Só meen adv. Mias Schreuder, wat aangestel is om die Noord-Gautengse hooggeregshof te versoek dat artikel 44 (1) en (2) van die nuwe regulasies oor drankverkope opgehef word en dat wyn op wynplase en in restaurante bedien mag word.

Die applikante, waaronder Rust en Vrede op Stellenbosch, Fairview in die Paarl en Welbedacht op Wellington, stem nie daarmee saam dat Vinpro hom by die breër drankbedryf skaar nie, het die Kaapse Wynmakersgilde in ’n skrywe aan sy lede gesê.

Schreuder het benadruk dat hulle slegs namens die wynbedryf veg teen die verbod op drankverkope.

“Dis ’n gevoeliger en kwesbaarder bedryf as die res van die alkoholbedryf en baie afhanklik van die plaaslike restaurantbedryf en plaaslike wynverkope. Die verbod kan ’n totaal vernietigende uitwerking hê.”

Hulle hoop om op 18 Augustus in die hof te verskyn.

Volgens Schreuder stem hulle nie daarmee saam dat wynverbruik “substansieel bydra” tot die oorlading van die land se gesondheidstelsel nie. 

Schreuder sê as dit blyk dat die minister nie ’n rasionele besluit geneem het op grond van die inligting voor haar nie, behoort die hof die verbod ter syde te stel of remediërende stappe voor te stel om die gesondheidstelsel te beskerm. Dit sluit in beperkings op die hoeveelheid wyn wat in restaurante gedrink mag word, gekoop mag word en selfs die beperking van wynverkope tot kruidenierswinkels, e-handel en wynplase.

“As die aandklokstelsel en strafregwette ten opsigte van dronkbestuur en die verbod op sosiale byeenkomste afgedwing word, is daar geen rede waarom wynverbruik enigsins die gesondheidstelsel kan oorlaai nie.”

Tans is daar 13 applikante, wat wynplase, -roetes en -verenigings insluit. Die landboubelangenetwerk Saai is die eerste applikant. Wynroetes sluit in dié van Stellenbosch, Franschhoek, Constantia en Hemel en Aarde.

Die respondente in die saak is die minister van samewerkende regering, die minister van toerisme, die minister van handel en nywerheid, die kabinet en pres. Cyril Ramaphosa.

Saai sal die regskoste dra.

Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die verkoopsverbod bedreig die bestaan van Suid-Afrika se oudste familieplase.

“Dit kniehalter ’n sektor wat met die bestes ter wêreld meeding en ’n kernrol in die land se ekonomie speel.”