As die bedryf nie gou sy verlies aan verkope begin opmaak nie, kan die wynprys met 30% val.  Die bedryf het die afgelope sewe weke sedert die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie aangekondig is tot R3 miljard aan inkomste verloor. 

“Ek voorsien dat Mei, Junie, Julie en Augustus baie moeilik gaan wees vir wynboere. Ek meen kontantvloei kan selfs in Julie en Augustus opdroog. Die slegte nuus is dat wynprodusente se inkomste vir die 12 maande waarskynlik met 30% of meer sal afneem,” het mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, tydens Vinpro se inligtingsdag vir die Stellenbosch-streek gesê. 

Volgens hom is ’n bedryftaakspan (bestaande uit Vinpro, Salba en die biervereniging) tans op die hoogste vlak in gesprek met die departement van handel en nywerheid.

“Ons werk aan die reëls vir wanneer die vlak 3-regulasies in werking tree. Wat noodsaaklik is vir die wynbedryf, is dat e-handel, klik en gaan haal, en kelderdeurverkope kan voortgaan. Dis veilige, lae-risikokanale. Daarmee saam moet ons kyk na die vervoer van wyn. Ons het baie werk om dit te probeer beveilig, soos dat identifikasie by aflewering moet geskied om meerderjarigheid te bewys.”

Hy meen vlak 3-regulasies gaan op 1 Junie in werking tree.

Die bedryf veg ook hard daarvoor om onder vlak 4-regulasies te mag wyn verkoop.

“As die Wes-Kaap of die Wynland op vlak 4 vassit, terwyl die res van die land op vlak 3 is, moet ons kan wyn verkoop,” sê Basson.

Bedryf kan nie alleen verantwoordelik dra

Op die vraag waarom die regering so huiwerig is om wynverkope toe te laat, het Basson gesê daar is ’n anti-alkoholsentiment in die regering. Boonop maak die wynbedryf deel uit van die groot drankbedryf.

“Ek dink nie daar is ’n politieke agenda teen die wynbedryf nie, maar daar is landwyd kommer oor gedrag en drank, en hoe dit beheer word. Die drie dinge waaroor die regering bekommerd is, is geslagsgeweld, onwettige handel en die vermindering van skade. Dis die dinge wat ons nou saam met die regering probeer oplos.”

Basson sê dié probleme sal nie oornag verdwyn nie, daarom is die bedryf bereid om die regering te help.

“Die verantwoordelikheid kan egter nie net op die bedryf rus nie, ons betaal reeds aksynsbelasting.”

Te min plek vir al die wyn

Basson sê as verkope nie die res van die jaar versnel nie, gaan die wynvoorraadvlak op sowat 600 miljoen liter – die hoogste nog – lê. Daar is waarskynlik nie genoeg ruimte in kelders vir soveel wyn nie.

“Ons het twee maande se plaaslike verkope en een maand se uitvoerverkope verloor. Daar is nog sewe maande van die jaar oor en ek glo as die wisselkoers redelik swak bly, kan ons van die verliese opmaak. Maar met die ekonomie wat is waar dit is, sal ons waarskynlik met meer voorraad sit as waarvan ons hou.”

Huidige projeksies toon dat pryse met 30% afgedruk kan word.

“Ek hoop dis nie waar nie, maar dis die tipe druk waarmee ons te doen het. Sommige wynprodusente het nie die reserwes om voort te gaan en deur die storm te navigeer nie.”

Sowat ’n derde van die wynbedryf was voor die Covid-krisis reeds onwinsgewend.

“Ons sal ’n strukturele verandering sien. Ons praat van 14 000 werkgeleenthede, 80 wynkelders en 350 produsente wat in die niet kan verdwyn.”