Prof. Eddie Webb, adjunkdekaan van navorsing en nagraadse studie aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit natuur- en landbouwetenskappe, sê al het verbeterde bestuurspraktyke en reproduksietegnologie die Suid-Afrikaanse beesvleisproduksie gebaat, word die bestaande tenologie nie behoorlik benut nie.

Webb het boere op die 10de Aldam-veeskool gemaan om die voordele van onder meer kunsmatige inseminasie (KI) te herontdek.

“Ons het ’n klomp tegnologie ten opsigte van reproduksiebestuur ontwikkel wat ’n groot verskil in die Suid-Afrikaanse vleisproduksie gemaak het. Min daarvan word eintlik toegepas,” sê hy. “Die bedryf hoef nie nuwe tegnologie te ontwikkel nie, ons moet eerder die bestaande tegnologie toepas vir beter genetiese vordering.”

Volgens hom is KI een van die eenvoudigste tegnologiese hulpmiddels wat die grootste impak gemaak het. “In Suid-Afrika word sowat 92% van KI-semen in die suiwelbedryf verkoop en net sowat 7% of 8% word deur die vleisbeesbedryf gebruik,” sê hy.

“KI as sodanig sal nie bevrugting of produksie verhoog nie, maar wel die gepaardgaande bestuurspraktyke wat KI moontlik maak. Die praktyke behels kunsmatige inseminasie saam met die sinchronisasie van estrus. Dít, reproduksiebestuur en beter rekordhouding verhoog die produksiepotensiaal in kuddes,” sê Webb. “In dié geval is dit nie ongewoon om danksy al die meegaande bestuursfaktore ’n verhoging van 15% tot 20% te kry nie.” Hy sê KI, die sinchronisasie van estrus en die toepassing van die aanbevole paringsgewig en -kondisie van vroulike diere is algemene faktore wat ’n kalfpersentasie van tot minstens 85% van bevrugting tot geboorte kan bewerkstellig.

“Produsente kan meer wins maak deur eerder die kalfpersentasie van hul kuddes te verhoog as om die speengewig van die kalwers te verhoog.