Die inisiatief wil die bedryf help om vaardighede uit te bou, sê me. Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder.

Die platform is interaktief deurdat dit leesstukke en videomateriaal voorstel volgens die toepaslike vaardighede en leerprogramme. Dit sal vroeg volgende jaar beskikbaar wees.

“Een van die nagevolge van Covid-19 is dat talle werknemers in wyntoerisme verskillende of ’n groter aantal rolle moet vervul as vantevore. Hierdie projek help om die vaardighede te identifiseer wat hulle nodig het om hierdie nuwe rolle suksesvol te vervul en diens van wêreldgehalte te lewer,” sê Nieuwoudt.

Werknemers sal deur hul werkgewer op die Skillogical-stelsel toegang kry tot die leerprogramme, as deel van die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Wynbedryf Professionele Liggaam se ondersteuning aan die bedryf.

“Ons moedig werknemers in die onderskeie wyntoerisme-verwante velde aan om te registreer en die opname te voltooi – van akkommodasie tot die proelokaal, onthale, voedselvoorbereiding, ontspanningsaktiwiteite, toere soos wingerd- en keldertoere, en restaurantdienste,” sê Nieuwoudt.

“Werknemers en wynkelderbestuurders wat registreer en die opname voltooi het, kan op die webwerf hul persoonlike ontwikkelingsplan besigtig, voorgestelde artikels lees of na sekere van die video-insetsels kyk wat van toepassing is op hul vaardigheidsbehoeftes. Ons sal ook die stelsel gebruik om gesamentlik die leerprogramme wat beskikbaar is, toe te deel.”

Die inisiatief sluit aan by verskeie ander bedryfsaksies wat probeer om die wyntoerismesektor te herbou aangesien dit een van die sektore is wat die ergste getref is deur Covid-19-inperkingsmaatreëls.

In Oktober het Vinpro, met die samewerking van die KWDM en Commerce7, ’n reeks werksessies vir wynkelders aangebied om hul regstreekse verkope aan die verbruiker op te skerp, en op 16 November het die Wes-Kaapse departement van landbou ’n ondersteuningsfonds ter waarde van R12 miljoen vir werknemers in die wyntoerismesektor aangekondig.

Registreer by www.skillogical.com/vinpro om die opname te voltooi. Dit duur sowat 20 minute. Rig navrae oor die projek of kwessies rondom die gebruik van die aanlyn stelsel vir die voltooiing van die vraelys aan vinpro@skillogical.com of stuur ’n WhatsApp of SMS na 072 259 3444.