Dié maatskappy se beeskudde bestaan uit net meer as 500 000 beeste en tog verteenwoordig dit net 2% van Australië se beesvleisproduksie.

Australië het 25 miljoen beeste en 68% van sy beesvleis word uitgevoer. Die belangrikste handelsvennote in die beesvleisketting is Japan, Amerika, Suid-Korea en China, maar Strong sê Europa speel ’n al hoe belangriker rol omdat die Australiërs hulle nou daarop toespits om hoëwaardeprodukte na nismarkte in Europa uit te voer.

Namibië se lof besing

Op die Aldam-veeskool het Strong gesê daar kan baie geleer word by uitvoerlande soos Namibië. “Ek het in ’n stadium in Europa gewoon en was toe verstom en effe verontwaardig om te sien hoeveel beter die verpakking en aanbieding van Namibiese vleis op Europese winkelrakke is. Die beste Wagyu-snitte het afgesteek teen gewone beesvleis uit Namibië.”

Hy sê Australië het intussen sy benadering tot vleisuitvoer heroorweeg. Waar in die verlede spesifieke diere in voerkrale vir spesifieke markte gevoer is, word nou spesifieke snitte aan verskillende lande bemark. “Ons kies ook nie meer lande lande waarheen ons wil uitvoer nie, maar spits ons eerder toe op spesifieke kliënte met spesifieke produkte.”

Tot Aus$130/kg 

’n Voorbeeld van hierdie benadering is die uitvoer van Wagyu-snitte. “Ons verdien van Aus$12/kg tot Aus$15/kg vir gewone snitte, maar met ons filette verdien ons tot Aus$130/kg in Hongkong.”

Mnr. Mecki Schneider van Namibië het in sy aanbieding Strong se stellings beaam en gesê hoewel die grootste volume van Namibiese beesvleis na ander Afrikalande uitgevoer word, verdien die beesbedryf die grootste deel van sy inkomste in hoëwaardemarkte in Europa, veral Noorweë.