Vanjaar se Aldam-veeskool vind van 18 tot 20 Oktober by die Aldam-vakansieoord tussen Winburg en Ventersburg plaas. Wie kan beter kennis van plaaslike toestande hê én onder die voorste kenners op hul onderskeie gebiede tel as die deskundiges op vanjaar se program, vra dr. Michael Bradfield, organiseerder van die negende Veeskool.

Onder hulle tel mnre. Mecki Schneider, megaboer van Namibië, en Arthur de Villiers, asook bekende Bonsmara-stoetboer, Nic Serfontein wat die hele waardeketting in die vleisbedryf beter as enigiemand anders verstaan. Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van AgBiz, wat die vermoë het om die breër prentjie te sien, en mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, wat ’n besonderse toekomsvisie van dié bedryf het, neem ook deel.

Aan die kleinveekant gaan dr. Buks Olivier, voorste kleinveegenetikus, sy kennis met die boere deel. Ander sprekers is mnr. Marttin Seyfferdt wat vanjaar sy 50ste jaar as beoordelaar voltooi en internasionaal as een van die bestes beskou word en prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van die LNR-instituut vir Diereproduksie wat ten tye van sy studies vir sy doktorsgraad in diereteling aan die Universiteit van Colorado as die beste junior wetenskaplike aangewys is.

Dr. Phillip Strydom, navorsing-spanbestuurder in vleiskunde aan die LNR se Instituut vir Dierevoeding en –produksie, een van die voorste navorsers in vleiskunde, en prof. Kevin Kirkman, weidingspesialis aan die Universiteit van KwaZulu-Natal sal ook hul kennis deel.

Bradfield sê kursusgangers sal by dr. Andrew Magadlela, uitvoerende hoof van diereverbetering by die LNR, en by mnr. Aggrey Mahanjana, voorsitter van Nerpo, kan hoor wat die raakpunte tussen opkomende en kommersiële landbou is.

“Gewoonlik loop ’n mens een of twee van hierdie kaliber sprekers op ’n landbougeleentheid raak; op die Veeskool gaan boere sommer na álmal kan luister. Dit is hoekom die Veeskool Suid-Afrika se beste leerskool vir veeboere is en selfs op internasionale front kan saam gesels,” sê Bradfield.

Dit kos R6 950 (BTW uitgesluit) om ál drie dae by te woon. Dit sluit verblyf, alle etes, plaasbesoeke, lesings en afskrifte van die lesings in. Skakel Charmaine Alberts by tel 051 821 1783 of stuur ’n e-pos na: palberts@telkomsa.net om ’n besprekingsvorm te bekom.