Daarom het verskeie wynlandgoedere ’n beroep op die regering gedoen om die verbod op naweekverkope te heroorweeg tydens môre (4 November) se kabinetsvergadering.

Hulle dring daarop aan dat me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisonele sake, die verbod lig op die naweekverkope van wyn wat nie op die perseel van gelisensieerde wynplase geniet word nie (off-consumption). Indien sy weier om dit te doen, wil hulle ’n dringende virtuele vergadering met haar en mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, belê om hul saak te stel.

Dit is luidens ’n prokureursbrief wat namens mnre. Schalk Burger van Welbedacht by Wellington, Jean Engelbrecht van Rust en Vrede by Stellenbosch en Charles Back van Fairview by die Paarl, asook vyf wynroeteverenigings (Stellenbosch, Paarl, Wellington, Hemel en Aarde en Franschhoek) aan pres. Cyril Ramaphosa, Dlamini-Zuma, Patel en me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, gerig is. Die wynroeteverenigings verteenwoordig altesaam 159 wynplase en -boere,

Wynplase mag ingevolge regulasie 77 op vlak 1 van die Covid-19-inperking op Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae slegs wyn verkoop wat op die perseel verbruik word en nie om weg te neem nie. Die meeste plase steun swaar op dié bemarkingskanaal.

“Dit verteenwoordig ’n groot deel van wynplase se omset en inkomste. Die verbod benadeel hul winsgewendheid en vermoë om mense in diens te neem,” luidens die brief.

Boonop kry die plase verder pak omdat bykans geen internasionale toeriste hulle tans besoek nie weens reisbeperkings.

“Dit sal verdere werksverliese in die wynbedryf veroorsaak en tot die ondergang van ’n betekenisvolle hoeveelheid wynplase lei.”

Die boere voer aan dat die verkope van wyn om elders verbruik te word, nie ’n gesondheidsrisiko inhou of maatreëls rakende higiëne of afstandhouding ondermyn nie.