Só sê mnr. Mike Ratcliffe, voorsitter van Stellenbosch Wynroetes. Die stigting van Stellenbosch Wynroetes gedenk ook die geboorte van wyntoerisme in Suid-Afrika, wat jaarliks R7,2 miljard tot die land se bruto binnelandse produk bydra.

Vandag het Suid-Afrika wynproduserende streke in vyf provinsies en 23 wynroetes landwyd. Die ontwikkeling van wyntoerisme in Suid-Afrika het ook gelei tot die transformasie van hierdie wynroetes deur die toevoeging van moderne wynlandgoedere, gegradeerde hotelle en onthaalgeriewe wat vir gaste bygevoeg is. Meer as die helfte van die lede-wynkelders het kosverwante ervaringe in hul wyntoerisme-aanbieding ingesluit.

Met die stigting van Stellenbosch Wynroetes is ’n georganiseerde netwerk gevestig van wynplase wat proeë – en in sommige gevalle ligte maaltye – aangebied. Die besoeker kon van plaas tot plaas ry om wyn te proe en te koop. Die wet het toe bepaal dat wyn in kartonhouers van 12 bottels verkoop moes word.

Die Stellenbosch Wynroetes is in 1971 gestig deur mnre. Frans Malan van Simonsig, Niel Joubert van Spier en Spatz Sperling van Delheim, wat in die 1960’s die status quo waar druiwe aan koöperasies gelewer is om die finale produk te maak, wou verander. Groenland, Koopmanskloof, Blaauwklippen, Verdun, Overgaauw, Neethlingshof, Hazendal, Uiterwyk, Muratie, Mooiplaas, Hartenberg en Koelenhof het hulle gou by die drie stigterslede aangesluit.

Vandag het die roete vyf subroetes, wat uiteenlopende wyntoerisme-ervarings bied, van luukse wynplase met proelokale, restaurante en verblyf tot klein boetiekwynkelders. Tans het die roete 120 wyn- en druifprodusente lede, wat binne die Stellenbosch Wyn van Oorsprong-klassifikasie val.

In 2019 het Stellenbosch Wynroetes ook Visit Stellenbosch, die dorp se amptelike bemarkingsorganisasie, op die been gebring. Dié inisiatief het Stellenbosch se toerisme-aandeelhouers onder een vaandel verenig en is daarop toegespits om Stellenbosch se toerisme- en ervaringsekonomie tot voordeel van al die gemeenskappe op die dorp te laat groei.

In dieselfde jaar was die organisasie die eerste wynstreek in die Suidelike Halfrond wat by die Porto-protokol aangesluit het. Hiermee is die toewyding verstewig om die klem op goeie omgewingspraktyke en plaaslike, volhoubare projekte te plaas.

“Stellenbosch se sukses is te danke aan die unieke kombinasie van verskeie belangrike faktore. Dit sluit onder meer in die gehalte van en die aantal wynkelders, die skoonheid van die natuurlike omgewing, samewerking en die beskikbaarheid van kultuurtoerisme wat bydra tot wyntoerisme,” sê Ratcliffe.

“As die land se eerste én grootste wynroete sal Stellenbosch Wynroetes aanhou om die weg te baan. ’n Deel van ons mandaat is om met die plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede te skakel oor sake wat ons lede en die bedryf raak. Ons sal klimaatsverandering kollektief as lid van die Porto-protokol aanpak en die maatskaplike agenda daarvan help bevorder.

“Stellenbosch erken die leierskaprol wat dit met klimaatsverandering en maatskaplik-ekonomiese aangeleenthede moet speel. Ons is toegewyd daaraan om omgewingsbewaring en maatskaplike samehorigheid te bestuur en goeie waardes onder al ons aandeelhouers te vestig.”

Ratcliffe meen die uitwerking van die Covid-19-pandemie het weer gewys hoe gemeenskappe in krisistye saamstaan. Die bedryf het in die verlede self onbeskryflike krisisse aangepak en oorkom.

Vinpro raam dat inkomste van meer as R2,5 miljard  van Maart tot Julie 2020 verloor is, waarvan die meeste verliese in die wynproelokale gely is.

Toe die Covid-19-pandemie uitbreek, het Stellenbosch onmiddellik ingegryp om ekonomies kwesbare mense in en om die wynland te help. Van hierdie inisiatiewe was Stellenbosch Unite, waardeur 690 000 mense met 207 000 liter sop en 36 800 kospakkies gevoed is.

Vanjaar het die roetes die skenking van sorgpakkies aan personeel in die mediese bedryf, wat verpleegsters, skoonmakers, portiere, sekuriteitswagte, administratiewe personeel, kliniekwerkers en ondersteunende personeel insluit, gekoördineer.