n beroep op boere gedoen om verantwoordelik op te tree en die vergunning met omsigtigheid toe te pas.

Mnr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het gesê noodsaaklike produksie-aktiwiteite soos oestyd moet onverhinderd voortgaan ingevolge die departement van gesondheid se Covid-19-higiëneprotokol. “Algemene higiënemaatreëls moet dus versterk word.”

Strategiese landboukommoditeite sal steeds uitgevoer kan word, maar nie wyn nie. Mnr. Daniel Johnson, Meyer se woordvoerder, sê daar is tans nog nie duidelikheid of wynuitvoer enigsins hervat sal kan word tydens die inperking nie.

“Vinpro werk baie hard aan sekere aspekte en ons sal verder kommunikeer sodra daar meer duidelikheid is.”

 ‘Ondersteun die kelders’

Die wynlandgoed Springfield, naby Robertson, het gister (26 Maart) op Facebook geskryf dat wyn, nes ander alkohol, nie tydens die inperking vervoer of verkoop mag word nie.

“Dit beteken ons kan nie uitvoer na lande wat steeds alkohol mag verkoop nie – iets wat bietjie troos sou bring in die tyd.”

Sy pleidooi is wyd op sosiale media aangestuur.

“Terwyl Vinpro voorspraak maak vir ’n bedryf wat sowat R36,1 miljard elke jaar tot die bruto binnelandse produk bydra, doen ons ’n beroep op al ons mede-wynliefhebbers om jul deel te doen vir ’n bedryf wat dalk nie meer met ons sal wees wanneer ons anderkant uitkom nie. Ondersteun jou gunstelingkelders. Koop wyn aanlyn, al sal jy dit eers ná die inperking ontvang.”