Inskrywings word ingewag vir die Absa Top 10 Pinotage-kompetisie en die Novare SA Terroir-toekennings, hoewel daar nog nie sekerheid is oor wanneer die toekenningsgeleenthede gaan plaasvind nie. Intussen is die Suid-Afrikaanse wynhandelskou, CapeWine, met ’n jaar uitgestel, grootliks omdat hy nie ’n hoofborg kon kry nie.

“Met wynhandel wat van 1 Junie af hervat is en die verdere oopstel van die ekonomie is ons besonder bly om hierdie aankondiging te kan maak,” het mnr. Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging, gesê met verwysing na die Terroir-toekennings wat vanjaar vyf weke later as verlede jaar aangebied word.

Hy verwag dat deelname aan die kompetisie groot sal wees. Verlede jaar het dit ’n rekordgetal inskrywings gelok. Inskrywings sluit op 17 Julie. Die wyne sal van 3 tot 7 Augustus beoordeel word.“ ’n Besluit sal nog geneem word oor die datum van die prysuitdeling se aanbieding.”

Ook mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-assosiasie, het sy vreugde uitgespreek dat dinge oustryk voortgaan vir vanjaar se Absa Top 10 Pinotage-kompetisie. Dis die 24ste keer dat die kompetisie aangebied word. Die datums vir beoordeling en die toekenningsgeleentheid sal later bekend gemaak word.

“Die Absa Top 10 Pinotage-toekennings is ’n glorieryke eerbetoon aan wyn en vanjaar sal geen uitsondering wees nie.”

Benewens die toptien wyne is daar ook ’n kategorie vir die Pinotage Ikoon (museumklas) vir wyne wat tien jaar en ouer is. Intussen het Wines of South Afrika (Wosa) aangekondig die driejaarlikse Suid-Afrikaanse wynhandelskou, CapeWine, word uitgestel van September vanjaar tot 5 tot 7 Oktober volgende jaar.

“Uitvoer is steeds stadiger as wat ons verwag het omdat die hawe in Kaapstad sukkel om die vrag te hanteer. Dit het ’n groot invloed op Wosa se inkomste, wat regstreeks verband hou met uitvoer, asook die finansiële posisie van baie produsente,” sê me. Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa.

“Met die toekoms wat so onseker is, moes ons die moeilike besluit neem. Finansiële druk en onsekerheid oor internasionale reise maak dit onmoontlik om nou hierdie skou te beplan.”