Die “oordrag-effek” van die afgelope drie jaar se droogte, die invloed van ongunstige weerstoestande in veral Oktober en ’n dalende wingerdstand beteken dat die tweede kleinste oes in jare verwag word.

Volgens mnr. Francois Viljoen, hoof van wingerdboukundige dienste by Vinpro, was verlede jaar se oes die kleinste sedert 2005.

“Van ons wingerde het kwaai pak gevat tydens die droogte en dit sal tyd kos om te herstel. Die oordrag-effek sal ’n groter invloed hê op sekere gebiede, soos die Olifantsriviervallei en droëland-wingerde in die kusstreke,” het hy tydens Vinpro se jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad gesê. 

Voldoende winterreën, voller damme en koue winterstoestande in Junie en Julie het darem die situasie verbeter, maar die seisoen het ook sy unieke kwessies gebring.

Ongunstige weer

“Einde Julie moes ons weer ons kortmouhemde uithaal, want ons het ongekende warm dae gehad. Kultivars soos Chardonnay en Shiraz, wat ‘lig slaap’, het nie daarvan gehou nie. Baie wingerde in die Wes-Kaap het ongelyk gebot en uitgeloop. Selfs korrels het ongelyk gegroei. Dit het groot probleme geskep.”

Koue, reënerige toestande in Oktober het gelei tot swak vrugset, wat ook die oesgrootte sal beïnvloed. Boonop was die siektedruk hoog, veral in die kusstreke. Gereelde suidoostewinde het dit moeilik gemaak om teen siektes soos donsskimmel te spuit, maar Viljoen sê min oesverliese is nog weens siektes aangemeld.

Wingerde raak minder

Viljoen sê sedert 2007 raak Suid-Afrika se wingerdstand elke jaar kleiner. Meer wingerd word jaarliks uitgehaal as wat aangeplant word, wat beteken produksiesyfers neig ook afwaarts.

“Die goeie nuus is dat vanjaar darem meer wingerde aangeplant is as verlede jaar. Die kwekerye se stokkiebestellings lyk ook goed vir volgende jaar.”

Optimisties oor gehalte

Die druiwe lyk gesond en losser trosse hou min gevaar vir vrot in.

“Ek glo dit kan ’n goeie jaar wees wat gehalte betref, maar die volgende paar weke sal bepalend wees.”

Streeksinligting

Viljoen sê die droogte se oordrag-effek word veral gevoel in die Olifantsriviervallei en die Swartland. Albei gebiede behoort darem meer druiwe te lewer as verlede jaar, hoofsaaklik omdat die watersituasie aansienlik beter daar uitsien. 

In Stellenbosch en die Kaapse suidelike kusstreke verwag boere om vanjaar minder te oes as verlede jaar. “Dis weens krimpende hektare, die oordrageffek op die droëlandwingerde en swak en ongelyke vrugset.”

Hy beskryf die oostelike deel van die Klein-Karoo as “ ’n hartseer storie”. Plekke soos Barrydale, Ladismith, Oudtshoorn en Calitzdorp is steeds in die droogte se greep vasgevang. In die westelike gebiede (Montagu) het boere toegang tot skemawater en sake staan ietwat beter. 

Die Noord-Kaap, Worcester en Breedekloof verwag ’n effens groter oes as verlede jaar. Robertson-boere maak hulle reg om dieselfde hoeveelheid as verlede jaar te pars.